Regeringsbestuur: 'Prentjie lyk stroef'
Ondanks ondernemings om regeringsbestuur te verbeter, bestaan daar nog talle leemtes, sê die IPPR.
Denver Kisting
'n Herhaling van die Fishrot-skandaal, die beweerde grootskaalse kaping van Namibiese viskwotas wat die afgelope jaar opspraak wek en twee oudministers agter tralies het, is sonder twyfel moontlik.
Dit is een van die bevindings in 'n verslag oor regeringsbestuur wat Vrydag bekendgestel is.
“Die prentjie lyk stroef.”
Só sê mnr. Graham Hopwood, die uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), oor die stand van regeringsbestuur in Namibië.
'n Volgende Fishrot-sage is veral moontlik omdat die ministerie van visserye en mariene hulpbronne steeds in geheimhouding gehul is, lui die verslag.
Hy het Vrydag tydens die bekendstelling van die verslag gesê pres. Hage Geingob maak veral sedert 2017 'n groot gewag oor die regering se beweerde politieke verbintenis tot die stryd teen korrupsie toe die Wet op Hokaairoepers en dié op die Beskerming van Getuies in die parlement deurgevoer is.
Maar, maan Hopwood, albei dié wette is steeds nie in werking nie – oënskynlik vanweë begrotingsbeperkings. “Geen fondse is in die nasionale begroting toegeken nie ondanks sprake van die beskikbaarstelling van skeletpersoneel om die kantoor van hokaairoeperbeskerming en die getuiebeskermingseenheid tot stand te bring.”
Hiernaas word mooi broodjies gebak oor die omvattende raamwerk wat die verklaring van bates en belange van politici en openbare ampsdraers uiteensit, sê Hopwood. “In 2020 werk die stelsels wat gemoeid is met die verklaring en openbaarmaking van bates en belange nie.”
In dié stadium is dit nog net die eertydse minister van finansies en huidige minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein, wat reeds twee keer gehoor gegee het aan die “vrywillige stelsel wat vir ministers voorgestel is”.
Hopwood sê: “Die stelsel vir LP's is steeds kwalik funksioneel, met vele LP's wat dit nie ernstig opneem nie.”
TOEGANG TOT INLIGTING
Hy sê dit het twee dekades geneem vandat wetgewing oor toegang tot inligting voorgestel is totdat 'n wetsontwerp hieroor uiteindelik aan die begin van vanjaar in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel gelê is.
Boonop is die wet steeds nie in werking nie, sê Hopwood. “Ondanks die onlangse vordering om die wetgewing bekend te stel, bly toegang tot inligting 'n reuseprobleem en 'n versperring om 'n kennisgebaseerde samelewing te skep.”
'n IPPR-studie in 2017 het bevind nagenoeg 80% van regeringsinstellings reageer nie op basiese versoeke tot inligting nie.
PARTYFINANSIERING
Hopwood sê 'n ander kwelpunt is die finansiering van politieke partye, wat deur onderregulering of géén regulering in die wiele gery word.
Hy sê die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het tot dusver versuim om met regulasies vorendag te kom wat reëls rondom partypolitieke finansiering sou versterk en sou toesien dat dié liggame die wet gehoorsaam. “Dit het bygedra tot 'n ruimte van politiekepartyfinansiering gekenmerk deur 'n kultuur van nienakoming.”
STELSELS, PROSESSE, INSTELLINGS
Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) gaan steeds gebuk onder kwessies wat dié liggaam se reputasie, kapasiteit en befondsing betref, lui die verslag.
Dieselfde tekortkominge – veral kapasiteitsuitdagings – kortwiek die werksaamhede van die kantoor van die aanklaer-generaal, sê Hopwood.
Ernstige vertragings het ook 'n negatiewe impak op die werksaamhede van die land se howe, sê hy.
OMSTREDE VERKRYGING
Wat openbare verkryging betref, word dié openbare funksie belemmer deur bewerings van korrupsie, 'n gebrek aan deursigtigheid en nienakoming, sê Hopwood. Hy sê wat uitsonderings op reëls en noodverkryging betref, is gebrekkige deursigtigheid die vernaamste kommer.
HOOP
Die IPPR sê pres. Geingob het steeds die geleentheid tydens sy tweede termyn om as 'n kampioen in die stryd teen korrupsie uit die stryd te tree. Maar, sê Hopwood, korrupte LP's sal uitgeskop moet word en bate- en belangeverklaring sal verpligtend gemaak moet word.
Hiernaas moet 'n omvattende ondersoek na die visbedryf van stapel gestuur word, sê hy.
Wetgewing om hokaairoepers te beskerm, moet ook sonder versuim in werking gestel word, het hy gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie