Regering slaan toe op klaringsagente
Regering slaan toe op klaringsagente

Regering slaan toe op klaringsagente

Nuwe maatreëls word ingestel om geldwassery, bedrog en belastingontduiking hok te slaan.
Kristien Kruger
Phillepus Uusiku – Die regering is in die finale fase van die instelling van strenger maatreëls vir die lisensiëring van klaringsagente.

Die instellings beoog om die toenemende gevalle van geldwassery, belastingontduiking en bedrog te bekamp wat die land miljoene in potensiële belastinginkomste kos.

Klaringsagente tree op namens invoerders en uitvoerders en behartig die klaring van ingevoerde goedere. Daar is tans 343 werkende klaringsagente in die land.

Tot nou het klaringsagente sonder enige vaste riglyne gefunksioneer en sommiges is betrap waar hulle goedere onderverklaar.

Onder die nuwe regime sal klaringsagente verplig word om by die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC) te registreer voordat hulle by die ministerie van finansies se direktoraat van doeane en aksyns registreer.

Klaringsagente met bedrywighede buite Namibië sal verbied word en slegs agente met kantore in Namibië se sakeondernemings mag voortgaan. Lisensies sal nie oordraagbaar wees aan ander agente nie en droë hawens sal van nou af net goedere verklaar wat vir droë hawens bestem is.

Voorts sal van agente verwag word om in goeie verhouding met die belastinggaarder te wees.

Agente se huidige mandaat het in Desember 2020 verval, maar hul lisensies sal geldig bly tot Maart 2021. Die nuwe aansoekproses is reeds in werking.



'NOODSAAKLIKE VERANDERINGE'

Die minister van finansies se woordvoerder, mnr. Tonateni Shidhudhu, het die veranderinge aan die klaringsagentskapbedryf bevestig.

Volgens hom is die wysigings aangebring nadat die Nasionale Raad se komitee vir openbare rekeninge besef het dat klaringsagente sonder kontrole by die land se ingangspunte doenig is.

“Daar is in 2014 ooreengekom dat die bestaande vereistes heroorweeg moet word om weg te doen met 'aktetas'-agente, om die doeltreffende samewerking met doeanes te bevorder.

“Hierdie veranderinge is in die land se beste belang en is tot 'n mate noodsaaklik om orde in die klaringsagentskapbedryf te bring,” het Shidhudhu gesê.

Volgens hom is voorsiening gemaak vir multinasionale klaringsagente.

Hy stel verder dat die mees algemene oortredings is wanneer agente goedere verkeerdelik verklaar, of dat hulle verkeerde ondersteunende dokumente het.

Dit is nie die eerste keer dat die ministerie van finansies op klaringsagente toeslaan nie. In 2012 is klaringsagente verbied om waarborge en effekte (bonds) van derde partye as sekuriteit te gebruik. Dié besluit is sterk teëgestaan deur klaringsagente omdat dit sou beteken dat hulle nie waarborge wat aan 'n ander agent uitgereik is as sekuriteit vir hul goedere se vervoer gebruik nie.

Klaringsagente het voorheen ander agente se waarborge, wat deur finansiële of ander instellings gesteun word, geleen vir die verklaring van enige goedere wat deur Namport vir ingeslote lande in SADC bestem is.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!