Regsfirma ‘onprofessioneel’
Die regsverteenwoordigers word daarvan beskuldig dat hulle nie die Ondonga-koning wettiglik verteenwoordig nie.
Catherine Sasman - Die prokureur wat daarvan beskuldig word dat hy die Ondonga-koning nie wettiglik verteenwoordig nie, het ernstig hierteen kapsie gemaak.
Mnr. Elia Shikongo, van die Shikongo-regsfirma, het ernstige besware teen mnr. Phil ya Nangoloh van NamRights se aantygings dat sy praktyk koning Immanuel Kauluma Elifas nie kan verteenwoordig nie.
Ya Nangoloh beskuldig Shikongo, me. Sandra Miller en mnr. Melvin Nyambe daarvan dat hulle onprofessioneel en oneerlik is en “onwaardig” opgetree het.
Dít oor ‘n hofaansoek wat deur ses afgedankte tradisionele raadslede van die Ondonga- Tradisionele Owerheid gebring is.
In ‘n beëdigde verklaring sê Ya Nangoloh die regsverteenwoordigers kon nie die koning (84) wettiglik in die saak verteenwoordig nie, omdat die koning non compos mentis is - nie fisiek of verstandelik in ‘n toestand om wettige besluite te maak of regsinstruksies uit te deel nie.
Hy het ‘n klag by die Regsgenootskap van Namibië (LSN) gelê, asook by die dissiplinêre komitee van die ministerie van justisie.
Ya Nangoloh sê Shikongo het in Augustus “doelbewus en misleidend” in die hoërhof beweer hy is regstreeks in verbinding en beraadslaging met die koning.
“Hierdie toesmeerdery het ernstige regs-, morele en maatskaplike gevolge vir alle betrokkenes,” het hy geskryf en voorgestel die regsverteenwoordigers word van die hooggeregshof-rol geskrap indien hulle hieraan skuldig bevind word.
Die hooggeregshofregter Maphios Cheda het in Augustus beslis die koning moet persoonlik voor hom verskyn om mondelinge getuienis af te lê, wat tot openbare protes onder lede van dié tradisionele gemeenskap gelei het.
BESKULDIGDES REAGEER
Shikongo se aanvanklike reaksie op Ya Nangoloh se aanklagte was dat hy (Ya Nangoloh) “te veel tyd op hande het”.
Shikongo het gesê sy regsfirma het nog nie enige korrespondensie van LSN oor dié bewering ontvang nie, wat volgens hom betekenisvol is.
“(Jy) sal verwag dat ‘n klaer, wat veronderstel is om te weet wat die regte prosedure is, eers met die beskuldigdes in verbinding sal tree voor hy roekelose, ongegronde bewerings maak,” het Shikongo gesê.
Shikongo het gesê hulle verteenwoordig die koning, asook die tradisionele owerheid se raadslede in opdrag van die staatsprokureur, en slegs die hof kan iemand non compos mentis verklaar – wat volgens hom nie in die geval van die koning gebeur het nie.
“Die klaer het geen regs- of feitelike grondslag vir sy kwaadwillige optrede of die bewering dat die koning non compos mentis is nie,” het Shikongo gesê.
Hy het gesê as regsverteenwoordigers het hulle geen persoonlike belang in die twis tussen die twee partye nie, en het gevolglik ook nie ‘n belang in die uitkoms van die hofverrigtinge nie.
“Dit is ook algemeen bekend dat die klaer, mnr. Ya Nangoloh, gekies het om hom by die afgedankte raadslede te skaar – soos dit sy reg is om te doen. Dit lyk egter na ‘n poging om sy steun ‘n stap verder te neem deur op die vooraand van die hangende aansoek om appèl ons integriteit as regsverteenwoordigers op roekelose en hoogs lasterlike wyse aan te val,” het Shikongo gesê.
Hy het gesê hulle oorweeg nog hul reaksie op Ya Nangoloh se “valse klagte”.
Ya Nangoloh het gesê hy het ‘n morele en maatskaplike verpligting om ‘n klag te lê en hoop dit sal onpartydig ondersoek word, soos hy versoek het.
Hy het ontken hy ondersteun enige van die partye, en het gesê LSN moet die klag ondersoek.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie