Rekordpryse vir tollies
Rekordpryse vir tollies

Rekordpryse vir tollies

Op twee Noorde-veilings die afgelope week het gemiddelde pryse vir tollies die N$48/kg-merk oortref.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Goeie reënneerslae in die ­noordooste van die land, 'n kleiner aanbod asook sterk ­kompetisie onder kopers het daartoe gelei dat die gemiddelde pryse van tollies die afgelope week die N$48/kg-merk op Noorde-veilings verbygesteek het.

'n Gemiddelde prys van N$48,62 is gister vir tollies ligter as 130 kg op Agra se veiling op Otjiwarongo betaal, wat nog aan die gang was.

Agra se hoofbestuurder van veilings, mnr. Paul Klein, is verras dat verse (131 tot 200 kg) op dié veiling toe reeds 'n gemiddelde prys van N$40,13 behaal het.

“Die aanbod van verse op veilings was vir lank swak en hulle het tot dusver nie noodwendig hoë pryse behaal nie,” het Klein gesê.

Terselfder­tyd is die hoog­ste prys van N$48,97 per kg vir tollies onder 130 kg op 'n Blaauwberg-veiling Dinsdag op Grootfontein betaal, terwyl hul gemiddelde prys op N$48,17 gestaan het. Versies in dieselfde gewigsklas is ook vir 'n gemiddelde prys van N$44,89 verkoop.

Op beide veilings was die aanbod egter kleiner as gewoonlik, met veegetalle wat op tussen 500 en 600 gestaan het.

KOMPETISIE TUSSEN KOPERS

Mnr. Piet Schrader, eienaar van Blaauwberg Auctioneers, sê hierdie is inderdaad rekordpryse en is eintlik weens die droogte, waarvan die impak nou eers werklik gevoel word.

Hy en Klein is dit eens dat die pryse aangedryf word deur sterk kompetisie tussen voerkrale asook plaaslike kopers, terwyl die aanbod laer as vorige jare is.

Schrader glo die aanbod van vee gaan klein bly, selfs tot in die nuwe reënseisoen, terwyl die pryse na verwagting hoog sal bly.

“Dit is egter nie volhoubaar vir Namibiese boere om bees teen dié pryse te koop en osse te maak wat aan slagplase verkoop moet word nie. Dit is egter hoe die vryemarkstelsel werk, waarby ons nie durf inmeng nie.

“Die hoë pryse wys kopers het toegang tot geld en weiding en hulle wil koop. Ek beskou dit as baie goed, dit motiveer produksie onder speenkalfprodusente.

“Dis goed vir landbou en goed vir ons land,” het Schrader gesê.

AANBOD

Klein sê dieselfde tendens word tans in Suid-Afrika bespeur, terwyl die geelmielieprys na verwagting gaan daal en voerkrale nog nie vol is nie.

Hy sê die oplewing in tolliepryse word reeds vir sowat ses weke tot 'n maand ervaar, met uitskieters wat vir tot N$54 of N$50 per kg verkoop is. Sulke pryse was egter die uit­sondering.

Hy sê die kleiner aanbod op veilings kan toegeskryf word omdat mense verse vir kuddebou-doeleindes ná die droogte terughou, terwyl die koeikudde tans ook kleiner is en die droogte tot 'n vertraging van die kalfseisoen gelei het.

Klein sê die vraag na tollies is nog onderdruk in sentrale gebiede soos Windhoek, Rehoboth en die Khomas Hochland, waar dit nog nie so baie gereën het nie, terwyl sake beter op onder meer Gobabis lyk.

SENTRALE DELE

Windhoek Livestock Auctioneers (WLA) se mede-eienaar, mnr. Johan Smith, sê in die sentrale dele van die land beweeg pryse egter redelik sywaarts.

“Dit het hier nog nie werklik gereën dat daar soveel belangstelling in vee getoon word nie.” Hy voeg by daar waar dit wel gereën het, het die voorkoms van enorme veldbrande die koperslus geblus.

Hy is van mening dat skraal diere en aanteeldiere – dit waarby mense kan waarde toevoeg – se pryse sal optel sodra die reën kom.

“Daar sal 'n groot aanvraag wees, maar ek dink ons veegetalle sal erg afneem,” het Smith gesê.

“As die reën val, gaan mense hul vee terughou en self die weiding benut,” het hy gesê.

Op Blaauwberg se veiling het tollies en verse in die gewigsklas 131 kg tot 200 kg ook gemiddelde pryse van onderskeidelik N$45,74 per kg en N$42,37 per kg behaal.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer