Red plaaslike musiek
Red plaaslike musiek

Red plaaslike musiek

Te danke aan ’n inisiatief wat die plaaslike musiekbedryf ’n hupstoot wil gee, word ’n nuwe album, wat slegs oorspronklike plaaslike musiek bevat, binnekort vrygestel.
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis - Weens die impak van die Covid-19-pandemie en die inperking wat daarop gevolg het, is baie Namibiese kunstenaars hul inkomste kwyt. Musikante is onder dié wat die hardste getref is, aangesien hulle tot dusver nie kon munt slaan uit Facebook- of YouTube-uitsendings nie.

Daar word dikwels beroepe op Namibiërs gedoen om nou meer as ooit die plaaslike kunsbedryf te ondersteun. Verskeie inisiatiewe is intussen gebore om dié doel te bevorder.

Nam Muso ResQ is een van dié inisiatiewe. ’n Album is vervaardig met die doel om plaaslike musikante se loopbane gedurende die moeilike tyd te bevorder. Die inisiatief is moontlik gemaak met ’n borgskap van Tephcor Group. Die album bevat ’n samestelling van oorspronklike liedjies, opgevoer deur die room van die Namibiese musiekbedryf. Die album sal middel-Junie beskikbaar wees.

Kunstenaars soos Len Nel, Jo Nichol, Leon Jacobs, Jacob & Taylor en Vaughn Ahrens is onder meer deel van die projek. Nog 16 ander musikante buiten die bogenoemdes se name pryk agterop die album.

Mnr. Paul Herbst, die meesterbrein agter die projek, het gesê hy is spyt dat nie meer plaaslike musikante se snitte op die album kon verskyn nie.

“Ek kon ongelukkig nie elke musikant in die land insluit nie, al wou ek hoe graag. Ek moes êrens begin en moes weens geweldige tydsdruk baie vinnige besluite neem en baie moeilike keuses maak. Dit reflekteer geensins my gesindheid teenoor enigiemand wat nie op hierdie album is nie.”

Herbst se snit “Wildest Dreams” verskyn ook op die album. Hy het mense op Facebook bedank vir die positiewe reaksie op die album, asook die Tephcor Group vir hulle bydrae.

“Party volg, ander lei. Julle is ’n skitterende voorbeeld van hoe moeilike omstandighede oorwin word met positiewe daadwerklike dade,” lui die inskrywing.

Herbst het klem daarop gelê dat al die materiaal vir die album oorspronklik moes wees – deels omdat daar nie genoeg tyd was om kopiereg te bekom nie, maar ook om Namibiërs se skryfvernuf ten toon te stel.

“Ek glo dit is hoog tyd dat ons skryftalente vir ‘n slag in die kollig is. As dit by internasionale optredes, mediadekking en speeltyd kom, is die een reuseaanklag teenoor Namibiese kunstenaars nog al die jare dat hulle nie oorspronklike materiaal lewer nie. Hierdie aanklag kan nou uiteindelik uit die hof gegooi word. Mag die ink van nou af nooit opdroog nie.”

Daar is glo reeds sprake van ’n tweede album, mits ’n borg weer bereid is om sy naam aan die projek te koppel.

Herbst sê hulle hoop om selfs meer kunstenaars by die volgende album te betrek. “Party mense kon oor verskeie redes nie betyds materiaal vir die projek beskikbaar hê nie en het dus nie hierdie uitgawe gehaal nie. Ek hoop ons sien julle almal met die opvolg,” skryf hy.

“Baie dankie aan Hannes Kaufman, Landi, Len & Joretha Nel, Blikweg, Vaughn Ahrens, Jacob & Taylor, Joggie en Thysa wat hulle materiaal beskikbaar gestel het, maar ook terselfdertyd sonder aarsel hulle verdienste van die projek aan die res van die mense op die album geskenk het.

Dit is hierdie tipe onbaatsugtige gebare wat hierdie een van die mees spesiale projekte maak waaraan ek nog gewerk het. Hierdie album is soveel meer as net ‘n klomp snitte op ‘n album. Kyk tussen die lyne en julle sal sien wat ons bedryf en sy mense nog al die jare so spesiaal maak,” sluit hy die Facebook-inskrywing af.

“Ek het my liedjie aan die projek geskenk, want ek dink dis ’n wonderlike manier om musikante wat swaar kry in dié moeilike tyd te help,” het een van die bekendste plaaslike musikante, Vaughn Ahrens, gesê.

Die album word tans in Suid-Afrika gedruk en sal eersdaags beskikbaar wees. Die album kos N$150. ’n Aanlyn weergawe van die album word ook tans ontwikkel. Besoek Nam Muso ResQ se Facebook-blad om ’n bestelling te plaas of vir meer inligting.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!