Regrukplan vir gesondheid ingedien
Regrukplan vir gesondheid ingedien

Regrukplan vir gesondheid ingedien

Ondanks groot uitdagings is vordering met die verbetering van gesondheidsdienste in Namibië gemaak.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die struktuur van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste kan nie aan openbare behoeftes voldoen nie omdat dit op ‘n bevolking van een miljoen mense gebaseer is.

Met Namibië se huidige bevolking van nagenoeg 2,3 miljoen mense is die huidige struktuur derhalwe onvoldoende.

Só sê min. Bernard Haufiku, wat Woensdag by Staatshuis ‘n oorsig oor die werksaamhede van sy ministerie gegee het.

Hy sê ‘n nuwe voorgestelde struktuur is vir goedkeuring aan die kantoor van die eerste minister voorgelê.

In die afgelope jaar het die ministerie ‘n samewerkingsooreenkoms met private dokters in verafgeleë landelike gebiede gesluit om ook staatspasiënte te ondersoek en te behandel.

Daar is ook reëlings getref dat baie siek staatspasiënte van verafgeleë gebiede soos Katima Mulilo met die regering se straalvliegtuig na Windhoek vervoer sal word, eerder as om van pasiënte te verwag om op hul eie te reis.

Volgens Haufiku is daar nie genoeg dokters, verpleegsters en aptekers in die land nie. Vordering word wel op hierdie gebied gemaak. Vanjaar het 174 verpleegsters gegradueer. Hulle sal ontplooi word na plekke waar hul dienste benodig word. Meer as 100 dokters het vanjaar gegradueer. Hulle sal in Februarie 2018 ontplooi word en onder die toesig van senior medici verdere praktiese opleiding ontvang.

Haufiku het ook die kabinet se toestemming gevra om die groen lig vir ses bykomende opleidingshospitale te gee.

Die minister het die private sektor genooi om ‘n bydrae te maak om te verseker dat alle hospitale basiese toerusting vir kraamgevalle het, wat kraambeddens en sonarmasjiene insluit.

Hy sê 80% van Namibië se hospitale beskik nou oor kraambeddens wat aan die vereistes van die Wêreldgesondsheidsorganisasie (WHO) voldoen.

Opdrag is ook gegee dat plekke van veiligheid by hospitale op Utapi en Opuwo vir swanger vroue opgerig word.

Volgens Haufiku het meer mense tans toegang tot gesondheidsorg as vantevore en malaria het die afgelope twee tot drie jaar met die helfte afgeneem.

Aanspreeklikheid, asook die gesindheid van personeel en kliniese ondersteuningsdienste, is van die grootste uitdagings wat sy ministerie in die gesig staar.

“‘n Mens hoor te dikwels dat pasiënte sleg behandel word deur verpleegpersoneel of ander personeel van die ministerie. Van 2018 af sal elke personeellid van die ministerie naambordjies op hul lapelle dra sodat almal geïdentifiseer kan word. Daar sal ‘n inbelsentrum wees waar enige wangedrag aangemeld kan word en elke klagte sal opgevolg word,” het Haufiku gesê.

Pres. Hage Geingob het die minister gevra oor die beskikbaarheid van mediese voorraad, waarop Haufiku die versekering gegee het dit is beskikbaar.

Hy het wel daarop gewys dat swak kommunikasie dikwels tot misverstande lei.

Haufiku sê ‘n groep Britse konsultante se hulp is ingeroep om die sentrale mediese store reg te ruk en om werksaamhede meer vaartbelyn te maak.

Hy is besig om in dié verband ‘n kabinetsverslag voor te berei.

Die minister sê ook dit is nodig om uit die huidige gebou na ‘n groter perseel te trek.

Dit word oorweeg om ‘n deel van die Ramatex-kompleks die sentrale mediese store se nuwe tuiste te maak.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer