Reddingsplan kom vir melkbedryf
Die landbouminister sal binne twee weke terugvoering hê oor die haalbaarheid van voorstelle waarop ’n reddingsplan vir die melkbedryf geskoei is.
Ronelle Rademeyer - Ná drie vergaderings met die minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein, kan die handjie vol oorblywende melkboere en die suiwelverwerker, Namibia Dairies, uitsien na ’n reddingsplan vir dié steierende bedryf.
Schlettwein het vandeesweek reageer op vrae oor besluite wat tydens die vergaderings geneem is, en gesê verskeie voorleggings is op tegniese, bestuurs- en ministeriële vlak gemaak.
Dit sluit in die moontlikheid van subsidies vir insette soos veevoer, veterinêre dienste, water en elektrisiteit.
Tweedens gaan gekyk word na tariefbeskerming en invoerbeperkings vir die suiwelbedryf.
Nog ’n moontlike oplossing is voer op groter skaal by private en openbare groenskemas te verbou.
Vierdens sal gekyk word hoe stygings in die prys van suiwelprodukte verhoed, of pryse selfs verlaag kan word.
Laastens, sê Schlettwein, sal standaarde opgestel word om seker te maak ingevoerder melk is hormoonvry en bevat nie antibiotika nie.
Die plaaslike melkbedryf roem hom daarop dat dié hoë gesondheidstandaarde vir plaaslike produsente geld en Namibiese verbruikers het die gerustelling van ’n veilige melk.
Namibia Dairies was egter genoodsaak om ’n ooreenkoms aan te gaan met ’n verskaffer in Suid-Afrika vir die invoer van langlewemelk (UHT), wat hier onder die Namibia Dairies-handelsmerk verkoop word.
Melkprodusente in Suid-Afrika is nie verbind tot hormoon- en antibiotikavrye produksie nie, behalwe dié wat melk aan Woolworths lewer.
Me. Leonie Prinsloo, besturende direkteur van Namibia Dairies, het vroeër aan Republikein verduidelik langlewemelk kan vanweë die dalende roumelkvolumes nie meer kostedoeltreffend in Namibië verpak word nie.
Sy sê om die aanleg nie teen ’n verlies te bedryf nie, moet Namibia Dairies in staat wees om tussen 800 000 en 900 000 liter langlewemelk per maand te verpak.
Die hoeveelheid roumelk wat die tien oorblywende melkprodusente en die Aimab Superplaas tans lewer, is nie genoeg nie.
Produksie het van 24 miljoen liter melk in 2018, geval tot sowat 16 miljoen liter vir 2020, het mnr. Kokkie Adriaanse, voorsitter van die Suiwelprodusentevereniging (SPV), tydens ’n onlangse besoek aan sy plaas by Mariental gesê.
Schlettwein sê daar is verskeie wetlike, finansiële en praktiese kwessies aan elk van hierdie voorstelle verbonde. “’n Tegniese span bestaande uit verteenwoordigers uit die melkbedryf en amptenare in my ministerie sowel in die ministerie van nywerheidsontwikkeling en handel het opdrag om al dié aspekte te ondersoek en binne twee weke terugvoering te gee oor die mees lewensvatbare en bekostigbare benadering,” sê die minister.
Hy sê sodra hy dit ontvang het, sal hy dié reddingsplan aan die kabinet vir goedkeuring voorlê. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie