Redefine bly robuus in moeilike mark
Elma Kloppers
In ’n moeilike mark waar wisselvalligheid maatskappye kan laat kleitrap, het die genoteerde eiendomsbeleggingstrust (reit) Redefine Properties ’n robuuste vertoning in die halfjaar tot einde Februarie gelewer.
In dié tydperk het Redefine se uitkering met 6,9% toegeneem tot 41,7c per aandeel en sy uitkeerbare verdienste met 29,3% gestyg tot R1,9 miljard.
Andrew König, uitvoerende hoof van Redefine, sê die makro-ekonomiese omgewing, wat grootliks geraak word deur Suid-Afrika se dreigende afgradering na rommelstatus, die stand van die ANC se leierskap en die brose globale ekonomiese groei, druk swaar op onderliggende eiendomsbeginsels.
Teen dié agtergrond sit Redefine sy skerp fokus op bedryfsdoeltreffendheid voort en het hy van sy strukture herskik om die nuwe eise wat aan hom gestel word beter te kan hanteer.
König sê die plaaslike strategiese fokus is op die herontwikkeling van bestaande eiendomme. In die oorsigtyd is ontwikkelings en herontwikkelingsprojekte ter waarde van R1,8 miljard voltooi. Nuwe ontwikkelings ter waarde van R2,3 miljard is tans aan die gang.
R1,1 miljard daarvan is op kleinhandeleiendom gefokus, onder meer die uitbreiding en opgradering van die Centurion Mall.
Ontwikkelingsgeleenthede vir nuwe nywerheidseiendomme bly hoog op die agenda. Redefine het ’n gesamentlike ondernemingsooreenkoms met Pivotal en Abland aangegaan ingevolge waarvan Redefine ’n belang van 45% verkry het in S & J Land, wat 160 ha prima nywerheidsgrond in Germiston behels.
Redefine se voortgesette buitelandse strategie is om munt te slaan uit aantreklike inkomste-opbrengskoerse en gunstige skuldfinansiering.
Die maatskappy se buitelandse portefeulje gaan van 20% tot 25% toeneem sodra sy baanbrekerstransaksie in Pole afgehandel is.
Dié transaksie behels ’n aanvanklike 75%-belang in ’n kommersiële eiendomsplatform van €1,2 miljard in Pole.
König sê antitrust-klaring vir die transaksie is reeds verkry en dit behoort teen die einde van Mei afgehandel te wees.
“Die transaksie gaan ’n vermeerderende inkomste van 1c per aandeel tot die uitkering in die laaste kwartaal van 2016 bydra.”
- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie