Regter kry ACC voor stok
Regter kry ACC voor stok

Regter kry ACC voor stok

Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) het laat verlede week weer in ’n binneverhoor onder skoot beland.
Denver Kisting
Denver Kisting – Regter Christie Liebenberg het Donderdag in die hoërhof in Windhoek gesê die Teenkorrupsiekommissie (ACC) is nie bo die reg verhewe nie.

Dít kom nadat Liebenberg in ’n binneverhoor bevind het dagvaardings, wat die ACC in 2009 in ’n hoëprofielsaak bekom het, is ongeldig.

In dié saak staan me. Teckla Lameck en mnre. Yan Fan en Jerobeam Mokaxwa tereg op verskeie klagte van bedrog en korrupsie, waarby etlike miljoene Namibiese dollar na bewering betrokke was.

Liebenberg sê in sy 15 bladsy lange bevinding die ACC vertolk ’n baie belangrike rol om die oënskynlik oneindige vlaag korrupsie in die land te bestry.

Maar “die kommissie moet daaraan herinner word dat dit ook aan die Grondwet en die reg onderhewig is”, het Liebenberg gemaan.

Veral, sê hy, moet die ACC onthou die kommissie se werk is om aan die bepalings van die Teenkorrupsiewet, “sy skepper”, gestalte te gee.

Liebenberg het bevind ’n amptenaar van die teenkorrupsiewaghond het destyds nie skriftelike magtiging gehad om toegang tot die beskuldigdes se bankrekeninge te bekom nie.

Die ACC het dus onregmatig bewysmateriaal in die hande gekry en daardeur die drietal se menseregte geskend.

Regter Liebenberg het benadruk die Grondwet waarborg ’n regverdige verhoor.

Onder meer vereis dit dat beskuldigdes se waardigheid en belange nie in die gedrang mag kom nie – selfs tydens voorverhoorverrigtinge.

“Die gedrag van die kommissie moet in dié geval in die strengste taal veroordeel word omdat die howe nie mense of instellings kan toelaat om aan die misbruik van mag aan sy (die ACC se) kant onderwerp te word nie,” het Liebenberg gesê.

Om dié onregmatig bekomde bewyse in die verhoor toe te laat, sou ’n gruwelike skending van die beskuldigdes se reg op privaatheid en ’n regverdige verhoor meegebring het, het hy gesê.

Mnr. Sisa Namandje tree namens die drietal op, terwyl adjunk-aanklaergeneraal Dominic Lisulo en staatsadv. Constance Moyo die staat verteenwoordig.

Die verhoor hervat vandeesweek.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!