Regering is buitelanders genadig
Regering is buitelanders genadig

Regering is buitelanders genadig

Die minister gee buitelanders, wat tans onwettig in die land is, tot einde Februarie kans om sonder vervolging Namibië te verlaat.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, mnr. Frans Kapofi, het grasie verleen aan diegene wat onwettig in Namibië is om die land voor 28 Februarie 2021 sonder vervolging te verlaat.

“Ons het sommige mense wat in huise en in ons dorpe wegkruip en bang is om omstandighede aan te meld. In sommige gevalle is hul toelaatbare verblyfsdae verleng, maar het dit egter verval en is hulle steeds in die land. Vir ander was hul geboortelande se grense gesluit, terwyl ander weer net eenvoudig in die land gebly het,” sê Kapofi.

Die ministerie het besluit om ’n uitsondering te maak ingevolge afdeling 39 van die wet op immigrasiebeheer. Die grasieperiode is vanaf 16 Desember 2020 tot 28 Februarie 2021. Buitelanders wat van dié vrystelling gebruik wil maak, kan by die ministerie se kantore op Rundu, Oshakati, Ondangwa, Keetmanshoop, Katima Mulilo, Swakopmund, Outapi en in Windhoek aanmeld.

Of die 232 onwettige buitelanders wat tydens die onlangse misdaadbekampingsveldtog, Operasie Basadi, in ­hegtenis geneem is gaan baat by dié grasieperiode, hang van die aanklaer-generaal (AG) af.

Nampa berig dat die uitvoerende direkteur van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, mnr. Etienne Maritz, gesê het hul lot lê in die AG se hande.

“Die besluit lê by die aanklaer-generaal. Ek is nog nie seker of hulle gedeporteer sal word nie. Ons kan net vir julle sê ná die hofverrigtinge voltooi is. Dus vir nou kan ek net sê ons wag op die aanklaer-generaal se besluit,” het Maritz geantwoord.

Die doel van die vrystelling is om mense buite die omvang van immigrasiewette in staat te stel, veral diegene met permitte wat reeds verval het, om Namibië te kan verlaat sonder vrees vir inhegtenisneming en vervolging, volgens Nampa.

Nampa sê die ministerie het aangekondig dat die Universiteit van Namibië (Unam) in samewerking met die Internasionale Organisasie vir Migrasie in ’n latere stadium moontlike finansiële hulp sal bied aan diegene wat bereid is om huis toe te gaan, maar nie die nodige fondse tot hul beskikking het nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer