Reis van ’n leeftyd na Tokio 2020

Anna-Mart Kruger gesels oor haar wedervaringe agter die skerms as fisioterapeut vir die land se Olimpiese span.
Tanja Bause
Leandrea Louw

Walvisbaai se Anna-Mart Kruger het onlangs die Namibiese span na die Tokio 2020 Olimpiese Spele as fisioterapeut vergesel. Haar ervaring was hierdie keer heelwat anders as Rio 2016, aangesien sy dié keer deel van geskiedenis was.

Kruger, saam met die land se nuwe “golden girls” Christine Mboma en Beatrice Masilingi, hul afrigter Henk Botha, sowel as die marathonhardlopers Helalia Johannes en Rainhold Tomas en hul afrigter Robert Kaxuxuena het verlede week met hul terugkeer na Namibië ’n behoorlike helde-ontvang gekry.

“Om deel van die span te wees, was ’n voorreg en ek het elke oomblik geniet. Die Olimpiese silwermedalje van Christine was ’n bonus en as gevolg van haar sukses en dié van die span het die gemeenskap, hooggeplaastes en die media ons met ope arms ingewag.

“Dit was ’n wonderlike gevoel. Ek kry nog steeds hoendervleis. Dit was fenomenaal. Om alles te kroon, is ons die aand na Staatshuis genooi vir ’n dinee met ons president. Dit was ’n eens-in-’n-leeftyd ervaring.”

ELKE DAG GETOETS

Die Olimpiese Spele in Tokio is aangebied onder streng beperkings wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is.

“Ongelukkig kon ons geen besigtigingstoere in Tokio doen nie; ons moes te alle tye in die Olimpiese dorp bly. Ek kon niemand saamneem nie en in die stadions was geen toeskouers nie.

“Ek reken dié vreemde omstandighede het beslis bygedra tot die kameraadskap tussen die atlete. Dit was anders, maar dit het ook tot baie positiewe dinge gelei. Hoewel ons nie kon reis nie, was daar darem ander dinge wat ons kon beleef.”

Kruger was een van twee mediese personeellede vir die Namibiese span.

“Ek en dr. David Weber het toesig gehou oor die Covid-19-toetsing, aangesien ons elke dag getoets is.

“My hoofrol was om in elke behoefte van die atlete om te sien – enigiets van spiere losmaak, gewrigsmobilisasie-oefeninge en ‘strapping’ van moontlike beserings. Ek moes funksionaliteit en beweging evalueer, enige moontlike probleem identifiseer, fisioterapie toepas en verskillende modaliteite gebruik om die probleem op te los.”

Kruger sê sy was bevoorreg om van die eerste dag af by die Olimpiese Spele in Tokio te wees.

“Atlete moes vyf dae voor hul kompetisie arriveer en twee dae daarna vertrek, behalwe diegene wat aangewys is om agter te bly om die afsluitingseremonie by te woon.

“Logistiekgewys was ’n paar dinge anders; die marathon het byvoorbeeld omtrent 800 kilometer van ons af plaasgevind, so ek kon nie by hulle kompetisiedag uitkom nie. Ek het ook die verantwoordelikheid van die ander atlete gehad.”

DIE BEGINDAE

Kruger, gebore in Grootfontein, voltooi eers haar baccalaureus in menslike bewegingswetenskap aan Potchefstroom. Daarna studeer sy vir haar graad in fisioterapie aan die Universiteit van die Vrystaat. Benewens hierdie grade ontvang sy ook haar CCRP -kwalifikasie deur die Universiteit van Tennesee.

Sy is ook ’n gekwalifiseerde K9-praktisyn. “Ek het vir drie jaar ’n dierekliniek in Walvisbaai gehad.”

Kruger sê sy het die eerste keer met die wêreld van fisioterapie en biokinetika kennis gemaak toe op skool sy as hokkiespeler ’n besering opgedoen het.

“Vanweë die besering en operasies daarna kon ek nie meer verder presteer in my hokkie nie, of dit verder vat na provinsiale kleure nie, wat vir my ’n terugslag was.

“Ek het gevoel met fisioterapie kan ek ’n verskil maak – nie net vir sportmense nie, maar vir mense oor die algemeen wat sukkel met mediese probleme, sodat ek hul lewensgehalte kan verbeter.”

FOTO-HERINNERINGE

Afgesien van haar taak as fisioterapeut was Kruger ook die nie-amptelike fotograaf van die Namibiese spanne in Rio 2016 en Tokio 2020.

“Ek het mettertyd my selfgeleerde fotografie-vaardighede ontwikkel. By die Olimpiese Spele was dit wonderlik om oomblikke vas te vang en met die atlete te deel. Hulle kan meestal nie daaraan dink om foto’s te neem nie, want hulle moet meeding en oefen.

“Boonop het selfs die geakkrediteerde media nie altyd toegang tot die gebiede wat ek het nie. Ek kon dinge agter die skerms sien en ervaar. Dit was ’n groot voorreg om tot die span se herinneringe by te dra. Dis iets wat ek graag doen, so hoekom nie my foto’s deel tot voordeel van die span nie? Die foto’s is daar vir die span en die publiek. Dit was ewe wonderlik om die reaksie van die publiek te sien wat hierdie reis saam met ons beleef. ”

Die beskeie Kruger sê hoewel sy baie aandag met die foto’s neem en om deel te wees van die span, was sy daar om ’n diens te lewer.

“Op die ou end, vir my, om by te dra tot die sukses van die span – dis waaroor dit gaan. Ek glo ek het my beste diens gelewer vir elke atleet, maar om deel te wees van iets wonderliks – dis die beste van alles.

“Ek sien myself net as ’n plaaslike fisioterapeut wat gekies is om aan die Olimpiese Spele deel te neem en ons atlete by te staan. Niks meer nie."

GROOTSTE OOMBLIK

Kruger het Masilingi en Mboma vergesel tydens hul uitdunne, die semifinale asook die volgende aand se onvergeetlike finaal van die 200 meter. Geen Namibiër sal sommer dié wedloop vergeet waar Mboma met ’n tipiese versnelling en eindpoging die silwermedalje voor die VSA se Gabrielle Thomas en Jamaika se Olimpiese legende Shelly-Ann Fraser-Pryce weggeraap het nie.

“Ek moet sê hierdie 18-jarige meisies was koel onder druk. Voor die finaal het ons ’n paar asemhalingsoefeninge gedoen; ek het hulle ook ’n paar oefeninge laat doen om hul gewrigte los te maak, en ’n paar ander tegnieke wat op spesifieke spiere gerig was.

“Gedurende die vier uur voor die wedloop het ek ongeveer 1 uur 30 minute saam met elkeen van die meisies deurgebring.”

Tydens die naelloop het Kruger vanuit die pawiljoen die meisies luidkeels aangemoedig, terwyl sy met haar GoPro die oomblik vasgevang het.

“Dit was beslis die heel beste oomblik in my loopbaan. ’n Definitiewe hoogtepunt. Boonop was die spangees puik! Op die lughawe het ek teen Christine resies gehardloop; ek het vir haar gesê sy moet stadig gaan, want ek wil die vinnigste fisioterapeut in die land wees. ”

TERUG IN WALVIS

Kruger sê haar fokus is terug op haar praktyk, Anna-Mart Kruger Fisioterapie.

“Ek vat alles dag vir dag. My fokus is nou op die fisio’s wat saam met my werk; om hulle die toe te rus en geleenthede te gee om hulself te verbeter, jongmense te inspireer en met mense te deel waaroor fisioterapie gaan.

“Fisioterapie gaan daaroor om ’n verskil te maak; oor omgee en bydra tot iets wat groter is as ons en te besef dat fisioterapie ’n roeping is, nie net ’n werk nie.

“Ons praktyk se missie is om pasiënte van optimale fisioterapie te voorsien; ’n verskil te maak en by te dra tot ons gemeenskap; om ons te onderskei deur vir elke pasiënt uit ons pad te gaan en gebruik te maak van die nuutste bewysgebaseerde navorsing en tegnologie tot ons beskikking.

Sy verduidelik haar praktyk was die enigste aan die kus wat met Covid-19-pasiënte in die hospitaal te doen het.

“Dit was ’n moeilike tyd vir ons almal. Ek wil nou net fokus op die gesondheid van my kollegas en seker maak dit gaan goed met almal. Dis belangriker as die volgende groot ding.

“As die regering my weer nodig het om by te dra tot die Statebondspele (2022 in Birmingham), sal ek beslis die diens vir my land doen. Behalwe dit, is my praktyk nou my fokus.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer