Regstreekse uitsendings word uitgebrei

NMH Events het sy mikpunt verklaar om in volgende jaar 120 sportgeleenthede in Namibië regstreeks te beeldsend.
Andrew Poolman
’n Ope uitnodiging is aan nasionale sportfederasies gerig om hul plaaslike en internasionale blootstelling te vergroot deur middel van regstreekse beeldsending van hul groot sportgeleenthede.

Namibia Media Holdings (NMH) se bemarkingsbestuurder mnr. Hennie Geldenhuys het gister tydens ’n ontbytgeleentheid met senior verteenwoordigers van talle nasionale sportfederasies verklaar dat Synergi en Namibia Media Events beplan om in die kalenderjaar 2022 ’n totaal van 120 sportgeleenthede regstreeks op sy verskeie digitale platforms te beeldsend.

Geldenhuys het die maatskappy se vertoningslys van regstreekse beeldsending oor die afgelope twee jaar uitgewys en gesê die belegging in tegnologie en toerusting om behoorlike beeldsendings moontlik te maak.

“NMH het uiteraard steeds sy gevestigde koerante wat in die gedrukte media dekking aan alle sportkodes en sportgebeure gee, maar die blootstelling is die afgelope jare grootliks na meer platforms uitgebrei.

“Daar is uiteraard ’n verskil tussen die blote verskaffing van ’n regstreekse videostroom en wat geen vermaakwaarde of interaksie met die kykers bied nie, teenoor die produksie vir ’n beeldsending met kommentators en ontleders soos wat ons in alle gevalle doen.

“Eerder as dat sportliefhebbers net die eindtelling op sosiale media sien, bring ons die volle wedstryd of sportgeleentheid na die kyker. Tesame met die vooraf bekendmakings van die uitsending wat die blootstelling van die geleentheid vergroot, is daar ook talle talentjagters en afrigters wat agterna na die materiaal gaan kyk om vertonings te ontleed of individuele sportlui raak te sien. Saam met die verspreiding op sosiale media en mense wat daaroor praat, gee dit sportgeleenthede ’n langer raklewe as normaalweg.

“NMH sal ook binnekort ’n toep bekendstel waarop sportbeeldsendings beskikbaar sal wees en ons maak ook vordering in onderhandelinge na uitbreiding op Multichoice. Die aandag wat Synergi op sportgeleenthede fokus, het baie kragtige potensiaal om sportkodes plaaslik en internasionaal op die kaart te plaas.”

Geldenhuys sê vooraf beplanning en kommunikasie is van sleutelbelang om in die voorproduksiestadium en insameling van inhoud vir die kyker lewe in enige sportgeleentheid te blaas.

“Die aard van elke sportsoort en elke spesifieke venue bied sy eie uitdagings, maar sportkodes word aangemoedig om ons lank genoeg vooraf te nader om te sien watter pakket ons bymekaar kan voeg.”

Op ’n vraag oor prioritisering het Geldenhuys uitgewys dat die NMH-spanne vanjaar verskeie kere getoon het dat hulle op dieselfde Saterdag twee produksies van topgehalte tegelykertyd kan lewer. “Vooraf beplanning bly egter van kritieke belang. Hoe gouer die datums van byeenkomste op die sportkalender bevestig en bespreek word, hoe beter.

“In dieselfde asem is NMH daarop ingestel om verdienstelike sportgebeure op die sogenaamde plattelandse dorpe buite Windhoek ook dekking te gee.

“Nege uit tien keer het ons mediaspanne reeds ’n uitstekende verhouding met ons korporatiewe kliënte wat reeds geld aan sport bestee en wat deur beeldsending ’n groter opbrengs op hul belegging kan kry. Ons weet finansiering van sport is ’n groot uitdaging, maar ons kan bydra om sportkodes groter blootstelling te gee en selfs in die proses kontrakte vir borgskappe te help beklink.”

Vir meer inligting kan navrae na [email protected] of [email protected] gerig word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer