Rehoboth-vrou verkrag, voorkop verbrysel

Die weestiener (14) van Rehoboth, wat glo verlede week verkrag en gemoor het, se oupa het hom “soos 'n hanslam grootgemaak”.
Denver Kisting
Denver Kisting op Rehoboth – Die bejaarde man wat ’n tiener sedert sy babadae alleen versorg het, is diep geskok oor die verkragting- en moordbeskuldigings teen dié seun.

Republikein verneem op goeie gesag dié man het die 14-jarige kind “volgens Christelike beginsels in die vrese van die Here” grootgemaak.

’n Bron na aan die ondersoek sê volgens die oupa het hy die kind “soos ’n hanslam grootgemaak” en het hy dít nie van die kind verwag nie.

Albei die kind se ouers is dood toe hy nog ’n baba was.

Die bejaarde man, wat die hof ingelig het hy sukkel met sy gehoor, is die seun se oupa aan moederskant.

Intussen sê ’n familielid van wyle me. Sarah Jagger (57) hul harte is stukkend. “Sy was die mooiste van die Jaggers.”

Jagger en die beskuldigde het mekaar geken, beweer dié vrou.

Hulle was egter nie familie nie.

’n Nadoodse ondersoek het bevind Jagger ís verkrag en is hoofsaaklik aan hoofbeserings dood.

Die tiener het glo verlede Maandag by Bahnhof, buite Rehoboth, haar voorkop vermoedelik met ’n klip verbrysel voor hy haar een voet met ’n mes afgesny het.

Hy het die voet na bewering in ’n plastieksak gesit en ’n kilometer van die lyk af weggegooi.

Die seun en vrou is beide na wat verneem word fyn gebou.

Die tiener is Woensdag in hegtenis geneem.

Hy het laat Donderdag in camera in die landdroshof op Rehoboth op aanklagte van moord, verkragting en brandstigting verskyn.

’n Bykomende klag van lykskending sal na verwagting môre tydens sy tweede hofverskyning bygevoeg word.

Die seun het glo ook verlede week twee plaashuise afgebrand.

Rehoboth steier steeds onder die skok ná die voorval.

Die seun het glo net tot graad 4 skoolgegaan en beweer hy drink en rook nie.

Mnr. Victor Mutumbulwa het verlede week namens die staat aangekla, terwyl landdros Andre Matulich op die bank was.

Die staatsaanklaer het borgtog teengestaan weens die moontlikheid dat die seun met die onvoltooide polisieondersoek kan inmeng.

’n Aantal verklarings moet nog by moontlike staatsgetuies geneem word.

Hiernaas het Mutumbulwa gesê dit is nóg in die openbare belang nóg in dié van die minderjarige beskuldigde om hom op borgtog vry te laat.

Sy woonadres moet ook nog bevestig word.

Die seun het die naweek in ’n sel vir jeugdiges by die Rehoboth-polisiekantoor deurgebring.

Die saak is tot môre uitgestel om die seun se aansoek om regshulp te verwerk en sodat ’n maatskaplike werker hom kan evalueer.

Daar was Vrydag grootskaalse verwarring by die hof toe ’n groot media-afvaardiging opdaag en hoor die seun is reeds die vorige dag voor die hof gedaag.

Hy sou aanvanklik Vrydag eers in die hof verskyn het.

Die kantoor van die aanklaer-generaal het glo egter gelas dat hy Donderdagmiddag moes verskyn.

’n Doodse stilte het Vrydag tydens die koerant se besoek aan Bahnhof, waar die dorp se treinstasie geleë is, oor dié nedersetting gehang. Die strate was meestal verlate.

Jagger sal na verwagting eerskomende naweek hier begrawe word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!