Regbank: Staat staan nié pa vir traes

'n Taakgroep ondersoek tans hoe hofsake vinniger afgehandel en die borgtogstelsel getakel kan word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - “Ek wil julle waarsku: Daar is persoonlike nagevolge vir dié op die regbank wat nie hul werk behoorlik doen nie.

“Ons kán persoonlik voor die hof gedaag word.”

Regterpresident en adjunkhoofregter Petrus Damaseb het die waar­skuwing Maandag tydens die opening van 'n landdrosslypskool in Windhoek aan regslui gerig.

“Ek het pas vanoggend 'n uitspraak in die hooggeregshof gelewer waarin 'n eis teen die staat ingedien is omdat daar vir jare nagelaat is om 'n saak af te handel.

“Toe die uitspraak bespreek is, moes ons besluit oor die aanspreeklikheid van 'n lid van die regbank. Daar is besluit die staat sal nié pa staan vir die kwaadwillige, bedrieglike optrede van regbank-lede nie,” het hy gesê.

Damaseb sê hy is byvoorbeeld bewus van 'n saak wat reeds in 2013 in 'n landdroshof begin het, maar steeds nie verhoor is nie. Daar kan ook nie met sekerheid gesê word of dit in 2019 sal gebeur nie.

“As ek 'n lui regsbeampte is wat sewe jaar neem om 'n saak af te handel, en iemand was vir só lank in die tronk, kan hy daarna 'n saak teen my ­aanhangig maak. Dit is mense se lewe, hul integriteit en reputasie wat op die spel geplaas word.

“Daar is ernstige, persoonlike nagevolge vir ons op die regbank.”



PRESTASIEBESTUUR NODIG

Hy het gesê 'n ­robuuste ­prestasiebestuurstelsel moet vir lede van die regbank geïmplementeer word sodat howe meer doeltreffend kan werk.

“Al meer klagtes word ontvang oor howe wat nie betyds begin nie en landdroste wat nie beskikbaar is nie. Ons moet hieraan werk,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat geregtigheid wat vertraag word, eintlik die weerhouding daarvan is.

Damaseb het gesê 'n jare lange probleem is lede van die regbank se gebrek aan respek vir die 48 uur-reël, waarop die ombudsman hulle ook al gewys het.

“Ons praat al bykans 30 jaar lank oor basiese ­probleme soos hierdie.”

Hy het bygevoeg die vertraagde verwerking van rekords vir byvoorbeeld appèlsake in die hoërhof is 'n ernstige probleem, terwyl dit volgens wet binne sewe dae afgehandel behoort te wees.


PUBLIEK SE ­FRUSTRASIE

Hoofregter Peter Shivute het tydens die geleentheid gesê hy is bewus van die publiek se frustrasie met die regbank wat betref die toestaan van borgtog vir herhaaldelike oortreders, die lang tydperk tussen die inhegtenisneming van verdagtes en die aanstel van regsverteenwoordigers, die eerste hofver­skyning en die ­finalisering van sake.

“Ek erken in tye waarin alles voortdurend verander, het die strafregtelike vervolging-hervorming nie bygebly met ontluikende kwessies nie.

“Daarom is 'n strafregtelike vervolging-taakgroep gestig wat probleme moet identifiseer en oplossings moet voorstel wat betref die doeltreffendheid van ons stelsel,” het hy gesê.

Hy het verder bygevoeg dat landdroste, waar ­toepaslik, meer dikwels gemeenskapsdiens as straf vir wetsoortreders moet oorweeg.

TAAKGROEP

Damaseb het ook gesê wat betref stadige finalisering van sake, moet die regbank ophou om ander partye te blameer.

Die taakgroep moet ­ondersoek instel na die vertragings wat keer dat strafsake binne 'n aanvaar­bare tydperk afgehandel kan word.

“Die dae van mekaar oor-en-weer beskuldig is verby. Óns werk is om seker te maak mense kry 'n regverdige verhoor soos deur die wet voorgeskryf. Ons moenie toelaat dat die stelsel gebruik word om mense se regte te verydel nie.

“Dit is waar dat 'n groot deel daarvan te doen het met 'n gebrek aan geld, maar daar is dinge wat ons meer innoverend en slimmer kan doen.”

Damaseb het verder gesê die taakgroep het sleutelaksies geïdentifiseer, wat insluit die skep van ontvangshowe, landdroste op 'n 24 uur-basis beskikbaar te hê vir die uitreik van beskermingsbevele, die opleiding van die regbank, en om meer landdroste aan te stel om die agterstand in sake in te haal.

Hy het gesê nog 'n probleem van laer howe is die integriteit van data en die feit dat statistieke nie geredelik beskikbaar is nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!