Rekordhouer Theuns terug in prentjie?
Rekordhouer Theuns terug in prentjie?

Rekordhouer Theuns terug in prentjie?

Die 34-jarige losskakel speel weer voltyds in Frankryk en het laas naweek 25 skoppunte vir sy klub aangeteken.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Theuns Kotzé, die Namibiese rekordhouer met 430 punte in toetsrugby, is terug op die speelveld vir die Franse derdeliga­klub Cop le Puy.

Die 34-jarige Kotzé het Namibië vanaf 2011 in 40 toetse verteenwoordig, waarvan die laaste in November 2017 teen Uruguay in Windhoek was.

“Ek speel weer sedert Augustus voltyds in Frankyk en doen al my diplomas in rugby-afrigting. So ek rig hier af ook, maar ek speel voltyds.

“Ons klub het sover ses ligawedstryde gespeel, waarvan ons vyf gewen het om nou boaan die puntelys te wees.

“My fiksheid is nie sleg nie. Nog so drie maande, dan is ek weer in topvorm. Ek doen Crossfit dat dit bars. Ek geniet dit vreeslik om terug te wees,” vertel hy.

Met sy skopwerk pale toe het dit sover ook goed gegaan in Frankryk, sê hy. Die afgelope naweek het hy 25 punte aangeteken, met sewe strafdoele en twee doelskoppe. “In my vierde wedstryd het ek 'n skop van 65 meter teen die paal vasgeskop, maar nog een van 55 meter was oor.”

Op die vraag of hy ambisie koester om soos 'n Morné Steyn weer 'n ernstige terugkeer tot toetsrugby te maak, sê hy: “As die tyd reg is, sal ek weer speel, ja. Namibië is na aan my hart. Ek sal enige iets vir die span doen. As dit beteken net my longe uitskree, sal ek dit ook doen.”

Hy is nog nie deur die Namibië Rugby-unie of die nasionale afrigterspan genader nie. “Ek dink nie enigiemand weet ek het in die stilligheid weer begin speel nie.

“Ek glo die jong manne moet voor vat, maar ek dink hulle het ook leiding nodig. Ervaring. Goeie mengsel.”

Kotzé se kompeterende gees en aanvallende instink, tesame met een van die mees akkurate skopvoete waarvan enige span kan droom, het hom 'n suksesvolle toetsloopbaan besorg, wat agt Wêreldbekertoetse in Nieu-Seeland 2011 en Engeland 2015 ingesluit het.

Van sy vyf skepdoele in toetse is sy drietal binne die eerste kwart van die wedstryd teen Fidji in 2011 steeds 'n onvergeetlike Wêreldbeker-herinnering. Vier jaar later in Engeland was hy die mees akkurate stelskopper in die toernooi, met 12 uit 13 treffers.

Sedert sy laaste verskyning vier jaar gelede het Cliven Loubser (tans op 169 punte in 17 toetse), Helarius Kisting en P.W. Steenkamp hulle as Namibië se voorkeur-losskakels gevestig, met eersgenoemde twee wat vir die 2019 Wêreldbeker in Japan gekies is.

Al drie speel sedertdien hul rugby op professionele vlak oorsee – onderskeidelik by klubs in die VSA, Roemenië en Pole. Die nasionale afrigter Allister Coetzee het vir vandeesweek se oefenkamp in Stellenbosch en komende naweek se toets teen Kenia op die knoppies van Loubser en Henrique Olivier (Rehoboth-rugbyklub) as losskakels en Kisting as een van drie skrumskakels gedruk.

“Ek ken min name in die groep, maar ek is bly om te sien die jong manne kom deur. Dis baie lekker. Ek is ook bly om te sien Renaldo (Bothma) is terug. Hy het baie deurgemaak ná die Wêreldbeker, maar ek weet hy is op die regte pad. Hy sal die jong ouens ook baie goed bystaan.”

Dit is reeds bevestig dat Rugby Afrika in Julie volgende jaar sy kontinentale kwalifiserende WB-toernooi in Frankryk (gasheerland vir die 2023 Wêreldbeker) gaan aanbied.

Kotzé sê: “Zimbabwe sal die grootste kompetisie wees, dink ek. Hulle het 'n baie sterk groep.

“Ons moet kwalifiseer. As ons nie gaan kwalifiseer nie, kan ons maar totsiens sê vir ons land se rugby.”

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!