Reis om te vergeet wie jy is
Pedro Vorster - In die Rogie-watervalle, in die Skotse Hooglande, swem die salm vroegsomer vir hul lewens stroomop sodat hul nageslag kan lewe. Baie weet dit, maar minder het dit al sonder die hulp van National Geographic inderdaad gesien. Die visse se onverwagse wipspronge is ‘n belewenis wat die hartsnare vrolik pluk. Enige ou met yuppie-griep wat die salm se brawe pogings sien, behoort oombliklik daardeur genees te word.
Die visse se vordering is verbasend, want hulle swem letterlik in watervalwater na bo, asof hulle weier om te glo aan swaartekrag. Omdat jy weet dit sal 95% van die volwasse visse se laaste reis wees, word elke sprong fatalisties en meer as bloot ‘n akrobatiese toertjie.
Salm het ‘n varswater- en seelewensiklus, maar merkwaardig weet elke vis hoe om spesifiek terug te keer na die rivier van sy “oersprong” en die Rogie-valle is maar een van 65 springplekke in Skotland.
Vir die swakker swemmers het goedbedoelende groen sawwe harte langs die waterval ‘n kunsmatige, makliker, lui salmstroom gebou, maar dit lyk of die meeste van die visse nie die boodskap gekry het nie en steeds in die sterker stroom rivier-op spartel. Heel moontlik smaak die frisser, fikser salm ook lekkerder. Vierduisend jaar gelede is salm al waardeer en op die Pikte se regop rotspanele gegraveer.
Van die wiegende hangbrug oor die rivier kan een deel van die valle goed gesien word. Om veiligheidsredes mag net vyf mense op ‘n slag op die spanbrug wees, maar dit is ooglopend dat min besoekers kan lees.
Die Rogie-valle is in Rossshire, in die Black Waterrivier, sowat 2 km noordwes van die dorpie Contin.
Die valle word omring deur ‘n woud met baie maklike wandelpaaie. Al dreun die padverkeer soms te naby, ‘n wandelinkie in so ‘n woud bly ‘n salwende ervaring.
‘n Paartjie met baba los hul stootkarretjie ‘n kort entjie van die parkeerplekke waar een roete begin. Ons maak hulle daarop attent, maar hulle lag net.
Ons paadjie breek later oop waar van die dennebome ge-oes word en daar staan ‘n beer en grynslag. Gelukkig gekap uit hout.
Toe ons ná ‘n uur of so weer terugkom by die parkeerplek, staan die nuwe waentjie net waar dit gelos is met al sy wiele nog aan.
Woude in Skotland het goed versorgde staproetes wat duidelik gegradeer is, van maklik tot moeilik, of van “rolstoel” tot “waar is jou yspik”?
Cawdor-kasteel het vyf wandelpaaie in sy sprokiesagtige woud. Almal is maklik. Die kortste is net meer as ‘n kilometer en die langste agt. Die wandelpaaie of “nature trails”, is in die Groot Woud geleë en daar groei nog stokou eike, berke, trippopuliere, lysterbessies, sawelbome en steekpalms.
Die woud is nie noodwendig wild en wakker met diere nie, maar vir ‘n Namibiër bly dit ‘n groot lekkerte om langs ‘n helder murmelende stroompie in diep skaduwee te stap onder bome 10 keer ouer as jy.
Die grootste wild wat ek sover in die Skotse woude teegekom het, is swane. Gou was my romantiese beeld van die sierlike voël die nek ingeslaan. Hulle is meer befoeterd as werfganse. Maar iewers moet daar tog nog ‘n wilde vark of hert wees. Net nie hier nie. Verwag intussen om feetjies onder sampioenhuisies te sien.
‘n Skotse gebruik wat nie maklik in Namibië sal werk nie, is die “Free to Roam”-beginsel. Verskans in die wet mag ‘n wandelaar te enige tyd ‘n wildernis-area betree, daar fietsry, te perd kruis, wild uitkamp of in die mere swem, kano of seil.
Slegte nuus vir die viertrekvoertuie en knorjorse, maar geen motoraangedrewe voertuig word in sulke gebiede toegelaat nie.
Stappers word net aangeraai om die universiële reël, “Los die hek soos jy dit gekry het”, te eerbiedig en om verder volgens die Skotse Buitemuurse Kode ordentlik op te tree.
Gesoute reisigers sê: “Reis om te vergeet wie jy is.”
As jy in die stilte van ‘n Skotse woud loop, vergeet jy selfs waar jy is.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie