Regering pleit, en dreig
Regering pleit, en dreig

Regering pleit, en dreig

Sou inwoners nie hul gewoontes verander nie, het die regering geen ander keuse as om strenger maatreëls voor die feesseisoen in te stel nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Met ’n gekombineerde 154 595 dosisse AstraZeneca en Sputnik 1 en 2 wat reeds nie meer vir gebruik geskik is nie en vernietig moet word, kan Namibiërs nou vir ’n bykomende derde dosis entstof van hul aanvanklike dosis gaan.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, is dit streng gesproke nie ’n “booster” nie omdat “ons nie bepaal of immuniteit afgeneem het nie”.

“Ons bied ’n bykomende primêre dosis. Dit hang van jou aanvanklike dosisse af en jy kan die entstof kry wat jy aanvanklik mee ingeënt is. As jy Sinopharm gekry het, dan kan jou ook Sinopharm (as derde dosis) kry,” het Shangula gesê.

Met verwysing na entstowwe wat vernietig moes word, het hy gesê dit is weens ’n kort raklewe of dit is blootgestel aan ’n sekere temperatuur tydens die vervoer daarvan.

Shangula het tydens ’n aankondiging dat 18 gevalle van die Omicron-variant in Namibië aangemeld is, gesê beskikbare inligting dui daarop huidige entstowwe is steeds doeltreffend om die risiko vir ernstige siekte, hospitalisasie en sterfte weens Covid-19 te verminder. Laasgenoemde het meestal onder dié voorgekom wat nie ingeënt is nie. Uit 19 weefselmonsters wat getoets is, het een positief vir Delta en 18 vir Omicron getoets. Terwyl van die gevalle geen simptome getoon het nie, het die meeste se simptome hoes, lyfseer en -keelseer ingesluit.

Met verwysing na die variant sê Shangula dit is oorwegend in Khomas aangeteken en kan vir die styging in nuwe gevalle in die streek verantwoordelik wees. Vanaf 1 tot 5 Desember is 695 nuwe gevalle in die land aangeteken waarvan 536 ofte wel 77% in Khomas was. Die minister sê tans word daar nie ’n toename in hospitalisasies ervaar nie.

Hy het gemaan Namibië is nog “baie ver weg” van kudde-immuniteit, met die hoop om soveel as moontlik inwoners so gou as moontlik in te ent.

“As ons dit nie doen nie, gaan ons aan golwe uitgelewer bly,” het hy gesê.

’n Strydlustige president Hage Geingob het tydens dieselfde geleentheid gesê dié wat nie teen Covid-19 ingeënt is nie, ondermyn die pogings van die regering om die dodelike virus te oorwin.

“Dié van julle wat nie ingeënt is nie, draai die vooruitgang terug wat ons in die stryd teen Covid-19 gemaak het. Dié van julle onder ons wat nie die gesondheidsprotokol in plek respekteer nie en weier om maskers te dra en sosiale afstand te handhaaf, draai die vooruitgang terug wat ons teen Covid-19 gemaak het,” het hy gesê.

Geingob het gemaan in ander dele van die wêreld word streng maatreëls ingestel op individue wat nie ingeënt is nie. Dit sluit verpligte inperkings met beperkings op hul beweging en sosioëkonomiese aktiwiteite in.

“Ongelukkig is ons nie verantwoordelik nie en plaas meer risiko op ander deur te weier om ingeënt te word gebaseer op argumente wat geen basis in wetenskap het nie,” het die staatshoof gesê.

Hy het beklemtoon entstowwe is veilig en mense is nog altyd teen verskillende vorms van siektes waaronder polio en masels ingeënt.

Geingob het verwys na noodsaaklike werkers waaronder oorgrens-vragmotorbestuurders wat weier om ingeënt te word en sodoende ’n reuselas op die land se ekonomie plaas.

“Mense raak kwaad omdat Botswana entstofmandate plaas op dié wat deur hul grense gaan. Botswana stop nie individue om deur die land te reis nie, maar vra bloot vir inentingspaspoorte. Die punt is, gaan vir die inenting. Die weiering om die entstofmandaat te aanvaar, is ’n onaanvaarbare stand van sake.”

Geingob het dit as “hoogs betreurenswaardig” beskryf dat die land gedwing word om meer as 150 000 entstowwe te vernietig wat verval het, omdat dié wat daarvoor in aanmerking kom, weier om ingeënt te word.

Sou inwoners nie hul gewoontes verander nie, gaan die regering geen ander keuse hê as om strenger maatreëls voor die feesseisoen in te stel nie.

“As gevalle aanhou styg en inwoners verander nie hul gedrag nie, sal dit die enigste redelike ding wees om te doen.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!