Regering nader hof oor onderwysstaking
Gebruik van onbetaalde vrywilligers ’n sleutelkwessie
Hoofredaksie
Die regering se prokureurs het laat Woensdag pleitstukke by die hoërhof ingedien waarin die hersiening van die reëls vir die dreigende onderwysstaking in die land versoek word.
Die saak sal Maandagoggend in die arbeidshof voorkom, drie dae voordat die staking sal begin.
Die werkgewer het die afgelope Maandag formeel ’n geskil oor die staakreëls by die Arbeidskommissaris verklaar.
Die regering het reeds aangedui dat hy dit nie as onwettig beskou om onbetaalde vrywilligers in te span om eksamens te laat vlot nie. Die Namibië Nasionale Onderwysersunie (Nantu) het hierdie plan verwerp. Die regering is ook nie tevrede dat stakers binne 500 meter vanaf skole mag betoog nie en betwis die kennisperiode wat gegee is.
Die visepresident, dr. Nickey Iyambo, het gisteroggend by die Agri Vooruitskouingskonferensie in Windhoek herhaal dat die regering nie koud staan teenoor die behoeftes van die land se onderwysers nie. “Dit is nie waar nie. Maar ons moet nou eers die mense van hierdie land kos gee, want ons beleef ’n erge droogte. Ons sê volgende jaar sal die 5%-aanbod verhoog word tot 7% of 8%.”
Iyambo het as openingspreker opgemerk dat die hof die laaste sê sal hê.
Nóg steun
Swapo se vakbondfederasie, die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW), het ’n beroep op alle vakbonde gedoen om agter onderwysers te verenig en die onwettige omseiling teen te staan van reëls wat gewoonlik tydens staking geld.
Sulke disrespek vir grondwetlik-beskermde werkersregte mag volgens die NUNW nie geduld word nie. Die NUNW verwerp ook spesifiek die inspan van vrywilligers.
Ook die Namibië Nasionale Studente-organisasie (Nanso) het gister opnuut sy steun aan Nantu en die staking toegesê. Nanso se adjunkpresident, mnr. Stanley Kavetu, het gesê die staking sal die boodskap duidelik oordra dat onderwysers nie meer armoede-aanpassings in hul salarisse sal aanvaar nie.
“Ons beskou julle stryd as ’n geveg wat in die hart van die stryd teen die korrupte, neoliberale elite lê, wat oral hulself verryk ten koste van die groter meerderheid. Onderwysers word te lank al baie min betaal. Hierdie lelike situasie duur al so lank voort dat die onderwysberoep nou deur almal as ’n grap beskou word,” het hy gesê.
Minister
“Die regering moet alle salarisskale vir onderwysers hersien om die beste studente na die beroep te lok.
“Die onderwysberoep het in ons gemeenskap en landwyd sy impak, respek en gesag verloor,” het Kavetu gesê.
Hy het die regering gewaarsku om dit nie te oorweeg om polisiebeamptes, soldate of enige beamptes in uniform te probeer gebruik om stakers se werk te doen nie. “Nanso sal skole eerder toemaak as die regering so iets probeer.
“Die regering gebruik al sy energie om vir die staking voor te berei, eerder as om dit te probeer vermy,” het Kavetu beweer. “Ons stem saam met Nantu dat ons vertroue in die minister van onderwys, kuns en kultuur verloor het en ons vra dat haar aanstelling hersien word.”
Volgens Kavetu het pres. Hage Geingob met die aanstelling fouteer. “Toe gratis laerskoolonderrig ingevoer is, was die materiaal laat en kinders het sonder boeke gesit. Hierdie jaar weer. Daar is geen onmiddellike, strategiese plan om die onderwysstelsel te red nie.”
Kavetu het ’n kabinetskommeling voorgestel. As me. Katrina Hanse-Himarwa nie sonder haar salaris kan klaarkom nie, kan sy volgens hom ’n minister sonder portefeulje word.
Volgens Kavetu moes die regering van die begin die hof genader het eerder as om nou daardie kaart te speel. Dit bewys na sy mening bloot die regering se arrogansie in die hele aangeleentheid.
Die aansoekers in die regsgeding is die eerste minister, Staatsdienskommissie en die minister van onderwys. Die respondente is Nantu, die Arbeidskommissaris, die bemiddelaar in die geskil en die hoof van die Namibiese polisie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie