Reisbeperking moet geld spaar
Reisbeperking moet geld spaar

Reisbeperking moet geld spaar

Ten einde geld te bespaar, het pres. Hage Geingob vir sy vakansie en sy besoek aan die AU kommersieel gevlieg.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn

Pres. Hage Geingob het gister ‘n maand lange beperking op buitelandse reise van ministers, adjunkministers en ander politieke ampsdraers geplaas.

Volgens ‘n verklaring deur die perssekretaris van staatshuis, mnr. Albertus Aochamub, het Geingob opdrag gegee dat geen versoeke vir buitelandse reise tot ná die einde van Februarie 2018 oorweeg sal word nie.

Die besluit hou verband met die president se oproepe om openbare besteding aan bande te lê, sê Aochamub.

Die minister van presidensiële sake, mnr. Frans Kapofi, het op navraag aan Republikein verduidelik dat die reisverbod aanvanklik net vir ‘n maand ingestel is, maar indien die president dit nodig ag, dit verleng kan word.

“Ons kom nou almal terug ná ‘n lang rusperiode. Hoe kan ons kort nadat ons terug is by die werk weer op ‘n vliegtuig oorsee wil wees? Die president wil met hierdie stap geld spaar en hy wil hê ministers moet tuis werk om die plaaslike agenda te bevorder,” het Kapofi gesê.

Gevra oor hoeveel die president met die stap hoop om te bespaar, het Kapofi gesê “alle bietjies help. Dit maak eintlik nie saak wat die presiese bedrag nie. Onthou, as ministers reis, vlieg hulle besigheidsklas en hulle word deur personeel vergesel, vir wie ook vliegtuigkaartjies gekoop moet word. Almal se verblyf moet ook betaal word en dit kos ook geld.”

In die verklaring word ook op Geingob se persoonlike besuinigsmaatreëls gewys.

“Die president het die leiding geneem deur sy eie reisuitgawes te beperk deur net absoluut kritieke buitelandse reise met kleiner afvaardigings te onderneem sedert hy drie jaar gelede president geword het,” lui die verklaring.

Boonop het Geingob vir sy Desember 2017 vakansie en die bywoning van die spitsberaad van die Afrika-unie in Addis Abeba in Januarie vanjaar nie van die presidensiële straalvliegtuig gebruik gemaak nie, maar geskeduleerde kommersiële vlugte “omdat dit meer kostedoeltreffend was vir die roetes wat hy gevlieg het”.

Kapofi sê hy het nie die presiese bedrae wat bespaar is nie. Tog wys hy daarop dat die koste van die presidensiële straler hoog is. Wanneer die straler oor lande onderweg na die bestemming vlieg, moet heffings betaal word. Wanneer die president byvoorbeeld vir drie dae in Addis Abeba is, moet parkeerfooie vir die vliegtuig op die lughawe betaal word. Vlugpersoneel se verblyf moet ook vir die duur van die konferensie betaal word.

“Die president het die somme gemaak en besef dit is goedkoper om van geskeduleerde kommersiële vlugte gebruik te maak.

“Net twee ministers het die president die keer na die AU-spitsberaad vergesel. Die president kyk krities na wie werklik ‘n bydrae kan lewer en daar moet wees wanneer hy sy afvaardiging saamstel. Diegene wat nie nodig is nie, moet tuis bly en die plaaslike agenda bevorder,” het Kapofi gesê.

In die hoofbegroting wat in Maart 2017 ter tafel gelê is, is bykans N$289,5 miljoen vir reis- en verblyfkoste (S&T) in 2017-'18 opsy gesit. Dié bedrag is in die halfjaarbegrotingshersiening in November met nagenoeg N$6,7 miljoen of 2,3% tot sowat N$282,8 miljoen gesny.

Die kantoor van die president se S&T-begroting vir die huidige fiskale jaar het egter onveranderd op ongeveer N$43,96 miljoen gebly.

Die jongste reisbeperking kom terwyl die Namibiese ekonomie sukkel om uit die greep van laer as verwagte groei, swak kommoditeitspryse en ‘n hoë skuldlas te ontsnap.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!