Rekordgetal kan Desert Dash takel
Rekordgetal kan Desert Dash takel

Rekordgetal kan Desert Dash takel

Bergfietsry
NAMPA
Die 13de weergawe van die jaarlikse Nedbank Desert Dash-bergfietsrit wat dié week bekendgestel is, beloof opnuut 'n vuurwarm stryd in veral die spankategorieë van twee of vier ryers.

Die Desert Dash is Namibië se grootste fietsryskouspel en strek oor 369 kilometer van hoofsaaklik grondpad tussen Windhoek en Swakopmund, wat binne 24 uur voltooi moet word.

Vanjaar se wedren spring op Vrydag 7 Desember om 15:00 in die Grove Mall in Windhoek weg. Die afsnytyd is die Saterdag om 15:00, wanneer voltooiers by die Platz am Meer-winkelsentrum in Swakopmund moet wees. Die eindstreep sal vir die eerste keer by laasgenoemde bestemming wees, nadat die Dash vorige jare by Tiger Reef klaargemaak het.

Die gedugte Konny Looser van Switserland het in 2017 as 28-jarige die solo-manskategorie vir die derde keer agtereenvolgens gewen (13 ure 55 minute), terwyl die 29-jarige Rebecca Robisch van Duitsland die solo-vrouewedren gewen het (16 ure 09 minute).

In die tweeman-afdeling het die span van Kia Elite, Cobus Smit en Drikus Coetzee eerste by die eindstreep aangekom, terwyl Michelle Vorster (Namibië) en Carmen Buchacher (RSA) in die kleure van die Janine en Suzelle Davin Sporttrust die eerste span van twee vroue was.

Mannie's Bike Mecca was tops in die spankategorie van vier mans, danksy die spanwerk van Tristan de Lange, Hans du Toit, Alex Miller en Danzel de Koe. Dié span het sowat 40 minute voor die Suid-Afrikaanse kombinasie van Team Kia UCT klaargemaak.



SPANNE VUURWARM

Die gemengde wenspan van vier was Indongo Toyota se André en Janine de Klerk saam met Michelle Döman en Eddie Viljoen. Die kampioenspan van vier vroue was die Hollard Masjiene (Marguerite Verwey, Antja du Toit, Wanda Tattersall en Hester Prins).

By die bekendstelling van die Desert Dash het Nedbank Namibia se mnr. Richard Meeks gesê die gewildheid van die Desert Dash groei steeds. As bewys het hy genoem hoedat die beskikbare plekke in die vierman-spankategorie vir vanjaar in 'n rekordtyd van 20 sekondes uitverkoop is.

“Vanjaar sal ons ruiters van 14 verskillende lande hê wat vir die toppryse meeding. Omtrent 620 van die Dash-ryers sal Namibiërs wees, met Suid-Afrikaners omtrent die helfte van die res (311),” het hy gesê. Uit Duitsland (44) en Brittanje (tien) kom etlike ryers, terwyl Oostenryk, Luxemburg, Kanda, die VSA en Frank­ryk ook verteenwoordigers het.

Die wedren strek oor ses skofte en ryers kan deelneem in spanne van twee of vier (mans, vroue of gemeng), of hulle kan as soloryers meeding.

As soloryer hou Namibië se Mannie Heymans die spoedrekord in alle kategorieë toe hy in 12 uur 13 minute op Swakopmund aangekom het, hoewel bygesê moet word dat die roete oor die jare nie deurgaans dieselfde gebly het nie.

'n Nuwe rekordgetal van altesame 1 020 ryers sal na verwagting vanjaar meeding, waarvan 220 in die solokategorie deelneem. 

– Bygewerk van Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer