Rehoboth en Grootfontein klim hoër

Die laaste aksie voordat Covid-19 weer ’n inperking op kontaksport plaas, het nogal heelwat onverwagte drama gelewer.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – FNB Rehoboth se wegholsege teen die heersende titelhouer Trustco United het die Rooi Bulle vanaf vyfde tot in die topvier van die Namibië Rugby-unie (NRU) se premierliga laat opskuif.

Soos bewys deur die regering se aankondiging Vrydag dat alle kontaksport vir minstens die hele Juniemaand opgeskort is, is daar min waarborge sover die 2021-seisoen betref – behalwe dat United drie wonderwerke in sy oorblywende wedstryde (weg teen Kudus, tuis teen FNB Western Suburbs en weg teen FNB Wanderers) nodig het as hy terug in die wedloop wil kom om sy titel te verdedig.

Afgesien van Suburbs (drie), het die res van die agt spanne elk net twee oorblywende ligawedstryde voor die semifinaal.

Rehoboth se sege met 42-21 teen United op Gemsbokpark was die derde nederlaag hierdie seisoen vir die beleërde Filistyne, wat geen ligapunt kon byvoeg nie.

Hierteenoor het Johann Wohler se Rooi Bulle benewens die vier wenpunte twee bonuspunte bygevoeg deur sewe drieë te druk.

Heelagter Xauvier van Wyk (twee), die losvoorspelers Boris Majiedt en Cameron McNab, skrumskakel Gurtley Beukes en die bankspelers Jeandre Cloete (haker) en Jeandre Loubser (heelagter) het vir Rehoboth drieë gedruk. Skoppunte het van Van Wyk (twee doelskoppe) en losskakel Henrique Olivier (een strafdoel) gekom.

United se drieë is deur vleuel Stefan Louw, losskakel Hanreco van Zyl en reserwevoorspeler Venoumba Kanguatjivi gedruk, met twee doelskoppe deur heelagter Nazume Swartz.

GROOTFONTEIN WEN

FNB Grootfontein het Saterdag op sy tuisveld ’n dramatiese sege met ’n drie in beseringstyd teen Suburbs behaal (28-27) nadat hulle in ’n stadium met 14-27 agter was.

Die wenners het een posisie opgeskuif tot tweede en Suburbs een plek af, tot vyfde.

In Siegfried Potgieter (twee drieë) het Grootfontein ’n gevaarlike aanvallende losskakel, wat ook met drie doelskoppe geslaag het. Van die reserwebank af het Muniovita Kasiringua (slot) en Christopher Deck (skrumskakel) ook drieë gedruk en Louis Grobbelaar het twee skoppunte bygevoeg.

Suburbs kon met drie drieë (losvoorspelers Richard Mupewa en Tjingairi Katjivi en vleuel Gino Wilson) net die verloorbonuspunt byvoeg. Heelagter Ricardo Swartz (twee strafdoele) en losskakel Justin Nel (drie doelskoppe) het van die skopringetjie af geslaag.

TERUGSLAG VIR WIT HINGSTE

FNB Wanderers het ook een posisie teruggesak (derde) toe hy teen FNB Reho Falcon sy tweede nederlaag van die seisoen gely het.
Die uitslag van 31-22 was Falcon se eerste wenpunte vir die jaar – grootliks te danke aan die SWD Arende se losskakel Leegan Moos se akkurate skopskoen, nadat Wanderers vier drieë teen drie gedruk het. Volledige wedstrydverslag binne in Sport Wrap.

UNAM BLY ONOORWONNE

Op Walvisbaai het die voorloper FNB Unam vyf drieë teen een gedruk om die aanslag van FNB Kudus met 29-8 af te weer, skryf Leandrea Louw.

Unam se regtervleuel Chad Plato en Kudus se slot Lezardo Vos is beide met rooi kaarte afgestuur ná ’n geveg wat op ’n drie deur Unam in die eerste helfte gevolg het.

Kudus se enigste drie is deur senter Justin Newman gedruk en losskakel Aurelio Plato het met ’n strafdoel geslaag.

Unam se vleuel Shareave Titus het twee gedruk, met een elk deur sy spanmaats Darryl Wellman (senter), Simon Haitembu (slot) en Shaun van Wyk (haker). Twee hiervan is deur heelagter Lorenzo Louis verdoel.

Unam se flank Cameron Langenhoven is as die speler van die wedstryd aangewys.

Walvisbaai se bekende Plato-rugbyfamilie, wat hul pa Chandler verlede jaar aan Covid-19 verloor het, het ’n wisseltrofee tot sy nagedagtenis geskenk wat voortaan in wedstryde tussen Unam en Kudus op die spel sal wees. Saam met die trofee het Unam ook kontant ontvang vir ’n welsynsaak van hul keuse.

“Rugby was my man se passie en ek is bly ons kan terugge tot sy nagedagtenis,” het me. Lovina Plato gesê.

Unam se afrigter Johan Diergaardt sê veral die eerste minute was ’n opdraande stryd.

“Ek haal my hoed af vir ons voorspelers; Kudus het ons hard laat werk. Dit was ’n spannende wedstryd.”

Diergaardt was krities dat die NRU nie beter met die regering ten gunste van die voortsetting van kontaksport onderhandel nie.

“Ek weet nie op watter wetenskaplike grondslag die regering besluit het om kontaksport te verbied nie. Die NRU laat ons in die steek. Daar is soveel spelers wie se lewensbestaan van hul inkomste uit wedstrydgeld afhanklik is, wat nou nie kos op die tafel kan plaas nie. Dit veroorsaak ’n kettingreaksie.”

Kudus se afrigter Henry Kemp was baie trots op sy span se vertoning. “Die ouens het hul hart uitgespeel en ek dink nie Unam het dié vertoning verwag nie. Die voorspelers het tot die einde hul beste gegee en ek dink die eindtelling was hoër as wat dit moes wees.”

“Unam se spelers is ooglopend beter gekondisioneer as Kudus. Ons het baie werk voor, maar dit lyk reeds beter.”



FOTO’s
FNB Reho Falcon se heelagter van die SWD Arende, Curtley Scheepers, draai uit ’n laagvat en klop die verdedigers Bredell Wessels, Warren Ludwig en Louis Karsten vir sy tweede drie wat die uitslag verseël het. Foto’s Andrew Poolman

’n Wisseltrofee vernoem na wyle mnr. Chandler Plato staan voortaan tussen Kudus en Unam op die spel. Hier is sy weduwee, me. Lovina Plato, met haar seuns Aurelio (links) en Chad wat onderskeidelik vir Kudus en Unam speel. Foto Leandrea Louw


FNB Western Suburbs se skrumskakel Biza Willemse voer ’n skrumingooi teen FNB Grootfontein. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!