Rehoboth se 'vroedbroers' skrik vir niks
MJ en CJ Jaftha staan nie terug vir die gemeenskap se vooroordele teenoor manlike verloskundige verpleërs nie.
Maria Eiseb - Nie eers die stofstrate van Klein Aub kon die broers Convyne Jaftha, oftewel CJ (26), en Monroy Jaftha, beter bekend as MJ (23), keer om in 'n mediese rigting te studeer nie.
Die Jaftha-broers is verpleërs by Rehoboth se St. Mary's-hospitaal, en hulle skrik nie vir 'n kraamsaal nie.
CJ het in 2014 as verloskundige verpleër in dié kraamsaal begin werk, waarna MJ in 2016 in sy broer se voetspore gevolg het.
Hoewel MJ nie terugstaan vir 'n geboorte nie, is hy meestal in die ongevalle-afdeling van die hospitaal bedrywig.
“Ek werk ook in die kraamsaal. Ek weet wat om te doen. As ek aan diens is, vang ek ook babas as die hande min is,” sê hy.
Die Jaftha-broers sê hulle weet nie hoeveel babas hulle al verlos het nie, maar dikwels is dit meer as een per dag.
MOEILIKE GEVALLE
“Een van die moeilikste soort geboortes is brugbabas,” sê CJ.
Hy vertel van 'n baba wie se kop tydens die kraamproses vasgesit het, en ná 'n gesukkel gebore is, maar bewusteloos was.
“Jy moenie paniekerig raak nie, jy moet net kalm bly,” sê hy.
“Dit is makliker as wat ek gedink het. Solank die ma saamwerk, is dit nie moeilik om albei lewens te red nie,” vertel CJ.
“Ons is maar net daar om die pasiënte te help, die pasiënt doen eintlik die meeste werk,” sê hy.
MJ vertel hy het ook al moeilike geboortes beleef. In een geval was die baba se gesiggie na onder gedraai, wat dinge bemoeilik het, maar uiteindelik het beide ma en baba heelhuids daarvan afgekom.
RISIKO'S
Die broers moes al babas in haglike omstandighede in sinkhuise ook verlos - sonder die gemak van hospitaalgeriewe.
“As jy 'n baba by die huis vang, moet jy die baba warm hou. Soms is dit baie koud en die baba kan ook verkluim,” verduidelik die broers.
'n Naelstring wat nie skoon gehou word nie, hou ook risiko's in.
“Jy moet versigtig wees dat die naelstring nie die grond raak nie, anders kan die baba siek word,” vertel hulle.
Die broers is deur mnr. Stephanus Claassen opgelei, wat benadruk het dat die pasiënt se belange altyd eerste kom.
Wat 'n bevalling verder kan kompliseer, is 'n gebrek aan kennis, of dat die gesondheidswerker nie oor voldoende opleiding beskik nie. Uiters belangrik is ook dat boekekennis in praktiese ervaring omgesit word, sê die broers.
Die vermoë om vriendelik te wees en pasiënte te kalmeer, is ook 'n beroepsvereiste, sê hulle.
PASIëNTE
Die jongste pasiënt wat CJ al onder hande gehad het, was 14 jaar oud en die oudste sowat 43.
Die 14-jarige ma het hy met die geboorte van haar eersteling bygestaan en die 43-jarige ma met die bevalling van haar agtste kind.
Me. Mathilda Beukes, 'n voormalige pasiënt van MJ, sê sy het haar bedenkinge gehad toe sy besef 'n manlike verpleër gaan haar deur die kraamproses help.
“'n Paar ure ná die dokter my die induksie gegee het, het die pyn begin. Ek het omtrént met die verpleër rumoer omdat hy 'n mansmens is, maar ek het later ingegee en gedoen soos hy sê,” vertel Beukes.
“Hy was knap gewees vir 'n mansmens. Ná die bevalling was ek baie tevrede. Hy het my gekalmeer en nadat ek heeltemal ontsluit het, het hy my mooi bygestaan,” sê Beukes.
Die broers vertel mense met vooroordele teenoor manlike verloskundige verpleërs sien vinnig daarvan af ná suksesvolle bevallings.
“As die oumas en ma's terugkom en jou bedank, dan voel jy lekker vir wat jy vir die gemeenskap beteken,” sê hulle.
* Me. Hilma Shikwambi, voorsitter van die Onafhanklike Vroedvrouevereniging van Namibië (Imana), sê om 'n vroedvrou te wees, is “nie vir sissies nie”.
“Jy moet 'n gebore vroedvrou wees. Jy kan nie bloot 'n opgeleide vroedvrou wees nie. Jy moet passie hê.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie