Rehoboth-seun se rare siekte
Rehoboth-seun se rare siekte

Rehoboth-seun se rare siekte

Na 'n lewe vol uitdagings gee 'n nieroorplanting hoop.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Beide sy niere is verwyder, hy kan slegs 'n klein bietjie vloeistof per dag inneem en hy kan nie altyd skool toe gaan nie.

Maar Julian Rittmann (11) van Rehoboth is 'n sonnige kind.

Julian, wat tans in die Windhoek Medi-­Clinic aansterk, is sover bekend die enigste kind in Namibië met Denys Drash-sindroom.

Hy is op 24 November 2005 in die Windhoek Medi-Clinic gebore en volgens sy ma, me. Agnes de Waldt, was dokters tydens haar swangerskap reeds bekommerd toe verskeie toetse bevestig het iets is fout met haar baba.

“Ek was 38 jaar oud, maar dokters kon nie met sekerheid sê wat fout was nie,” het sy gesê.

Julian is met die hulp van 'n keisersnee gebore.

Behalwe vir sy abnormale geslags­organe (hypospardias), was haar seun perfek, het De Waldt gesê.

Toe Julian ses weke oud was, moes hy 'n operasie ondergaan om 'n liesbreuk te herstel.

Sy gesiggie en voetjies was pofferig.

Op 18 maande is hy toe deur 'n plaaslike pediater met nefrotiese sindroom gediag­noseer en so het De Waldt en Julian se vele reise Kaapstad toe begin, omdat hy na 'n spesialis by die Vincent Pallotti-hospitaal verwys is.

Ná 'n nierbiopsie by die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad, is Julian met Denys Drash-sindroom gediagnoseer.

Sy abnormale geslagsorgane is terselfdertyd herstel.

Maar Julian moes vyf jaar lank elke ses maande vir opvolgbesoeke Suid-Afrika toe gaan.

“Ons lewens was deurmekaar en ons uitgawes het net groter geraak. Dit het my ook my huwelik gekos,” het De Waldt gesê.

Agnes het inligting oor haar seun se siekte verslind en is intussen weer getroud. 'n Maand ná haar tweede troue het Julian se biologiese pa in 'n motor­ongeluk gesterf.

Verlede jaar het die noodlot die gesin nog verder beproef toe Julian met nierversaking in die Windhoek Medi-Clinic se intensiewesorgeenheid opgeneem is. Sy bloeddruk was buitensporig hoog.

“Dit het ons huisgesin slapelose nagte besorg, maar dokters en hospitaalpersoneel het dit vir ons draagliker gemaak,” het De Waldt gesê.

In die tyd wat Julian in die hospitaal was, kon Agnes nie gaan werk nie en dit het maar broekskeur met die gesin gegaan. Julian moes ná sy ontslag drie keer 'n week dialise ontvang, waarvoor die gesin van Rehoboth Windhoek toe moes reis.

“My man moes sy werk bedank om na Julian om te sien en te sorg dat hy by die dialisesentrum en terug kom. Julian was meestal nie by die skool nie, maar danksy sy onderwysers en skoolhoof het hy op hoogte van sy skoolwerk gebly. Hy het in graad vyf verlede jaar selfs sesde in sy graad gestaan!”

In September verlede jaar moes dokters in 'n Johannesburgse hospitaal vir Julian 'n fistula skep, nadat dokters hier ontdek het sy aartjies was baie fyn.

En op 27 Desember verlede jaar is beide Julian se niere verwyder omdat sy bloeddruk so hoog was.

“My mediese fonds was in al dié tyd my anker en my rots en het my hierdeur gehelp,” het De Waldt gesê.

Intussen word Julian vir 'n nieroorplanting voorberei.

Hy kan nie teruggaan skool toe nie, omdat sy immuniteit so laag is.

Hy kan ook niks eet wat potassium of sout bevat nie, en hy kan net 500 ml vloeistof per dag inneem.

Sy ma sê: “Hy is baie intelligent, maar sy lewe is so ingeperk omdat hy meestal in 'n hospitaalbed is. Maar sy sonnige geaardheid laat almal glimlag!”

'n Trustfonds is vir Julian gestig om te help met sy mediese uitgawes: Die Julian Rittmann Trustfonds, reg.nr. 344/2007.

Skenkings kan gemaak word in die volgende rekening: Bank Windhoek, Rehoboth-takno: 486572, rekno: 8004483342. Vir meer besonderhede kan De Waldt by [email protected] gekontak word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!