Red TransNamib, pleit sy werkers

Geen veiligheidsoudit is gedoen nie en veiligheidskomitees bestaan nie, terwyl werknemers nie met veiligheidstoerusting toegerus word nie, is van Natau se klagtes oor wanbestuur.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die waarnemende algemene sekretaris van die Namibiese Unie vir Vervoer- en Verwante Werkers (Natau), me. Narina Pollmann, het Vrydag werknemers van die staat se spoorwegmaatskappy TransNamib gelei in 'n optog na die kantoor van die ministerie van staatsondernemings (SOE's).

Die vakbond eis dat die minister van SOE's, mnr. Leon Jooste, by TransNamib ingryp om die spoorwegonderneming van dieselfde lot as Air Namibia te red.

“Ons staan hier voor u, met die oortuiging dat u eerbare minister, sal luister na ons pleidooie. Ons het alle interne roetes uitgeput en soek dus u dringende ingryping en dat ons TransNamib kan red van die versmorende stadige dood wat dit noodgedwonge moet deurgaan. Dis presies waardeur ons nasionale lugredery moes gaan en hoekom dit in die toestand is waarin dit nou is,” het sy gesê.

Met verwysing na Johny Smith as uitvoerende hoof sê Pollmann: “Die huidige kaptein/opsigter van die maat­skappy het geen idee wat hy doen of wat in die maatskappy aangaan nie, soos hy self verskeie kere erken het in gesprek met werknemers oor vrae in verband met die stand van die maatskappy.

“Dit blyk almal in be­stuur doen net soos hulle voel sonder aanspreeklikheid vir hul dade of die nagevolge daarvan,” sê sy.

Die vakbondleier het uitgewys TransNamib is in 1998 deur wetgewing gestig, maar ten spyte van verskeie afwykings van die wet – om paddienste en oornagpassasiersvervoer af te skaf – is die betrokke wet nooit verander nie. Padbedrywighede is gestop en passasiersdienste is skielik opgeskort sonder 'n voldoende rede, sê sy.

Die afname in passasiers was weens wanbestuur en die afkeuring van insette vanaf werknemers, sê sy.

“Dit blyk die bestuur het 'n agenda om die stelsel te frustreer en sodoende die aandeelhouer te oortuig om hul uiteindelike plan uit te voer, dié van afdanking onder valse voorwendsels,” sê sy.

Die vakbond se klagskrif lys onder meer die verlies van besigheid; onregverdige arbeidspraktyke en eensydige verandering van diensvoorwaardes; verontagsaming van maatskappybeleide; 'n tekort aan mannekrag; opleiding en opvolgerontwikkeling; verontag­saming van maatskappyprosedures; verswakte verhoudings met werknemers wat lei tot verhoogdes prokureurs- en konsultantfooie; die misbruik van pensioenfondsreëls; en 'n tekort aan gesondheids- en veiligheidsvoorsorg wat bydra tot meer gereelde ontsporings.

Geen veiligheidsoudit is gedoen nie en veiligheidskomitees bestaan nie, terwyl werknemers nie met veiligheidstoerusting toegerus word nie, sê sy.

“Die inspeksietrollies wat verkry is en wat bewys is dat dit nie aan Namibiese spoortoestande voldoen nie, is ná die uitvoerende hoof se vreugderit na Gobabis afge­skryf en het uiteindelik aan die brand geslaan en tot as verbrand weens hoë gras naby die spoor. Dis aangesien die spanne van DM Rail aangestel is om die onderhoud te doen, en ons werknemers tot aanmeld en uitklok verneder is,” lees die klagskrif.

Diensvlakooreenkomste is ten gunste van kliënte en dien nie TransNamib nie, ten spyte van insette van werknemers, sê sy.

'n Brandstofmaatskappy gebruik byvoorbeeld TransNamib se brandstoftenkwaens as stoorfasiliteite, sê sy, terwyl die bestuur werknemers se voorstelle nie ernstig opneem om fooie te verhoog om die tenk­waens wat stilstaan, te ontmoedig nie, sê sy.

As Jooste nie optree nie, sal die vakbond die kantoor van president Hage Geingob nader, sê Pollmann.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!