Rekordoes vanjaar verwag
Alles dui daarop dat mielieboere vanjaar ’n reuse-oes van die lande gaan haal.
Ronelle Rademeyer - Dansky goeie neerslae gedurende Januarie en Februarie in veral die droëland-verboudingsgebiede, kan Namibië uitsien na ’n witmielieoes van 69 000 ton.
Boere in die Otavi-vallei waar baie van die land se droëlandverbouing plaasvind, het tussen 800 mm en 1 000 mm reën gemeet, sê mnr. Willem Enslin, voorsitter van die streekslandbou-unie vir Grootfontein, Tsumeb en Otavi.
Die Namibiese Akkerbouraad sê in ’n verklaring hierdie is nog net ’n vooruitskatting en die opbrengs kan nog deur onvoorsiene faktore beïnvloed word.
As die verwagte “tweede” mielieopbrengs op plase in die Groenskema bygereken word, kan die oes soveel as 72 000 ton beloop. Dié mielies sal teen die noordelike grensriviere geplant word sodra die oes wat tans op die lande is, afgehaal word, sê die raad.
Die beste oes wat die land die afgelope 27 jaar opgelewer het, was dié van die 2012-’13-oesjaar toe 72 438 ton mielies geoes is.
Volgens die Akkerbouraad word sowat 55% van die mielies onder besproeiing verbou en 45% onder droëland-toestande.
Tans word 59% van die mielies onder besproeing op Groenskema-plase verbou. Net 41% van besproeiingsmielies is deur private produsente aangeplant, sê dié raad.
Droëland-verbouding vind met die uitsondering van enkele kleinskaalboere in die Zambezistreek, in die kommersiële boerderyegebiede plaas.
Die Akkerbouraad sê dié goeie mielieoes word verwag ondanks die impak wat die uitbreking van die herfskommandowurm-plaag op gewasse gehad het.
“Die wurms het voorgekom op plase in die Groenskema, die Zambezistreek, die mieliedriehoek tussen Grootfontein, Tsumeb en Otavi asook op plase in die sentraal-oostelike dele van die land,” sê die Akkerbouraad in sy verklaring. “Produsente het op eie koste plaagbeheer toegepas en kon daarom die grootste deel van hul verwagte oeste red.”
Volgens Enslin is boere in sy streek nog nie seker wat die impak van die herfskommandowurm op hul oeste gaan wees nie.
“Aangesien die wurm die mieliekoppe vreet, sal die skade eers wys nadat die mielies geoes is en wanneer die gradering geskied,” sê hy.
Die bestrydingskoste, sê hy, het sowat N$300 per hektaar beloop. “Die belangrikste aspek van chemiese beheer is om die wurm dood te maak as dit nog jonk is. Verder moet die plante ook gespuit word wanneer dit nog jonk is, want die gif moet met ’n hoëdrukspuit van bo af toegedien word,” het hy aan Republikein verduidelik.
Enslin sê ’n kwessie waaraan mielieprodusente in die toekoms sal moet aandag gee, is vloedbeheer.
“Ons het hierdie seisoen ten minste drie groot buie van tussen 60 en 80 mm gehad. Dit het tot verspoelings in die lande gelei en meegebring dat van die bogrond, saad en kunsmis weggespoel het.”
Hy bereken sowat 400 ha van die 1 000 ha gewasse in die Otavi-vallei het weens hierdie verspoelings skade gely.
Die Akkerbouraad sê hy verwag ook nie vanjaar enige probleme met invoere nie.
Namibiese meulenaars mag eers mielies van die buiteland af invoer wanneer al die mielies wat plaaslik verbou is, opgebruik is.
“Aangesien Suid-Afrika verwag om ’n witmielieoes van 14 miljoen ton in te samel, behoort die buurland nie probleme te ervaar om aan kliënte in Namibië mielies te voorsien nie,” sê die Akkerbouraad.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie