Registrasiepyne duur voort

Op die tweede dag van die aanvullende registrasieproses het verrigtinge steeds teen 'n slakkepas gevorder.
Denver Kisting
Denver Kisting



Mnr. McHenry Venaani, leier van die Popular Democratic Movement (PDM), het gister gesê agt dae is nie genoeg vir die aanvullende registrasieproses nie.

Volgens hom sal baie mense nie betyds by 'n registrasiepunt kan uitkom nie – vernaam diegene wat tans in 'n ander kiesafdeling is vanweë veral werk of siekte.

Hy het daarop aangedring dat dié proses, wat volgende Dinsdag ten einde loop, minstens drie weke behoort te duur.

Dít kom ondanks 'n weergawe van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) se hoofkiesbeampte, mnr. Theo Mujoro, dat Namibiërs gewoonlik nie van die volle duur van 'n registrasieproses gebruik maak nie en eers hul opwagting maak op die voorlaaste of die laaste dag.

Van Groot Aub tot Finckenstein en Walvisbaai het klagtes gister ­ingestroom oor logistieke en ander hindernisse wat die tweede dag van registrasie gekortwiek het.



Jong stem

Mnr. Panduleni Nghipandulwa van die Namibië Instituut vir Demokrasie (NID) sê hulle ontvang verskillende sieninge van veral jong mense oor hoe die registrasieproses verloop.

“Baie jong mense is ywerig om te ­registreer en aan die verkiesings deel te neem. Dit lyk asof hulle begin besef hoe die politiek hul lewens raak.”

Syns insiens is dít 'n aanduiding dat meer jong mense na verwagting op 25 November hul kruisies gaan trek tydens die streekraads- en plaaslike­owerheidsverkiesings.

“Dit is 'n interessante dinamiek wat ons het, maar ons kan vir seker verwag meer jong mense sal vanjaar aan die verkiesings deelneem ­vergeleke met vorige verkiesings.

“'n Paar van hulle meen egter die ECN moes die ­registrasie uitgestel het weens die ­Covid-19-pandemie.

“Hulle is bang om die virus op te doen, terwyl hulle in die ry staan om te registreer.”

Me. Lina Ndengu, die woordvoerder van die ECN, het gistermiddag gesê die nasionale kiesliggaam dra kennis van veral die vertragings by die registrasiepunt wat net vir ­gistermiddag op die Finckenstein-landgoed opgerig is.

Volgens haar het 8 000 mense landswyd Maandag op Dag 1 geregistreer. 

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!