u2018Regering betaal vir sy sondeu2019
u2018Regering betaal vir sy sondeu2019

‘Regering betaal vir sy sonde’

Buiten dalk vir nóg geld aan Air Namibia en ander kontantgestremde SOE’s verwag ontleders nie kishoue in die halfjaar-begrotingshersiening nie.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Vandag se halfjaar-begrotingshersiening sal waarskynlik gekenmerk word deur ‘n nóg groter skuldlas, min - indien enige - verligting en die swaard van sukkelende staatsondernemings soos Air Namibia en die Paaiekontrakteursmaatskappy (RCC) oor belastingbetalers se koppe.

Hoewel die Covid-ekonomie desperaat ‘n inspuiting benodig, twyfel ontleders of finansminister Iipumbu Shiimi enige beweegruimte vir betekenisvolle stimulus het in sy begroting wat vanmiddag in die parlement ter tafel gelê word.

“Ek dink die minister gaan geld van een begrotingspos na ‘n ander prober rondskuif. Maar met die Air Namibia- en RCC-sagas vrees ‘n mens hoër uitgawes,” sê dr. Omu Kakujaha-Matundu, ‘n senior lektor in ekonomie aan die Universiteit van Namibië (Unam).

Air Namibia staar volgende Maandag ‘n dringende likwidasie-aansoek in die Hoërhof in die gesig.

Gevra oor sy verwagtinge vir die hersiende begroting, het Kakujaha-Matundu aan Republikein gesê: “Nie veel nie.”

“Die minister gaan al die skuld vir die ekonomiese kwale op Covid-19-maatreëls of –beperkings pak wat die regering getref het om die pandemie in toom te hou. Maar ek wil graag weet van die regering se pad na ekonomiese herstel midde en post-Covid-19 en meer nog, die regering se planne om werk te skep,” het hy gesê.

Shiimi moet nie “eers daaraan dink” om hoër of nuwe belastings in te stel nie. Midde ‘n depressie sal dit selfmoord wees, aldus Kakujaha-Matundu.

SKULD

Die meeste ontleders verwag die regering se totale skuld vir 2020-’21 gaan die beraamde N$117,5 miljard van die hoofbegroting in Mei oorskry.

Me. Eloise du Plessis, navorsingshoof van PSG Namibia, sê die invordering van belasting is onder geweldige druk en Shiimi gaan nie staatsamptenare se salarisse in die hersiende begroting sny nie. Dus moet skuld styg.

Mnr. Bruce Hansen, die besturende direkteur van Simonis Storm sê ‘n “moeilike taak” en “komplekse uitdaging” wag op Shiimi.

Mnr. Eric van Zyl, IJG Securities se navorsingshoof, meen ‘n kombinasie van hoër skuld en spaargeld (die sogenaamde sinking fund) kan ingespan word om lewe in die ekonomie te blaas.

Volgens Cirrus Securities kan die moontlike lening van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) ‘n groot rol speel in die finansiering van vanjaar se rekordbegrotingstekort. Die regering het ‘n Julie ‘n leningsaansoek van SDR192 miljoen – meer as N$2 miljard – by die IMF ingedien om die impak van Covid-19 op Namibië te bekamp.

COVID-19

Kakujaha-Matundu sê Covid-19 het ontbloot net hoe swak die regering se geldsake die afgelope 30 jaar bestuur is – “misplaaste prioriteite soos die bou van kantore links en regs, oral heen reis, opgeblaaste salarispakkette van die base van verlieslydende staatsondernemings en ontelbaar baie slypskole ten koste van die instandinghouding van skole en hospitale en dienslewering in informele woonbuurte”.

“In die jaar van Covid-19 betaal die regering nou vir sy sonde,” sê hy.

Volgens Du Plessis is werklike beleidshervorming nodig – ‘n kleiner salarisrol, sakevriendelike beleidsrigtings en klein besighede wat anders as grotes benader word.

“Maar ek het optimisme verloor dat dit gaan gebeur,” sê sy.

Namibië wag in spanning op die bestedingsraamwerk oor die mediumtermyn (MTEF) in vandag se begroting, aldus Van Zyl. Toe Shiimi laat in Mei die hoofbegroting ingedien het, het dit nie projeksies vir die volgende paar jaar bevat nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer