Regering verdedig apartheidswet
'n AR-grondaktivis beveg die grondwetlikheid van die omstrede Plakkersproklamasie van 1985 en noem dit wreed, skandelik en drakonies.
Marc Springer – Die regering sê die omstrede Plakkersproklamasie van 1985 moet van krag bly om grondgryping te voorkom en eiendomsreg te beskerm.
Die wet, wat in 2013 gedeeltelik deur die hooggeregshof ter syde gestel is, het opnuut onder skoot gekom.
Dié keer word die grondwetlikheid van die proklamasie uitgedaag deur die Affirmative Repositioning (AR)-grondaktivis, mnr. Dimbulukeni Nauyoma, wat dit as wreed, skandelik en drakonies beskryf.
Verlede jaar het hy die regering en die prokureur-generaal hof toe gesleep om die proklamasie nietig te laat verklaar.
Nauyoma het in hofdokumente aangevoer die wet is daarop gemik om arm mense wat nie kan bekostig om erwe te koop nie en dus gedwing word om grond onwettig te beset, te marginaliseer.
Mnr. Erastus Uutoni, die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, het egter in sy reaksie gesê die proklamasie is nodig om onwettige grondbesetting te voorkom en eiendomsreg te beskerm.
Uutoni het gewaarsku 'n gevaar van maatskaplike onrus kan tussen grondeienaars en grondlose mense ontstaan indien die “binneval” van grond, sonder wettige rede of toestemming van die eienaar, geduld sou word.
“Die proklamasie dien 'n geldige doel vir die regering om eiendomsreg te beskerm en onwettige grondbesettings te voorkom,” het Uutoni gesê.
ARBITRÊR EN ONGRONDWETLIK
Nauyoma het aangevoer sommige bepalings van die proklamasie, wat steeds van krag is, verbied swart mense om in stedelike gebiede te werk waar hulle nie verblyf het nie.
Hy het gesê die proklamasie neem nie in ag hoe lank 'n sekere nedersetter op 'n stuk grond woonagtig is, of hulle kinders het om voor te sorg of elders alternatiewe akkommodasie tot hul beskikking het nie.
Op grond hiervan het Nauyoma gesê die wet het geen ruimte vir selektiewe toepassing gelaat nie, wat dit arbitrêr en ongrondwetlik gemaak het.
“Die proklamasie moet ter syde gestel word, omdat dit menswaardigheid skend, inbreuk maak op die beginsel van gelykheid, arm mense marginaliseer en minstens teoreties inbreuk maak op swart Namibiërs se vryheid van beweging,” het hy gesê.
Hy het beweer die proklamasie was een van die vernaamste beleide wat gedurende apartheid gebruik is om te verhoed dat swart mense grond kan bekom en hulle eerder in munisipale gebiede te vestig.
BEHUISINGSAGTERSTAND
“Indien aanvaar word dat Namibië tans 'n agterstand van meer as 300 000 behuisingseenhede het, moet ook aanvaar word mense sal sekerlik op ander maniere toegang tot grond verkry deur strukture op onbewoonde grond op te rig,” het Nauyoma in sy beëdigde verklaring gesê.
As gevolg hiervan, het hy gesê, het onwettige nedersetters uit nood opgetree en nie kwaadwillig geldige wette verontagsaam nie, en hulle behoort nie hiervoor soos misdadigers behandel te word nie.
In sy teenaansoek het Uutoni aangevoer slegs die parlement kan wette opstel of herroep en het die mag om die wetgewende verligting te verleen waarvoor die eiser vra.
Hy het Nauyoma beskuldig dat hy die hof aangemoedig het om in te meng by pligte wat vir die wetgewer voorbehou is.
“Nauyoma se aansoek moet van die hand gewys word, omdat hy nie kon bewys die wetgewing is ooit spesifiek teen sekere groepe gebruik om die rassebeleid van die vorige regime te handhaaf óf om volgens hul sosiale status teen hulle te diskrimineer nie,” het die minister gesê.
Uutoni het uitgewys die verwydering van onwettige nedersetters is hoofsaaklik onmoontlik sonder 'n geldige uitsettingsbevel en dit noodsaak die verskuiwing van die betrokke partye.
Sodanig, het hy gesê, kan nie aangevoer word die proklamasie het ruimte geskep vir die arbitrêre verskuiwing van mense wat strukture op munisipale grond sonder die nodige toestemming opgerig het nie.
HOOGGEREGSHOF
Die hooggeregshof het vantevore die gedeeltes van die proklamasie wat die gewelddadige verwydering van onwettige nedersetters op munisipale grond sonder 'n uitsettingsbevel van die hof toegelaat het, as ongrondwetlik verklaar.
Die bepalings is deur die land se hoogste hof geskrap, wat beslis het “die vernietiging van 'n woning en die verwydering van die inhoud daarvan hou ernstige gevolge in vir diegene wat geraak is, selfs al het die huis 'n geringe materiële waarde gehad”.
Gevolglik het die hof beslis dit is ontoelaatbaar om huise wat onwettig opgerig is, af te breek sonder vooraf kennisgewing of 'n kans vir die partye wat geraak word om hul pleidooie te rig.
– [email protected]
FOTO
Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, mnr. Erastus Uutoni.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie