Regering, vakbonde bereik dooiepunt
Regering, vakbonde bereik dooiepunt

Regering, vakbonde bereik dooiepunt

Nog ’n jaar sonder salarisverhogings is dalk staatsamptenare se voorland.
Yandi Du Plessis
Ester Kamati

Nog ’n jaar sonder salarisverhogings staar staatsamptenare in die gesig, aangesien die betrokke partye nié konsensus kon bereik tydens die afgelope Maandag se samesprekings nie.

Beraadslagings tussen die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu), die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) en die regering was vrugteloos, met Napwu se hoofsekretaris, mnr. Petrus Nevonga, wat Dinsdag ontevredenheid uitgespreek het oor die staat se aandrang op ‘n verhoging van nul persent.

“Dit is jammer hulle het niks aangebied nie, in ag genome dat staatsamptenare die afgelope drie boekjare nie ‘n salarisverhoging ontvang het nie en die staat weer eens hul posisie oor die aanbod behou. Dit is baie teleurstellend,” het hy gesê.

Tydens ‘n mediakonferensie by die Napwu-hoofkantoor het hy gesê die onderhandelingspan het ‘n dooiepunt bereik nadat die regering volgehou het daar is nie ’n begroting beskikbaar om salarisse te verhoog nie.

Die vakbonde het ‘n verhoging van 10% vir die 2021-’22-boekjaar voorgestel, asook ‘n verhoging in kilometer-tarief tot N$7. Hulle het verder ‘n motortoelaagverhoging van 10% voorgestel, asook ’n verhoging van 10% vir vervoertoelae, 9% vir behuisingstoelae en 25% vir huiseienaarskemas.

GESKIL

Die vakbonde het hulle daartoe verbind om alle nodige prosedures te volg om die onderhandelingsuitslag te betwis.

Vir interne geskille word 30 dae gegee vir ‘n vakbondsubkomitee van vier lede om weer met ‘n regeringsubkomitee van vier lede te onderhandel.

“Indien partye nie daarin slaag om 'n vriendskaplike oplossing binne die gegewe tydperk te bereik nie, sal die vakbonde met geen ander opsie gelaat word as om ‘n eksterne geskil by die kantoor van die arbeidskommissaris aan te meld nie,” het Nevonga gesê.

Nantu en Napwu het ’n beroep op hul lede gedoen om standvastig te bly terwyl hulle met die proses voortgaan.

“Bly kalm terwyl die subkomitee die interne geskilprosedures benut soos daar in die erkenningsooreenkoms voorsiening gemaak word,” het hy gesê en belowe om lede op hoogte te hou van die uitkomste. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer