Rekords by die dosyne

Swem
Die Bank Windhoek nasionale Namibiese langbadswemkampioenskappe (50 m) is die afgelope naweek in die hoofstad aangebied waaraan 164 atlete van sewe klubs deelgeneem het en Dolphins van Windhoek as die beste span bekroon is.

Aqua, Dolphins, Marlins, Namib Swemakademie, Oranjemund Sharks, Swakopmund en Lechwe-swemklub van Zambië het oor vier dae by die munisipale swembad in Olympia saamgetrek om die water te laat spat.

Behalwe dat swemmers om die voorste louere meeding, verdien hulle ook punte van die Fédération Internationale de Natation (Fina), die internasionale beheerliggaam, wat sterk in ‘n swemmer se guns tel.

Hoewel deelnemers nog nie hul beste peil die afgelope seisoen bereik het nie, is verskeie rekords wat reeds ‘n hele aantal jare gelede opgestel is, die naweek verpletter. In die 200 m-vryslagaflos het Nico Esslinger, Quinn Ellis, Oliver Ohm en José Canjulo die ses jaar oue rekordtyd van 2 minute 07.23 sekondes tot 2 minute 03.19 sekondes verbeter.

In die 200 m-wisselslagaflos is Daniel Lasso-Drews saam met Quinn Eliis, Oliver Ohm en José Canjulo te goed vir die die 2 minute 27.52 sekondes-rekord van drie jaar gelede en stel ‘n nuwe standaard met ‘n uitstekende 2 minute 23.32 sekondes.

Deelnemers wat die meeste Fina-punte met ‘n enkele vertoning gedurende dié kampioenskap verdien, word vir hul prestasie beloon. Victoria Ellmies en Heleni Stergiades, wat van Namibië se voorste meisieswemmers is, deel die trofee vir die beste individuele vertoning van die naweek met 589 Fina-punte in die 200 m. Ellmies skitter in die 200 m-vryslag terwyl Stergiades haar in die 200 m-wisselslag ewenaar.

Beide meisies was uiteraard trots op hul prestasies en Stergiades kon nie haar opgewondenheid wegsteek nie.

“Dit is ‘n geweldige eer vir my om die prys te wen. Ek wil my afrigter, ouers en al my spanmaats bedank wat my aangespoor het om my beste te lewer,” het Ellmies met die prysuitdeling Sondag gesê.

“Ek is so trots op myself, want ons het die afgelope weke hard gewerk en nou is daar uiteindelik positiewe resultate vir al die ure wat ons spandeer het. Dankie aan my pa en afrigter wat my motiveer om aan te hou swem en vir God wat die lig in my lewe laat brand,” het Stergiades gesê.

Monica Dahl het dieselfde trofee in 1988 ontvang en was een van die eerste swemmers wat Namibië later in 1992 en 1996 in Barcelona (Spanje) en Atlanta (Amerika) by die Olimpiese Somerspele verteenwoordig het.

Mnr. Jurie Badenhorst, skakelbeampte van die Namibiese Swem-unie (NSU), het Bank Windhoek vir sy borgskap en volgehoue ondersteuning bedank.

“Baie dankie aan Bank Windhoek vir jul belegging in swem. Jul borgskap het gesorg dat ons die jaarlikse nasionale langbadkampioenskappe kon aanbied. Ons is tevrede met die swemmers se resultate en al is hulle nie heeltemal op peil nie was dit goed. Die atlete is tans besig om vir die internasionale Sone 4-kampioenskap van die Afrika Swemkonfederasie (CANA) in Malawi voor te berei. Daarna kom die Suid-Afrikaanse nasionale juniorkampioenskappe aan die beurt wat volgende maand plaasvind. Wat ons die afgelope naweek gesien het, maak ons baie trots,” het Badenhorst vertel.

Uitslae

Seuns 14 jaar en jonger: Junior Victor Ludorum Jose Canjulo 168 punte, 2. Mikah Burger 153, 3. Oliver Durand 109. Senior Victor Ludorum Ronan Wantenaar 2848 Finapunte, 2. Corné Le Roux 2559, 3. Jorn Diekmann 2463. Meisies 14 jaar en jonger: Junior Victrix Ludorum Viktoria Ellmies 155, 2. Tiana Esslinger 133, 3. Danielle Mostert 96. Senior Victrix Ludorum Heleni Stergiadis 2922 Fina-punte, 2. Viktoria Ellmies 2709, 3. Joanne Liebenberg 2657.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!