Rekenmeester erken skuld op 218 bedrogklagte
'n Voormalige rekenmeester sê hy het berou oor bedrog teen sy vorige werknemers en die verduistering van etlike miljoene Namibiese dollar.
Jacqueline Louw
Die Suid-Afrikaner Peter Tyran Kohler (45) het Maandag in die Windhoek-hoërhof op 218 klagte van bedrog skuldig gepleit.
Die klagte hou verband met geld wat uit Pennypinchers Timbercity se rekening in die persoonlike bankrekenings en aan krediteure van Kohler betaal is. Kohler was die rekenmeester by die onderneming se Windhoek- en Ongwediva-tak en bestuurder van die Ongwediva-tak.
Die verlies wat die maatskappy gely het weens geld wat Kohler so verduister het, is nagenoeg N$5,8 miljoen.
Regter Christie Liebenberg het Kohler skuldig bevind aan al die klagte teen hom nadat Kohler se regsverteenwoordiger, mnr. Mese Tjituri, sy skulderkenning aan die hof voorgelees het. Daarin sê Kohler hy was bewus van die onregmatigheid van sy optrede en sal alles in sy vermoë doen om die geld terug te betaal
Mnr. Gunnar Jensen, mede-eienaar van Pennypinchers Timbercity, het namens die staat getuig sowat N$717 490 is uit die verkoop van Kohler se persoonlike bates en die opbrengs van 'n voorsorgfonds verhaal. Jensen het ook gesê Kohler het die diefstal aan hom erken en hom ook om verskoning gevra. “Dit het swaar op sy gewete gerus. Hy wou dit uitsorteer en agter hom sit,” het Jensen getuig.
Kohler is in September 2015 in hegtenis geneem en sedertdien in aanhouding. Hy word van 218 klagte van bedrog, alternatiewelik diefstal, van N$5 856 076,01 aangekla. Hy was 'n rekenmeester by die Windhoek-tak van Pennypinchers Timbercity vanaf Oktober 2009 tot Februarie 2013 en daarna bestuurder by die Ongwediva-tak, waar hy tot sy inhegtenisneming ook die winkel se boekhouding behartig het.
Die staat beweer Kohler het vanaf Oktober 2009 die boekhoudingstelsel van die twee besighede gemanipuleer om die indruk te skep dat betalings aan krediteure van Pennypinchers Timbercity gemaak is, terwyl dit in twee bankrekeninge in sy eie naam inbetaal is.
Hy het ook van sy persoonlike skuld met sy werkgewer se geld betaal. Kohler het vanaf Oktober 2009 tot Julie 2015 sowat N$5,6 miljoen in sy eie bankrekeninge inbetaal.
Dinsdag het Kohler aan die hof gesê hy wens sy werkgewers het die diefstal vroeër ontdek, voordat dit buite beheer geraak het.
'n Emosionele Kohler het deurentyd getuig dat hy sy volle samewerking aan sy vorige werkgewer gegee het met die ondersoek na die bedrog, hy berou het en alles in sy vermoë sal doen om die geld terug te betaal.
Kohler het aan die hof vertel die motivering vir die diefstal was die begeerte om goedere te koop. Hy wou aanvanklik net die geld uit die maatskappy se rekening leen en dan terugbetaal, maar dit het nooit gebeur nie en hy het dit weer en weer gedoen. “Ons het almal begeertes, wat wissel van behoeftes tot drome,” het hy gesê. Op die regter se vraag wat van die N$5,8 miljoen geword het, het Kohler verbandbetalings, die versorging van sy moeder en die aankoop van lewensgoedere genoem. Daar was onder meer ses televisiestelle in sy huis op Ongwediva.
Die staat het in betoë ter verswaring van Kohler se vonnis gesê hy het gesteelde geld gebruik om 'n uitspattige lewenstyl te handhaaf en die hof versoek om 'n swaar straf op te lê. Vonnis sal op 7 Maart opgelê word.
Staatsadvokaat Ingrid Husselmann tree namens die staat op.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie