Regsgeding teen SSC misluk
Voltydse aanhangers van die Christelike gemeente van Jehovah se Getuies van Namibië moet by die SSC registreer.
Jacqueline Louw
Die arbeidshof in Windhoek het verlede maand beslis werknemers wat voltyds in diens van Jehovah se Getuies van Namibië is, is geregtig op dieselfde maatskaplike voorsorgbeskerming as ander werknemers in die land.
Dié uitspraak van waarnemende regter Petrus Unengu is gelewer in 'n saak waarin die werkstatus van die Christelike gemeente van Jehovah se Getuies betwis is.
Die regter het beslis dat die lede in diens van dié gemeente wel beskryf kan word as “werknemers” in terme van die arbeidswet en die wet op maatskaplike voorsorg.
Die Namibiese gemeente van Jehovah se Getuies het 'n appèl by die arbeidshof ingedien nadat die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) verlede jaar beslis het hulle nie mag deregistreer as werkgewer ingevolge die wet op maatskaplike voorsorg nie.
Die appellant het die hof ook versoek om te gelas dat die SSC die lede van die Wêreldwye Orde van Spesiale Voltydse Bedieners van die Jehovah se Getuies, wat godsdienstige pligte vir die organisasie verrig, deregistreer as werknemers ingevolge die wet.
Indien die gemeente sou deregistreer, sou dit beteken dat die lede van die wêreldwye orde nie by die SSC geregistreer sal wees nie en sodoende nie op voordele soos kraamverlof- en siekteverlofuitbetalings geregtig wees nie.
Die appellant het betoog dat lede van die orde hulself nie as werknemers van die Jehovah se Getuies beskou nie. Hulle verrig godsdienstige werk volgens hul geloof en het 'n lewenstyl gekies en nie 'n loopbaan toe hulle by die orde aangesluit het nie.
In sy uitspraak noem die regter dat hoewel die lede van die orde nie skriftelike werkskontrakte onderteken het nie, hulle wel aansoekvorms onderteken het dat hulle die kerk op 'n voltydse basis sal dien.
Die lede lê 'n gelofte van gehoorsaamheid en armoede af wanneer hulle aansluit wat beteken dat hulle bereid is om 'n beskeie lewenstyl te lei en die orde te dien deur enige take uit te voer wat aan hul toegesê word.
Regter Unengu het ook gesê dat die gemeente voorheen by die SSC as werkgewer geregistreer was en dit nie aan die hof bewys het waarom hulle nie langer as 'n werkgewer beskou behoort te word nie.
Die regter het tot die slotsom gekom dat die appellant die aansoek slegs ingedien het om fooie te ontduik. Die hof kan nie toelaat dat die gemeente se werknemers onbeskermd gelaat word indien hulle siek of swanger word nie, het hy gesê.
Die gemeente “mag nie kies en keur watter wette op hulle van toepassing is en watter nie” het die regter verder gesê. Hy het gesê “die appellant behoort nie 'n 'kom gratis uit die tronk-kaart' te kry net omdat dit die werk van God doen nie” en het die appèl van die hand gewys.
Senior advokaat Theo Frank en adv. Adolf Denk het die Jehovah se Getuies verteenwoordig terwyl mnr. Norman Tjombe namens die SSC opgetree het.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie