Rekords spat vir houtskoolproduksie
Rekords spat vir houtskoolproduksie

Rekords spat vir houtskoolproduksie

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Ongeag logistieke uitdagings het plaaslike houtskoolproduksie in Maart, Mei en Junie vanjaar rekordhoogtes ervaar, met internasionale maatskappye wat dit opgeraap het.

Terselfdertyd toon opgedateerde syfers dat soveel as 45 miljoen ha in Namibië loop tans onder ­ernstige verbossing deur.

“Dié verbossingsyfers groei jaarliks en ten spyte van ons beste pogings, sien ons nog geen afname nie,” het mnr. Michael Degé, bestuurder van die Namibië Houtskoolvereniging (NCA), gister tydens 'n ­praatjie by die Namibië ­Universiteit vir ­Wetenskap en Tegnologie (Nust) gesê.

Die tema was “Bosbiomassa in die konteks van klimaatsverandering en ekonomiese ontwikkeling”.



GROEI

Degé het gesê die afgelope maande groei hul vereniging se ­lidmaatskap eksponensieel en het teen einde Junie reeds 1 148 lede gehad.

Hy het beklemtoon die hoofdoel van houtskoolproduksie moet die verantwoordelike herstel van weiding bly en nie om 'n vinnige inkomste te probeer maak nie. Hy sê mense uit veral die toerisme en jagbedryf het hulle onlangs tot hout­skoolproduksie begin wend, terwyl dit ook 'n oorlewingsmeganisme vir talle tydens die droogte was.

Degé sê die houtskoolbedryf word geken aan wisselvalligheid en dit is moeilik om te voorspel wat ­volgende jaar in markte sal gebeur. “Die vraag neig steeds opwaarts, maar jy kan nooit seker wees van wat volgende gaan gebeur nie,” het hy gesê.

Hy het beklemtoon dat produsente by die Forest Stewardship Council (FSC) gesertifiseer moet wees sodat daar seker gemaak word houtskool word op 'n volhoubare, omgewings- en arbeidsvriendelike wyse geproduseer.

Hy sê dit is ook die rede waarom die NCA die ministerie van handel en nywerheid steun in hul poging om nasionale standaarde op te stel.



NUWE TEGNOLOGIE

Hy vertel hoe die bedryf, danksy navorsing en nuwe ontwikkelings, reeds daarin kon slaag om houtskool op 'n meer doeltreffende en omgewingsvriendelike wyse te produseer.

Tradisionele kilns kan nou met nuwe retort-kilns vervang word en met tegnologie toegerus word wat rook met minstens 60% kan ­verminder. So kan die gehalte van houtskool verbeter, terwyl verkoelingsapparate die produksieproses versnel en help om hout meer doeltreffend in houtskool om te skakel.

Terselfdertyd hou byprodukte, soos biochar ook groot moontlikhede in, het Degé gesê.

Mnr. Klaus Schade, 'n onafhank­like ekonomiese konsultant en navorsings­vennoot, het tydens die geleentheid gesê na raming lei ­verbossing jaarliks tot verliese van tot N$2 miljard in die plaaslike ekonomie.

Terselfdertyd word net sowat 8,3% jaarliks van die totale moontlike volhoubare oes van bosse benut.

Bosse kan vir onder meer as boskos, houtskool en die ­produksie van houtskerwe vir energie-opwekkingsdoeleindes benut word.

Schade sê verlede jaar was die uitvoerwaarde van plaaslike houtskool N$650 miljoen en die landbouproduk wat die derde meeste uitgevoer is. Hy het verduidelik dat dit tot werkskepping in die vervaardiging-, navorsing-, finansiële, handel, vervoer- en landbousektore lei.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!