Regering koop Peugeots

Meer as 130 voertuie is by POAN se aanleg op Walvisbaai gereed vir regeringsinstansies om te koop.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die minister van nywerheidsontwikkeling en handel, me. Lucia Iipumbu, het gister ontvangs van agt splinternuwe Peugeot-voertuie by die agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) se hoofkantoor in Windhoek geneem.

Ses van die 5008 model-voertuie is geoormerk vir haar ministerie se gebruik, en twee 3008's vir die agentskap. Die voertuie is op Walvisbaai by die Peugeot Opel Assembly Namibia (POAN)-aanleg gemonteer.

POAN is 'n gesamentlike onderneming tussen die regering (49%) se nasionale ontwikkelingskorporasie (NDC) wat sedertdien deel van Nida vorm, en die PSA Gruppe (51%) uit Frankryk, wat sedertdien deel van die reuse- Stellantis-groep geword het.

Die ministerie het deur sy begroting vir ontwikkelingsprojekte destyds die NDC ondersteun om die N$190 miljoen-aanleg te bou.

Iipumbu het gesê die aanleg, wat reeds in Desember 2018 deur president Hage Geingob geopen is, word deur uitvoertariewe gekniehalter. Die teiken om teen 2020 jaarliks 5 000 motors na die subkontinent uit te voer, is nooit verwesenlik nie.

Sy sê die 18%-uitvoertariewe hou implikasies vir die mededingendheid van POAN-produkte in, en vir die voortbestaan van die aanleg.

Uitvoertariewe word beïnvloed deur reëls van oorsprong wat vereis minstens 40% van motoronderdele moet binne Suider-Afrika verkry word, waaraan POAN nie voldoen nie.

Sy sê die kabinetsgoedkeuring in Desember 2019 van 'n nasionale beleidsraamwerk vir motorvervaardiging bied 'n oplossing vir die kwessie aan soortgelyke ondernemings wat in Namibië voertuie wil monteer.

Nadat Suid-Afrika, die streek se grootste motorvervaardiger, verlede jaar sy nuutste ontwikkelingsplan vir motorvervaardiging geïmplementeer het, sê sy die aanpassings vir Namibië se plaaslike aanneming van die plan sal die tariefkwessie oplos.

“Die ministerie van nywerheidsontwikkeling en handel het die finale konsepdokument vir finale hersiening en publikasie in die Staatskoerant ontvang,” sê sy.

Tans is daar is meer as 130 voertuie by POAN se aanleg, en Namibiese staatsondernemings, regeringsagentskappe en -kantore word aangemoedig om die vervaardiger te nader vir 'n toetsrit of om te koop, volgens die uitvoerende hoof, mnr. Robert van Rooijen.

Hy sê die aanleg vervaardig ook Peugeot 2008-modelle en Opel GrandLand- en Crossland-modelle, terwyl Peugeot volgende jaar 'n bakkie sal bekend stel wat ook by POAN gemonteer sal word.

Die voertuie is tans nie aan die publiek beskikbaar nie aangesien die gewysigde regulasies nog nie in die Staatskoerant gepubliseer is nie.

Volgens Van Rooijen is hy nie bewus van wat die nuwe regulasies behels nie, en die prys waarvoor die motors aan die publiek verkoop word, sal ook van die wysiging afhang.

POAN het tans 19 werknemers in diens, maar die getal sal groei tot 50 sodra die nuwe regulasies gepubliseer word, sê hy.

Nida se uitvoerende hoof, mnr. ­Heinrich Mihe Gaomab II, sê die moeilike proses om aansporings vir uitvoertariewe van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SACU) te kry sal deur sy ondervinding met die ­doeane-unie bespoedig en vergemaklik word.

Hy prys die ministerie van finansies se ondersteuning van regeringinstansies om self POAN-voertuie vir amptelike gebruik te koop.

Hy sê die publiek moet hul gereed maak om die land se ontwikkeling te ondersteun sodra die voertuie aan Jan Alleman verkoop kan word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer