Regeringsgeboue se onderhoud 'n kopseer
Regeringsgeboue se onderhoud 'n kopseer

Regeringsgeboue se onderhoud 'n kopseer

'n Skamele N$21 miljoen (3,2%) van die ministerie van werke en vervoer se totale begroting, wat N$662,2 miljoen beloop, is vir die 14 streeksrade vir onderhoud bewillig.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Om voortdurend in nuwe infra­struktuur te belê, terwyl die bestaande teen 'n kommerwekkende pas agteruitgaan, is om jouself in die voet te skiet.

“Die staatsgarages is in ashope omskep, terwyl sommige regeringsgeboue onbewoonbaar is,” het die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, tydens die motivering van sy ­begrotingspos gesê.

Mutorwa het gesê dit is tyd dat die regering ernstige oorweging aan die opknap en onderhoud van infrastruktuur gee.

“Namibië het regeringsgeboue sedert onafhank­likwording geërf wat gelos is om agteruit te gaan. Sommige is nie hul ekonomiese waarde werd nie en is gevolglik nie eers vir herstel geskik nie,” het hy gesê.

Volgens die minister het hy waardering vir die aandag wat aan die opknap van skole geskenk word, maar vereis dat hospitale en klinieke, sowel as streekskantore vir die meeste ministeries en agentskappe (OMA's) ewe veel aandag en die nodige hap van die ­begroting geniet.

Hy het verwys na 'n kabinetsbesluit waarvolgens OMA's hul eie eenhede gevestig het om voorkomende onderhoud te dek.

Ministeries moet dus in die lig hiervan sorg dat daar vir onderhoud begroot is.

Die ­onderhoudsfunksie, wat voorheen onder die ministerie van werke en vervoer geval het, is nou na streeksrade oorgeplaas.

'n Skamele N$21 miljoen (3,2%) van die ministerie se totale begroting, wat N$662,2 miljoen beloop, is vir hierdie doel vir die 14 streeksrade bewillig.

Dit laat 'n tekort van N$113 miljoen.

Die opknap van onderhoudskantore in streke, sowel as lewensvatbaarheidstudies vir konstruksie val ook onder die onderhoud van regeringsgeboue.

Verlede jaar het beperkte fondse vir reistoelaes tot gevolg gehad dat geen studies uitgevoer is nie, terwyl drie vir die huidige boekjaar beplan word.

Volgens Mutorwa het die ministerie verlede jaar 'n verskeidenheid bouprojekte met 'n waarde van meer as N$2,5 miljard namens lynministeries bestuur.

Vir die huidige boekjaar is onder meer N$85,7 miljoen begroot vir installering van fotovoltaïese stelsels in die Oshana-, Ohangwena- en ||Kharasstreek by regeringsgeboue wat nie deel van die nasio­nale kragnetwerk is nie.

Met verwysing na die verkoop van regeringshuise het die minister gesê die geleidelike verkoop hiervan duur steeds voort – selfs al neem dit vyf jaar.

Sedert die implementering van ­bogenoemde skema het die ­ministerie 1 256 huise verkoop en teen 31 Maart vanjaar N$331,8 miljoen gegenereer. Die waardasie van dié huise word deur die ministerie van grond­hervorming gedoen.

Volgens Mutorwa is geen waardasies van die bogenoemde eiendomme egter in die vorige boekjaar gedoen nie.

Vir die betaling van heffings en belasting aan diensverskaffers van alle regeringseiendomme is N$35 miljoen begroot, terwyl N$169 miljoen toegeken is aan die betaling van die huur van kantoorakkommodasie vir OMA's.

N$130,5 miljoen is egter nodig om kontraktuele verpligtinge van die ­ministerie vir die huidige boekjaar na te kom.

Met verwysing na die verskaffing van voorraad en ­reproduksiedienste het Mutorwa gesê N$6,9 miljoen is deur ­veilings verlede jaar gegenereer – 'n ­geweldige afname teenoor die N$17,3 miljoen vir die 2016-'17-boekjaar.

Dit was grootliks te wyte aan beperkte fondse vir reis- en verblyftoelae.

Volgens die minister is daar tans 2 879 poste in die ministerie met 2 054 (71,3%) wat gevul is. Die oorblywende 825 poste (28,6%) is volgens 'n regeringsopdrag gevries in 'n poging om die regering se salarisrekening in te kort.

Mutorwa het gesê dit het 'n reuse-impak op die ministerie se werksaamhede en lê dienslewering lam.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer