Regering kry skuld vir SOE-gemors
Regering kry skuld vir SOE-gemors

Regering kry skuld vir SOE-gemors

Staatsdiensondernemings sal nie veel langer op hul louere kan rus nie, sê 'n senior amptenaar.
Denver Kisting
Denver Kisting



Die regering is 'n swak aandeelhouer.

Só het die adjunk- uitvoerende direkteur van staatsdiensondernemings, me. Louise Shixwameni, gister op die ontbytprogram Good Morning Namibia gesê.

Een van die vernaamste redes hoekom staatsdiensondernemings (SOE's) in soveel ellende gedompel is, is omdat dié instellings se rade “polities aangestel” word, het sy gesê. “Die leier­skap is nie reg nie.”

Dieselfde geld vir uitvoerende hoofde en bestuurslui wat die wa by ondernemings deur die drif moet trek, maar dit nie doen nie, het Shixwameni gesê.

Volgens haar is die begrote meer as N$4 miljard wat in die huidige finansiële jaar vir SOE's opsygesit is meer as genoeg vir die instellings se werksaamhede.

Trouens, besuiniging behoort ook vir SOE's te geld aangesien baie van dié instellings se salarisrekening buite beheer geraak het, sê sy.

Shixwameni het die regering ook gelooi omdat hy in sommige gevalle jare neem om 'n besluit te neem wat onmiddellike voorkeur moet geniet.

Teen die einde van die huidige boekjaar gaan álle SOE's 'n vorderingsbestuurstelsel hê wat deur die bank op almal – van bo tot onder – van toepassing gaan wees, het sy gesê.

Shixwameni het gesê die vorderingsvereistes sal openbaar gemaak word sodat Jan en San Alleman toegang daartoe kan hê.

Volgens haar was dít een van die besluite wat op verlede week se SOE-beraad op Swakopmund geneem is.

Dit sal hulle op hul tone en verantwoordbaar hou, sê sy.

Shixwameni sê hulle neem kennis van kritiek in die sosiale media waarvolgens daar dadels van dié besluite gaan kom.

“Maar ons is baie ernstig oor aksie en om resultate te kry.”

Sy sê SOE's moet die voortou neem om die land se ekonomie om te keer.

“SOE's moet die spilpunt van ekonomiese transformasie en verandering wees.”

SOE's sal ook meer op vernuwing moet fokus, sê sy.

“Dit is een van die goed (vernuwing) wat ons in die stadium nie doen nie.”

Shixwameni se uitlatings bevestig dié van mnr. Leon Jooste, die minister van staatsdiensondernemings, wat vantevore sy kommer uitgespreek het.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer