• Tuisblad
  • Sake
  • ReconAfrica se optrede 'onortodoks, ondeursigtig'
ReconAfrica se optrede 'onortodoks, ondeursigtig'
ReconAfrica se optrede 'onortodoks, ondeursigtig'

ReconAfrica se optrede 'onortodoks, ondeursigtig'

Die inligting wat ReconAfrica met die publiek deel en aan beleggers voorhou, is volgens kundiges nie die volle prentjie nie.
Andrew Poolman
Ronelle Rademeyer – Die parlementêre komitee op natuurlike hulpbronne het gister gehoor bestaande geologiese data oor die beskikbaarheid van olie- en gas in die Kavango-kom, stem nie ooreen met dit wat die Kanadese oliemaatskappy Reconnaissance Energy Namibia (ReconAfrica) aan beleggers voorhou nie.

“Die storie wat hulle met die publiek deel, is nie so grondig soos wat hulle voorgee nie.”

Só sê mnr. Matt Totten, 'n geoloog wat in olie- en gaseksplorasie spesialeer en tevore vir British Petroleum (BP) in die VSA gewerk het.

Totten was op 'n paneel wat dié parlementêre komitee gister namens Save Okavango's Unique Life (Soul) toegespreek het.

Dit is 'n alliansie van bykans 80 plaaslike en internasionale burgerlike organisasies en aktiviste wat wil hê 'n moratorium moet geplaas word op ReconAfrica se soektog na olie in die Kavangostreek.

Soul vra ook die Namibiese regering moet opdrag gee dat 'n oorgrens- strategiese omgewingsondersoek (SEA) gedoen word wat die impak van die eksplorasie en voorgenome ontginning bepaal op al die lande wat die Kavangorivier deel.

Totten sê ReconAfrica se werkwyse sover is “onortodoks”. “Hulle boor eers die toetsgate en doen dan die seismiese opnames, terwyl dit eintlik andersom moet geskied.”

ReconAfrica het 'n geologiese datastel van 'n magnetiese opname by Namcor gekoop en net op grond daarvan bepaal waar die toetsgate geboor moet word.

Dit is ook op grond van hierdie data­stel dat dié groentjie in die olie- en gasbedryf in voorleggings aan voornemende beleggers volgehou het hy het “'n massiewe petroleumbron in die Kavango-kom ontdek”. Dié bron “kan miljarde vate olie” lewer, sê ReconAfrica in sy voorleggings.

Volgens Totten is die toetsgate se impak op die omgewing veel groter as dié van die seismiese opname. Hy sê normaalweg word die seismiese data gebruik om te bepaal waar die toetsgate geboor moet word.

Mnr. Max Muyemburuko, voorsitter van die Streekbewarings- en gemeen­skapsbosbouvereniging vir Kavango-Wes en -Oos, het aan die komitee gesê ReconAfrica het nie uitvoering gegee aan die wet op grond se vereiste wat bepaal voordat enige ontwikkeling in 'n bewaringsgebied gedoen word, moet die ontwikkelaars eers met die bestuurskomitee van die bewaringsgebied daaroor vergader nie.

Verder, sê hy, het ReconAfrica sonder konsultasie of vooraf kennisgewing die natuurlike woud en landerye wat wettiglik deur die Kalenga-familie by Mbambi in Kavango-Oos benut word, vernietig om die terrein vir sy tweede toetsgat voor te berei. Hulle vra nou in die hoërhof vir 'n bevel wat ReconAfrica gelas om pad te gee van hul kommunale grond af en die gebied te herstel soos dit voorheen was. Dié aansoek word komende Maandag gehoor.

Dit was nadat pastoor Andreas Mawano sy kommunale tuiste by Kawe waar die eerste toetsgat geboor is, op soortgelyke wyse verloor het.

Muyemburuko sê ReconAfrica het eers ná hy reeds die grond by Kawe en Mbambi skoongemaak en begin boor het, by die Kavango-Oos kommunale grondraad aansoeke ingedien om die grondregte vir die benutting van dié grond vir hul werksaamhede te bekom. Advertensies hieroor het eers op 14 Mei in koerante verskyn.

Totten sê of ReconAfrica nou olie gaan ontgin of nie – die Kavango en sy mense gaan daaronder ly.

“Hulle plaas gemeenskappe onnodig onder druk. Hulle gee nie gehoor aan die beste internasionale praktyke nie en tree nie op in belang van die gemeenskappe nie,” sê hy.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!