Regshulpsentrum stel databasisse bekend
Drie nuwe regsdatabasisse verleen toegang tot Namibiese wette.
Jacqueline Louw – Namibiese regslui en die publiek het nou toegang tot drie databasisse wat Namibiese wette en internasionale reg sodoende vrylik beskikbaar maak.
Die Regshulpsentrum in Windhoek het gister tydens ’n bekendstellingseremonie drie databasisse, naamlik Namlex, die Namlex-appendix en die geannoteerde wette van Namibië amptelik bekend gestel.
Me. Toni Hancox het in haar openingsrede gesê een van die belangrikste elemente van die oppergesag van die reg is dat die gemeenskap toegang daartoe moet hê. Die drie databasisse wat deur die Regshulpsentrum bekend gestel is, is gratis beskikbaar op die sentrum se webwerf vir enigeen wat meer te wete oor die wette van Namibië wil kom.
Volgens me. Dianne Hubbard van die sentrum is Namlex in wese die Wikipedia van Namibiese wette. Benewens wette lys dit ook regulasies, reëls, kennisgewings, hofsake en kommentaar.
Hubbard het gesê die idee vir Namlex het sy oorsprong by wyle adv. Anton Lubowski gehad wat "versiende genoeg was" om reeds voor onafhanklikheid te besef Namibië sou ’n gids tot sy wette nodig hê.
’n Span spesiaal-opgeleide jong regsgeleerdes sal vir toekomstige opdaterings van Namlex verantwoordelik wees.
Die Namlex-appendix is ’n gids tot internasionale reg wat in Namibië van krag is. Soortgelyk aan Namlex het dit ’n aparte inskrywing vir elke wêreld- of streeks-multilaterale ooreenkoms met ’n kort opsomming, datum waarop die verdrag bindend op Namibië geword het, asook inligting oor wysigings of protokolle waartoe Namibië ’n party is.
Die derde databasis is ’n opdatering van die geannoteerde wette en regulasies. Geannoteer verwys na ’n wet waarby alle wysigings ingesluit is.
Hubbard het voorts gesê Namibië se oudste wet is ’n Hollandse wet van 1580 wat steeds relevant in erfreg is.
Intussen het die prokureur-generaal, mnr. Sacky Shanghala in sy toespraak die belangrikheid van die drie takke van Namlex beklemtoon. Volgens Shanghala is Namlex noodsaaklik in die handhawing van die oppergesag van die wet.
“Afrika het sy eie begrip van die oppergesag van die reg ontwikkel. Hierdie konsepte is gefasiliteer deur belangrike politieke transformasies wat geboorte geskenk het aan ’n Afrika-beskouing van ’n internasionale regsregering waar voorkeur aan selfbeskikking gegee word. Dit is voorts geïnspireer deur die proses van dekolonisasie, die definisie van die term 'vlugteling' en die aandrang, op ’n vasteland wat deur massamoord en armoede geteister word, dat menseregte nie net burgerlike en politiese regte maar ook ekonomiese en maatskaplike regte moet beskerm," het hy gesê. Volgens Shanghala “behoort ons die reg in elke inheemse taal te vertaal”.
Hoofregter Peter Shivute het tydens sy toespraak die Regshulpsentrum gelukgewens met die reuseprojek wat die publiek toegang tot "akkurate, opgedateerde en eenvormige inligting" met betrekking tot die wette van die land gee. “Die projek verskaf ’n waardevolle hulpmiddel vir die bevordering van menseregte en die oppergesag van die wet in Namibië,” het hy gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie