Regskenners verwelkom NR se besluit oor burgerskapwet
Regskenners verwelkom NR se besluit oor burgerskapwet

Regskenners verwelkom NR se besluit oor burgerskapwet

Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die direkteur van die Regshulpsentrum, me. Toni Hancox, sê sy is tevrede dat die proses om die wysigingswetsontwerp op burgerskap te hersien, in sy doel geslaag het. Sy was een van die deskundiges wat Vrydag voor ’n portefeuljekomitee van die Nasionale Raad (NR) oor die grondwetlikheid van die wysigingswetsontwerp getuig het.
“Die proses het gedoen wat dit moes doen. Die NR het gou gereageer nadat hulle die wetsontwerp onder oë gekry het en het regskenners uit die private sektor, die regshulpsentrum, die ombudsman, die regsvereniging en die akademie gekry om bydraes te lewer. Dit is positief vir ons demokrasie. Die Nasionale Vergadering (NV) kan steeds voortgaan en die wetsontwerp aanvaar, maar ek hoop van harte dat hulle oor die aangeleentheid sal nadink.
“Wat met die wetsontwerp gebeur het, het opnuut die noodsaaklikheid van wigte en teenwigte en die skeiding van magte beklemtoon,” het Hancox gesê.
Die ombudsman, adv. John Walters, sê die feit dat die regskenners uit die burgerlike samelewing die geleentheid gegun is om hul sieninge met lede van die NR te deel, is vir hom ’n teken dat die NR gestalte gee aan die Grondwet as ’n lewende dokument.
“Daar is geen beter bewys dat die demokrasie in Namibië lewenskragtig is, as die feit dat die komitee die raad van die burgerlike samelewing gevra het nie. Die parlement verteenwoordig die volk en daarom is dit belangrik om die volk, veral oor wetgewing, te raadpleeg. Dit is ’n riem onder die hart dat die NR besef het hulle het nie al die kennis om oor die wetsontwerp te debatteer nie en gevolglik besluit het om kundiges te betrek.
“Ek hoop van harte dit is nie die laaste keer dat regskenners se hulp ingeroep word nie en wil graag hê die NV moet ook hierdie pad volg. Regsgeleerdes het die integriteit om te sê wanneer niks met ’n wetsontwerp skort nie of wanneer dit potensiële probleme kan oplewer. Ons wil graag die regering help en sal hulle nooit in die verleentheid probeer stel nie.
“Die optrede van die NR is ’n teken dat die demokrasie gesond is en dat ons vooruit gaan,” het Walters gesê.
Die menseregtekenner en regs­geleerde, mnr. Norman Tjombe, het op sy beurt gesê dit is goeie nuus dat die NR insig getoon het. “Dit is waaroor ’n grondwetlike demokrasie uiteindelik gaan,” het hy bygevoeg.
Adv. Esi Schimming-Chase, wat namens die Prokureursorde van Namibië voor die komitee getuig het, het in haar reaksie gesê die besluit van die NR is ’n sprekende voorbeeld van ’n funksionerende demokrasie. “Ek is baie trots om deel van hierdie proses te kon wees. Hierdie is inderdaad ’n trotse oomblik vir Namibië se demokrasie,” het sy gesê.
Die direkteur van die Prokureurs­orde, me. Retha Steinmann, het namens die orde die regering, en in die besonder die NR, gelukgewens met die deursigtigheid en volwassenheid waarmee die proses hanteer is.
“Ons glo hulle het die regte besluit geneem. Die geleentheid wat aan die publiek gebied is om deel te neem, die feit dat die publiek dit heelhartig aangegryp het en die feit dat die wysigingswetsontwerp nie langer op die tafel is nie, is ’n goeie teken vir ons Namibiese demokrasie.
“Ons gee ook erkenning aan die onselfsugtige werk van baie Namibiërs,­ in die openbaar en agter toe deure, insluitend, maar nie beperk tot regs­geleerdes nie, om hierdie punt te kon bereik,” het Steinmann gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!