Rehoboth se bestuur in donker uur
Finansiële en tegniese bestuurders geskors; uitvoerende hoof word ondersoek
Augetto Graig - Rehoboth se dorpsbestuur is erg uitgedun nadat die dorpsraad hierdie week sy finansiële bestuurder, me. Jennifer Kays, geskors het weens vrae oor haar kwalifikasies.
Die wending kom terwyl die munisipaliteit se uitvoerende hoof, mnr. Christof /Uirab, met deernisverlof is nadat sy seun gesterf het. Die tegniese bestuurder, mnr. Ernst de Waal, wie vir paaie, riool, water en ander tegniese dienste verantwoordelik is, is ook hierdie week geskors.
Intussen is die munisipaliteit se werknemers ongelukkig. Hulle het ’n lys griewe opgestel waarop die raad dusver nie kon antwoord nie.
Die jongste wending in die tweestryd tussen Kays en /Uirab het Dinsdag by die raadsvergadering afgespeel toe die burgemeester, me. Christina Blaauw, ’n ondersoek deur /Uirab oor die egtheid van Kays se BCom-graad aan die raad voorgelê het. Aangeheg by die verslag was ’n brief van die Universiteit van Namibië (Unam) waarvolgens Kays wel daar studeer het, maar nooit haar graad voltooi het nie, sê mnr. Lennie Pienaar, ’n raadslid wat die United Peoples’ Movement (UPM) verteenwoordig.
Die raad het dus besluit om Kays sonder betaling te skors totdat verdere ondersoek ingestel kan word. Kays is tans met ’n lang beplande vakansie in Suid-Afrika en die raad kon haar teen gister nog nie persoonlik oor haar skorsing inlig nie. Die raad het ook die saak by die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) aangemeld, sê Pienaar. Mnr. Riaan Christiaans is tydelik in Kays se posisie aangestel.
Intussen duur ’n ondersoek na /Uirab voort nadat hy voorheen deur Kays van seksuele teistering aangekla is. By ’n tweede raadsvergadering wat Woensdag plaasgevind het, is ’n lys van 13 klagte teen /Uirab ter tafel gelê waarvoor hy ondersoek moet word.
“Sake lyk nie net duister nie, maar pikswart,” het Pienaar opgemerk.
Die klagtes van werknemers is by dieselfde vergadering bespreek. Volgens Pienaar is werkers ongelukkig oor beweerde viktimisering deur die menslike hulpbronbestuurder, mnr. Willie Swartz. Hulle beweer dat hy sekere werkers met oortyd, asook reis- en verblyftoelae voortrek. Hulle voel ook hul belastingaftrekkings is nie in orde nie en eis ’n verhoging van 10%.
Blaauw het bevestig dat die klagtes met vakbondverteenwoordigers bespreek is. Volgens haar moet die griewe egter wag totdat /Uirab terugkeer. Intussen sal die raad volgens die burgemeester voortgaan met die verskeie ondersoeke.
Oor Kays het Blaauw gesê: “Ons weet nog nie en sal moet wag en sien of die aantygings waar is of nie. Ons het nog geen kontak met haar gehad nie. Haar toer was vooraf beplan en dit het als gebeur terwyl sy weg is,” het Blaauw gesê. Die burgemeester verwag dat Kays volgende week terug in die land sal wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie