ReconAfrica oor hidrobreking gebombardeer
Kommer oor die impak van toekomstige olie-ontginning in die Kavango, was gister in Windhoek aan die groot klok.
Ronelle Rademeyer – Die Kanadese olie- en gasmaatskappy ReconAfrica is gister tydens ’n openbare vergadering oor sy voorgenome tweedimensionele seismiese opnames in Kavango, met indringende vrae oor moontlike hidrobreking in die toekoms gepeper.
Gemoedere het by tye hoog geloop en me. Claire Preece, ReconAfrica se hoof van korporatiewe kommunikasie, is daarvan beskuldig dat sy neerhalend en aggressief is.
“Jy is neerhalend en onderskat die intelligensie van die gehoor. Ek was al in baie van hierdie olie- en gassessies en daar is nog nooit met my gepraat soos wat jy nou met ons praat nie,” het mnr. Pasquale (PV) Scaturra gesê. Hy is ’n geofisikus met 40 jaar ondervinding in dié bedryf.
Die vergadering is op aandrang van omgewingswetenskaplikes soos dr. Chris Brown, direkteur van die Namibië Kamer vir die Omgewing (NCE), in Windhoek gehou om meer belangegroepe die geleentheid te gee om vrae aan ReconAfrica te stel.
Die vergaderings word vir die omgewingsimpakstudie (EIA) vereis, maar het tot nou toe net in die Kavangostreke plaasgevind.
Dr. Sindila Mwiya van Risk-based Solutions is aangestel om die EIA voor te berei sodat ReconAfrica later vandeesmaand vir ’n omgewingsklaringsertifikaat (ECC) by die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme kan aansoek doen.
Die seismiese opnames kan nie geskied voordat dié sertifikaat uitgereik is nie.
ReconAfrica, wat nog nooit tevore ’n olie- en gasbron ontgin het nie, voer aan elektromagnetiese data toon die noordoostelike deel van Namibië en die noordwestelike deel van Botswana wat grens aan die Okavango- delta, ’n wêrelderfenisgebied, beskik oor ’n sedimentêre kom met olie- en gasvolumes gelykstaande aan die Midland-kom in Texas in die VSA.
ReconAfrica het reeds begin om die eerste van drie stratigrafiese gate te boor ten einde ’n studie van die geografie van die aardkors te doen. Die eerste gat word by Kawe suidoos van Rundu geboor.
Mwiya het verduidelik die eksplorasie is in sy kinderskoene en as die proses “met ’n rit vanaf Windhoek na Rundu vergelyk kan word, trek ReconAfrica nog nie eens by Okahandja nie”.
Mnr. Matt Totten, ’n Amerikaanse geoloog met jarelange ondervinding van aanlandige en aflandige olie-eksplorasiewerk by British Petroleum (BP), wou weet hoe ReconAfrica met soveel sekerheid kan sê olie sal net op die konvensionele wyse ontgin word en geen hidrobreking (onkonvensionele ontginning) sal geskied nie.
Die maatskappy het in die afgelope maande onder skerp aanvalle van omgewingsgroepe deurgeloop omdat hy in verslae aan voornemende beleggers na “onkonvensionele” neerslae verwys wat net met komplekse onttrekkingsmetodes soos hidrobreking ontgin kan word.
Preece het volgehou “die data toon baie duidelik dit is konvensionele olie en gas”.
“Julle het maar pas begin om die eerste gat te boor. Basies het julle nog geen data nie, buiten dít wat op onkonvensionele bronne dui,” het Totten volgehou.
KOMMER OOR WATER
Volgens Preece is hidrobreking “duur en baie onekonomies”.
Tutton het ook gesê “daar is ernstige kommer” oor die impak wat volskaalse olie-ontginning in die toekoms op Windhoek se watervoorsiening kan hê.
Hy het dit gesê met verwysing na ’n vroeëre studie om ’n pyplyn vanaf die Okavangorivier na die sentrale gebied in Namibië aan te lê.
Een van Namibië se mees ervare geoloë, dr. Roy Miller, het talle tegniese vrae oor prosedures en metodes aan mnr. Raydel Toirac Proenza, gestel. Hy is by die boor van die stratigrafiese gat betrokke.
Mwiya het in sy voorlegging gesê die tweedimensionele seismiese opnames sal langs bestaande paaie oor ’n afstand van 450 km gedoen word.
Volgens hom is die toerusting wat gebruik gaan word omgewingsvriendelik, die impak is min en geen plofstowwe sal gebruik word nie.
Prof. André du Pisani, ontleder en filosoof, het gesê “die kwessie is nie tegnies van aard nie, maar moreel”.
Hy sê die impak oor die lang termyn op die omgewing en gemeenskappe is een van “stadige geweld” en “toksiese geografieë”.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie