Regse Bolsonaro wil hom by Weste skaar
Die nasionalis Jair Bolsonaro is Dinsdag ingehuldig as president van Brasilië, een van die vennote in die Brics-groep van vyf ontwikkelende lande.
President Jair Bolsonaro van Brasilië het met sy inhuldiging op Nuwejaarsdag beloof om korrupsie en geweldmisdaad te stuit en die stagnante ekonomie te herstel.
Honderdduisende mense het in onder meer busse by die presidensiële paleis in die hoofstad, Brasília, aangekom om die inhuldiging by te woon.
Mike Pompeo, Amerikaanse minister van buitelandse sake, was op die gastelys.
Bolsonaro (63), 'n voormalige kaptein in die leër wat sewe termyne in die kongres gedien het, het baat gevind by die golf van woede oor die vorige regering.
Hy is die eerste regse staatshoof sedert die laaste militêre diktatuur, wat sowat 30 jaar gelede op 'n end gekom het.
Talle lede van sy kabinet is voormalige militêre offisiere en die meeste van hulle was saam met hom kadette in die leërakademie. Hulle is almal uitgesproke aanhangers van die militêre regering van 1964 tot 1985.
Wat buitelandse beleid betref, sal Bolsonaro na verwagting wegbeweeg van ander ontwikkelende lande en hom probeer skaar by die groot Westerse moondhede.
Hy het reeds aangekondig dat Brasilië Amerika se voorbeeld gaan volg deur sy ambassade in Israel van Tel Aviv na Jerusalem te skuif.
Hy is van plan om, soos pres. Donald Trump, sy land aan die Parys-ooreenkoms oor klimaatsverandering te onttrek.
Omgewingsbewustes is baie bekommerd hieroor en oor sy plan om damme vir onder meer die opwekking van hidroëlektrisiteit in die Amasonerivier te bou.
Hy beoog selfs om mynbou in reservate in die oerwoud toe te laat.
Brasiliaanse ondernemings ondersteun hom en sy behoudende ekonomiese beleid, wat deur Paulo Guedes, 'n voormalige beleggingsbankier wat as sy minister van finansies aangestel is, uitgevoer sal moet word.
Guedes het reeds maatreëls belowe wat Brasilië se groeiende begrotingstekort moet tem.
Hy wil soveel moontlik staatsondernemings privatiseer, wat sowat 1 000 miljard reaal (R3 600 miljard) vir die staatskas kan inbring.
Die belangrikste maatreël om die begrotingstekort te verklein en die land se groeiende staatskuld in bedwang te kry, sal wees om die duur maatskaplikepensioenstelsel te hersien. Dit kan weldra teenkanting vir die nuwe staatshoof beteken.
Wat binnelandse beleid betref, kan verwag word dat Bolsonaro sy voet dwars gaan sit.
Hy sal pogings om aborsies te wettig in die wiele ry en seksonderrig in openbare skole beëindig.
Hy is al daarvan beskuldig dat hy verkragting en haatmisdade aanmoedig weens sy uitlatings oor vroue, gays en minderheidsgroepe.
Sy retoriek oor reg en orde, asook sy planne om wapeneienaarskap makliker te maak sodat mense hul teen misdadigers kan verdedig, het egter aanklank gevind by baie kiesers, veral op die platteland. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie