Rehoboth se steenmakers onder druk

Plaaslike baksteenvervaardigers sê hulle kan nie met 'n Chinese maatskappy meeding nie.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Steenmakers op Rehoboth sê hulle word deur 'n Chinese maatskappy uit die mark gestoot.

Dit omdat dié maatskappy glo onregverdiglik deur die munisipaliteit bevoordeel word.

Boonop betaal die Chinese na bewering nie belasting op toegevoegde waarde (BTW) nie.

Die plaaslike steenmakers, wat skugter is om hul name te laat publiseer omdat hulle voel hulle sal geïntimideer word deur die owerhede, sê om hierdie rede kan die Chinese maatskappy, Knewhope Sand & Stone Enterprises (ook bekend as New Hope Investments) bakstene teen “die laagste koste” vervaardig, en dít veroorsaak onregverdige mededinging met rampspoedige gevolge vir plaas­like ondernemings.

“Ons kan die Chinese indringing (in die steenmaaksektor op die dorp) nie keer nie, maar die manier waarop dit gedoen is, maak ons dood. Ons sal in staat wees om sake te doen as almal oor dieselfde kam geskeer word,” het een Rehoboth-steenmaker gesê.

'n Ander een sê terwyl plaaslike baksteenvervaardigers groot beleggings gemaak het om hul sakeondernemings aan die gang te kry en elke tweede maand hul BTW betaal, is die Chinese onderneming klaarblyklik vrygestel van hierdie oorhoofse koste.

“Ek het my onderneming in 2012 geopen nadat ek 'n erf gekoop het. Ek moet my lenings en my masjinerie afbetaal. Voor die Chinese begin het om bakstene aan die publiek te verkoop, kon ek oorleef. Ek moes drie van my vragmotors verkoop om my werkers in Desember te betaal en in Januarie moes ek 10 van die 25 werkers laat gaan,” vertel nog 'n steenmaker.

Die plaaslike vervaardigers sê hulle kan eenvoudig nie die hoeveelheid bakstene maak wat Knewhope maak nie, aangesien die Chinese baie meer gesofistikeerde toerusting van China af ingebring het.

Hulle neem plaaslike politici en besluitnemers kwalik omdat hulle dié ongesonde mededinging toelaat en klaarblyklik net in die “gaar ganse” belang stel wat die Chinese aanbied.



AGTERGROND

Die Chinese burger mnr. Lee Zhang het 'n tender gekry om aan die begin van verlede jaar 'n koshuis vir die ­Sekondêre Skool Vooruitsig in Blok E te bou.

Dié skool se hoof is me. Christina Blaauw-Petrus - tans die dorp se ­geskorste burgemeester.

'n Verhuringsooreenkoms vir 'n perseel van vyf hektaar aan die suidelike grens van die dorp is met Zhang gesluit nadat die ministerie van onderwys, kuns en kultuur nie meer bakstene vir die koshuisprojek by 'n plaaslike vervaardiger, Bahnhof Sand & Stone, gekoop het nie, maar eerder by die Chinese.

Volgens die plaaslike rolspelers was die verhuringsooreenkoms tot ses maande beperk en is die grond aan Zhang gegee om bakstene eksklusief vir die koshuisprojek te vervaardig.

Hulle sê Zhang en sy plaaslike vennoot, mnr. Rickie Maasdorp, het egter intussen begin om bakstene aan die algemene publiek te lewer.

Sover verstaan word, het die verhuringsooreenkoms intussen verval. Plaaslike vervaardigers het intussen glo 'n vergadering met mnr. Chris /Uirab, die Rehoboth-dorpsraad se uitvoerende hoof, gehad om hul griewe te lug.

/Uirab het aan die einde van April munisipale amptenare glo opdrag gegee om Knewhope kennis te gee om die perseel te verlaat omdat die verhuringsooreenkoms verstryk het.

Hy het egter na bewering van plan verander en munisipale ­amptenare opdrag gegee om Knewhope se ­uitsettingsbevel nie uit te voer nie.

/Uirab het nie op navrae gereageer nie.



PETISIE

'n Groep wat hulself die “besorgde groep” noem, bestaande uit sakeondernemings soos die Rehoboth Gemeenskapstrust, wat drie kweekhuise en 'n gastehuis bedryf, P.J. Free-­range Chicken, die Rehoboth Abattoir en aanliggende perseeleienaars, het 'n petisie aan Rehoboth se dorpsraad gestuur.

Mnr. Ronald Kubas van die ­Gemeenskapstrust sê die petisie gaan spesifiek oor die geraas en stof wat die Knewhope-steenmakersaanleg veroorsaak, wat van vroeg soggens tot saans laat werksaam is.

Nog 'n bron van kommer, sê Kubas, is die feit dat 'n omgewingsimpakstudie nie gedoen is toe die Knewhope-aanleg met sy werksaamhede begin het nie.

Kubas sê die “belangstellende en geraakte groep” het navraag gedoen oor of 'n omgewingsimpakstudie-sertifikaat aan Knewhope uitgereik is.

Nog 'n “bekommerde lid”, wat anonimiteit verkies, sê vrae is ook gevra oor die omstandighede waaronder Knewhope die verhuringsooreenkoms vir die grond in die eerste plek gesluit het.

“My inligting is dat hulle dit binne twee weke nadat hulle daarvoor aansoek gedoen het, gekry het terwyl ons vir jare grond van die munisipaliteit vra,” het hierdie bron gesê.

Die Rehoboth-dorpsraad het nie op die petisie gereageer nie en plaaslike rolspelers meen geen regstellende stappe sal gedoen word nie.

Dít omdat die amptenare na bewering deur die Chinese maatskappy omgekoop word.



'DIS 'n VRYE ONDERNEMING'

By Knewhope se baksteenvervaardigingsaanleg het 'n Suid-Afrikaanse burger, mnr. Suvir Oomadath, gesê die maatskappy se papierwerk is in orde.

Hy sê hy help die maatskappy met boekhouding en die administrasie van salarisse.

Volgens hom is die maatskappy vir BTW geregistreer en word dit betaal. Min klante vra egter vir belasting­strokies.

Oomadath sê plaaslike steenmakers kan nie met Knewhope, wat 14 000 bakstene vervaardig per skof van agt uur, meeding nie.

Die ministerie van die omgewing en toerisme het in September verlede jaar inspeksie by die Knewhope-aanleg gedoen nadat hulle klagtes oor die “buitensporige geraas- en stofbesoedeling” ontvang het. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat die maat­skappy die Wet op Omgewingsbestuur van 2007 oortree.

Die ministerie het opdrag gegee dat die maatskappy 'n omvattende omgewingsbestuursplan nie later as 30 Januarie indien nie. Teen Oktober 2017 het 'n maatskappy, bekend as ­EnvironClim Consulting Services, namens Knewhope so 'n verslag by die Rehoboth-dorpsraad ingedien.

Oomadath, wat homself ook as regsgeleerde voorgestel het, sê hy was een van die outeurs van die Environ­Clim-verslag.

Nog 'n verslag, 'n “geraas- en stof-omgewingsimpakontleding om by die omgewingsbestuursplan geïnkorporeer te word,” wat deur Healthy Earth Environmental Consultants CC (HEEC) opgestel is, is in Oktober verlede jaar afgehandel.

In hierdie verslag word erken die geraas en die stof word “hoofsaaklik tydens die laaiproses” van die stamper veroorsaak en wanneer droë sand gebruik word.

Die maatskappy het toe onderneem om “stofonderdrukking” en ingenieurs­beheermaatreëls in te stel om die stof en geraasbesoedeling te minimaliseer.

Oomadath voer aan die perseel is as ligte nywerheidsarea gesoneer en is nie binne 'n radius van twee ­kilometer van enige skool of woongebied af geleë nie.

Die besorgde groep se klagte is dat die area waar die perseel geleë is landbougrond is en nie 'n nywerheids-­sone nie.

Oomadath het voet by stuk gehou dat “vals en lasterlike” aantygings voortdurend teen Knewhope gemaak word, wat volgens hom op 'n lastersaak kan uitloop.

“Hierdie is 'n vrye onderneming. As iemand geld in 'n sakeonderneming belê en risiko's aangaan, hoekom moet ander mense inmeng? Hierdie is die Republiek van Namibië en nie die diktatorskap van Namibië nie,” het hy gesê.

Maasdorp, Zhang se Namibiese vennoot, meen plaaslike ­produsente is kwaad omdat hulle nie langer sake kan doen nie.

“Daar moet mededinging wees,” het Maasdorp gesê.

Hy sê Zhang is die belegger en is verantwoordelik vir dié deel van die onderneming wat bakstene vervaardig.

Maasdorp sê hy is verantwoordelik vir die stampermasjien en die myn van sand.

Hy sê Zhang se betrokkenheid het die byvoordeel dat hy opleiding aan werknemers in die gebruik van ­ingevoerde masjinerie verskaf het.

Hy sê ook hy sal uiteindelik die toerusting en die maatskappy oorneem en Zhang se betrokkenheid sal uit­gefaseer word.

Zhang was in China en kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!