• Tuisblad
  • Sake
  • Regsfirmas werf Steinhoff-beleggers vir groepsgedinge
Regsfirmas werf Steinhoff-beleggers vir groepsgedinge
Regsfirmas werf Steinhoff-beleggers vir groepsgedinge

Regsfirmas werf Steinhoff-beleggers vir groepsgedinge

Tehillah Niselow



'n Hele aantal internasionale regsfirmas is in 'n wedloop gewikkel om Steinhoff-beleggers vir groepsgedinge te werf waarin aandeelhouers van hul verliese gaan probeer herwin.

Vyf regsfirmas hou dié week vergaderings met individuele en institusionele beleggers in Kaapstad en Johannesburg onder die banier van die International Steinhoff ­Litigation Group. Die firmas is LHL Attorneys, Bynkershoek, TILP Litigation, DRRT en Therlum.

Op vergadering met ­individuele beleggers Dinsdagaand in Illovo, ­Johannesburg, het Maximilian Weiss van die Duitse firma TILP ­Litigation daarop gewys dat die Nederlandse regsfirma BarentsKrans nog geen hofstukke teen Steinhoff ingedien het nie.

BarentsKrans het in September gesê van die grootste institusionele beleggers in Steinhoff konsulteer met die oog daarop om hulle by die hofgeding aan te sluit. Dit sluit in Abax Investments, Allan Gray, Bateleur Capital, Coronation, Denker, Electus, Eskom, Investec, Momentum, Old Mutual en Sanlam.

Dis 'n ingewikkelde saak om Steinhoff te dagvaar vir die ­rekenkundige onreëlmatighede wat in Desember 2017 daartoe gelei het dat die aandeelprys in duie gestort het, wat meer as 90% van aandeelhouers se ­batewaarde uitgewis het.

Steinhoff se moedermaatskappy, waaronder 40 handelsname in 30 lande, is in Nederland geregistreer en die maatskappy se primêre notering is in Frankfurt, Duitsland, met 'n sekondêre notering op die JSE. Die maatskappy se hoofkantoor is egter in Stellenbosch.



HOFSTUKKE

Die International Steinhoff ­Litigation Group se regsfirmas is in al drie dié lande werksaam. Die groep glo hy is die beste geplaas om Steinhoff ­suksesvol te vervolg omdat hy die kundigheid en jurisdiksie het, en reeds in Augustus hofstukke in die hooggeregshof in Johannesburg ­ingedien het.

Weiss kon nie sê met watter ­institusionele beleggers die International Steinhoff Litigation Group al vergader het nie. Die groep sluit alle aandeelhouers in, tensy hulle spesifiek vra om uitgesluit te word.

Daar is geen koste om deel van die groepsgeding te wees nie. Dit word deur 'n Londense maatskappy ­gefinansier, wat 'n deel van die uitbetaling sal kry indien die saak slaag.

Die regspan sal ook ­suksesgelde betaal word wat tot 25% van die ­uitbetaling sal beloop, maar deur die howe bepaal sal word.

Weiss het 'n beroep op mense gedoen om geen bindende kontrak met ander regsfirmas te onderteken nie. Hy sê mededingende hofsake kan die kans op 'n skikking in die wiele ry aangesien Steinhoff bankrot kan speel weens veelvuldige, afsonderlike eise.

Hy reken die groepsgeding sal slegs werk indien Steinhoff en versekeraars 'n vreedsame skikking kan bereik.

“Ek kan jou verseker jy sal nie al jou verliese kan herwin nie – dis onmoontlik. Maar ons wil seker maak jy herwin so veel moontlik,” het Weiss aan aandeelhouers gesê.

Die International Steinhoff Litigation Group het eise teen 40 respondente ingedien, waaronder Steinhoff, Deloitte, Absa, Standard Chartered Bank, Commerzbank en PSG Capital, sowel as huidige en voormalige Steinhoff-direkteurs soos Christo Wiese, voormalige voorsitter, en Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof.

'n Ontledingsfirma werk aan die bedrag wat geëis word.

Weiss sê hulle dagvaar instellings met “diep sakke”, soos die banke wat Steinhoff se notering bemark het en die ouditfirma Deloitte, wat vorige jare se finansiële state afgeteken het.

In 'n afsonderlike geding dagvaar die Duitse beleggingsgroep VEB Steinhoff in Amsterdam namens 'n aantal aandeelhouers. VEB het ingestem om die hofsaak tot April 2019 te laat vaar om die maatskappy die kans te gee om sy leningsooreenkomste te ­herstruktureer.

– Netwerk24/Fin24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!