Redakteursforum vereer Gwen Lister
Redakteursforum vereer Gwen Lister

Redakteursforum vereer Gwen Lister

Plaaslike erkenning kom uiteindelik
Dani Booysen
“Die pen was ’n ewe belang­rike wapen in die bevryding van ons land,” het die adjunkminister van inligting en kommunikasietegnologie, mnr. Stanley Simataa, benadruk. Die geleentheid was toe Gwen Lister vir haar bydrae tot mediavryheid in die land en die res van die wêreld met ’n spesiale toekenning deur die Redakteursforum van Namibië (EFN) beloon is.
Simataa het Lister uitgesonder as ’n absolute voorbeeld van beginselvastheid weens die manier waarop sy reeds voor onafhanklikwording ’n stem aan stemloses gegee het.
Hy het dit as ’n groot eer vir Namibië bestempel dat die huidige Wêrelddag vir Persvryheid (3 Mei) hier gestalte gekry het ná die aanvaarding van die Windhoek Deklarasie deur Afrika-joer­naliste in Windhoek 25 jaar gelede. Lister het ’n leidende rol in hierdie beraad in 1991 gespeel.
“Ek het gewonder of hierdie ‘whitey’ sal oorleef?” het Simataa volgens hom destyds gewonder toe hy Lister in die stigtingsjare van die Namibiese Studenteorganisasie (Nanso) by Döbra ontmoet het.
Lister is al verskeie kere internasio­naal bekroon, maar nog nie op eie bodem nie.
Joseph Ailonga, voorsitter van die Redakteursforum van Namibië (EFN), het die voormalige redakteur vanThe Namibian en voorsitter van die Namibia Media Trust as ’n wêreldbekende strydikoon bestempel.
As eregas by die oorhandigingsdinee het adv. Pansy Tlakula, voorsitter van die Afrika-kommissie vir Mense- en Volkeregte, daaraan herinner dat Lister ook Suider-Afrika se heel eerste vroulike redakteur was.
Lister het volgens mnr. Theo-Ben Gurirab, onder andere ’n vorige eerste minister, ’n sleutelrol gespeel om kommunikasie uit die land na die Verenigde Nasies te verseker. Daarvoor verdien sy volgens hom erkenning as ’n belangrike “vryheidsvegter”.
Lister het dit as ’n groot eer bestempel om uiteindelik ook op eie bodem deur haar eweknieë erken te word. “Ek is gewoond om eerder kritiek as komplimente te ontvang,” het sy opgemerk.
“Joernalistiek was vir my nooit net ’n werk nie. Dit was waarvoor ek lief was en waarin ek geglo het. Dit is steeds my lewe. Ek beplan glad nie om binnekort af te tree nie.”
Alle vorme van joernalistiek is volgens Lister belangrik, maar dit is noodsaaklik om vir randgroepe en vir dit wat goed, reg en regverdig is, die stryd te stry.
Sy het verskeie herinneringe uit haar loopbaan opgediep, byvoorbeeld toe sy in 1981 die eerste keer vir mnr. Sam Nujoma in Parys ontmoet het. Dr. Hage Geingob het ’n foto wat uit fokus was, van haar en Nujoma geneem wat Lister laat opmerk het dat sy die huidige staatshoof spottenderwys laat weet het dat sy hom nooit as joernalis sou aanstel nie.
Volgens Lister kan Namibië ’n veel groter rol speel om mediavryheid in ander Afrika-state te bevorder. Wat die huidige debat oor staatsbeheer oor die media betref, moet selfregulering volgens Lister skeptici en teenstanders verkeerd bewys.
Onafhanklike media bly volgens Simataa saam met vryheid van uitdrukking noodsaaklik om demokrasie in stand te hou en menseregte te bevorder. Sodoende kan burgers ingeligte besluite neem waarmee hulle regeringsbesluite, beleid en baie ander kritieke kwessies kan beïnvloed. “Die media moet daarom mense se ore en oë wees.”
Die adjunkminister het gesê dit is natuurlik dat regerings soms swaarde met die media kruis, maar volgens hom is daar in Namibië ’n baie goeie verhouding tussen hierdie partye. “Die media mag nie voor dreigemente en moeilike omstandighede swig nie.
“Moenie ophou doen wat julle doen nie,” het Simataa oor die belang van goeie joernalistiek gesê. “Ons sal voortgaan om ’n gunstige atmosfeer hiervoor te skep.”
“Mense moet besef hulle is in beheer en die regering moet hulle dien,” het Gurirab oor dieselfde beginsel opgemerk.
Die dinee van 15 September was deel van ’n konferensie wat op 16 September in Windhoek aangebied is ter voorbereiding van die viering van die Internasionale Dag vir Universele Toegang tot Inligting, wat op 28 September vanjaar die eerste keer wêreldwyd gevier sal word. Die konferensie is aangebied deur Unesco, die media-afdeling van die Friedrich Ebert-stigting en ander vennote.
Die EFN beoog soortgelyke toekennings in die toekoms.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!