ReconAfrica wil belange in Kavango uitbrei
ReconAfrica wil belange in Kavango uitbrei

ReconAfrica wil belange in Kavango uitbrei

ReconAfrica verstewig binnekort sy houvas op olie-eksplorasie in die noordooste van die land, met die staat wie se belange al kleiner word.
Ronelle Rademeyer
Sakeredaksie - Die Kanadese olie- en gasmaatskappy Reconnaissance Energy Africa (ReconAfrica) wil sy belange in die Kavango- sendimentêre kom verstewig waar hy hoop om in die afsienbare toekoms olie te ontgin.

Die maatskappy het ’n onderneming aangegaan met sy Namibiese vennoot, die staatsbeheerde Nasionale Petroleummaatskappy van Namibië (Namcor), om die helfte van die 10%-aandele wat Namcor in die ongeveer 6,3 miljoen hektaar petroleumeksplorasielisensie (PEL 73) in die Kavango-kom het, óók te bekom.

Dié genoteerde maatskappy sê in ’n aankondiging aan sy beleggers hy sal in ruil vir die bykomende 5% van die belange in die PEL, vyf miljoen gewone ReconAfrica-aandele met ’n totale waarde van C$31,75 miljoen aan Namcor oordra. Dit is sowat N$388,5 miljoen teen die huidige wisselkoers.

ReconAfrica sal boonop US$2 miljoen kontant aan Namcor betaal, wat sowat N$31 miljoen beloop.

“ReconAfrica en Namcor sal teen 17 Februarie 2022 ’n wedersyds aanvaarbare ooreenkoms en ander verwante dokumente onderteken wat die bepalings en voorwaardes van die transaksie uitstippel, insluitend dít wat gebruiklik is in internasionale olie- en gastransaksies,” sê ReconAfrica in ’n verklaring.

Die beklinking van die transaksie sal na verwagting teen 30 Maart plaasvind en is onderhewig daaraan dat die maatskappy al die nodige regulatoriese goedkeurings ontvang. Dit sluit in dat die Kanadese aandelebeurs, TSX Venture Exchange, die uitreiking van die aandele as teenprestasie vir die transaksie aanvaar, het ReconAfrica Maandag gesê.

“Ons is verheug om hierdie strategiese en wedersyds voordelige transaksie met ReconAfrica aan te gaan. Die transaksie versterk Namcor se balansstaat aansienlik sonder dat groot koste aangegaan is, en bied ook aan Namcor blootstelling aan die hele Kavango- sedimentêre kom in Namibië en Botswana,” sê die besturende direkteur van Namcor, mnr. Immanuel Mulunga.

“Namcor het die grootste vertroue in ReconAfrica, aangesien die maatskappy hom bewys het as 'n verantwoordelike operateur in ons land met ’n uitstekende rekord in die uitvoering van sy werksverpligting,” sê hy.

Die Namibiese regering het intussen gister in ’n verklaring gesê hy is “opgewonde” daaroor om dié nuwe era in olie- en gasontginning in die land te betree.

Die regering het Shell, Qatar Energy en Namcor geluk gewens met die onlangse aflandige ontdekking van olie in die Oranje- sedimentêre kom.

Dié gesamentlik oliesoektog by Graff-1 sowat 250 km vanaf die Namibiese kus, het in Desember begin. Boorwerk is vroeër vandeesmaand voltooi nadat koolwaterstowwe in die vloeistof- en klipmonsters in die primêre en sekondêre teikengebiede gevind is.

Verdere eksplorasiewerk moet gedoen word om die omvang en ontginningspotensiaal vas te stel.

Namibië het verlede jaar by die Verenigde Nasies (VN) se klimaatberaad, COP26, sy plan aangekondig om een van die wêreld se grootste verskaffers van groen waterstof te word in ’n poging om weg te stuur van fossielbrandstowwe.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!