Regering plettervat skolesport
Die staat het hom onbereid verklaar om nasionale skolespanne se toere landuit op enige geldelike wyse te ondersteun.
Andrew Poolman
'n Moratorium is nie net vir skolesport 'n terugslag nie, maar vir die land se sport in geheel.
Só reageer mnr. Sollie Duiker, nasionale koördineerder van die Namibiese Skolesportunie (NSSU), op die moratorium vir 'n onbepaalde tyd wat die regering op nasionale sporttoere buite die landsgrense afgekondig het.
Die amptelike regeringsbrief is Maandag by Duiker se kantoor afgelewer, onderteken deur die ministerie van sport, jeug en nasionale diens se uitvoerende direkteur, me. Emma Kantema-Gaomas, waarin die NSSU ingelig word dat “alle sportprogramme buite die begroting” stopgesit word.
Duiker het die koerant verseker dat die wintersporte rugby, netbal en hokkie se tradisionele toere na provinsiale toernooie in Suid-Afrika gedurende Junie en Julie wel voortgaan.
“Ons het busvervoer buite die regering se bronne gereël gekry en die toerkoste word deur ouers en private borge gedra,” sê hy.
Kantema-Gaomas skryf in die ministeriële afkondiging: “Soos u bewus is, word die implementering van verskeie sportprogramme deur finansiële beperkings gekniehalter.
“Op grond van hierdie werklikheid word u hiermee ingelig dat geen geld beskikbaar is vir sportaktiwiteite tot verdere kennisgewing nie. Neem dus kennis dat alle internasionale sportaktiwiteite onder die NSSU tot verdere kennisgewing opgeskort word.
“Om te verseker dat leerders voortgaan om plaaslike aan sportaktiwiteite deel te neem, word die NSSU hiermee aangemoedig om met onmiddellike effek skoleliga-stelsels in streke, kiesafdelings of ander groeperings op die been te bring wat nie betekenisvolle implikasies van vervoerreëlings verg nie.
“Die NSSU word verder aanbeveel om weg te doen met enige stelsel van proewe om nasionale spanne te kies.
“Vir die komende Cossasa-spele behoort die NSSU sy eie borge of alternatiewe finansiering te soek,” lui die brief wat laas Vrydag gedateer en Maandag afgelewer is.
In reaksie het Duiker gesê hy is steeds in gesprekke met die ministerie gewikkel, maar die planne is om met deelname aan die Cossasa-spele in Augustus in Zambië voort te gaan. “Die wegdoen met nasionale proewe is 'n aanbeveling – ons word nie belet nie.”
By laasgenoemde spele word basketbal, vlugbal, tennis, sokker (al vier vir seuns en meisies), rugby en netbal aangebied.
Hy beskou die moratorium as 'n potensiële nasionale sporttragedie op alle vlakke.
“Botswana het dit ook in 2012 gedoen en hulle sport het eers onlangs weer begin herstel. Die gevolge kring uit en doen die hele land se sport vir jare daarna steeds skade aan.”
Duiker het verlede week aan die koerant uitgewys dat hy die ministerie nie vir geldelike hulp genader het nie, maar alleenlik met busvervoer. Volgens hom ontvang die NSSU die afgelope maande geen bystand van die regering afgesien van die betaling van salarisse nie.
By 'n nuuskonferensie gister waar die Namibiese Sportkommissie se kommissarisse vir die volgende drie jaar aangekondig is, het minister Erastus Uutoni op 'n vraag vir sy reaksie gesê dat hy hom eers van al die feite in die saak moet vergewis voordat hy 'n mening uitspreek.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie