Relletjie ontspoor Roger nie op Roland Garros
Relletjie ontspoor Roger nie op Roland Garros

Relletjie ontspoor Roger nie op Roland Garros

Tennis
Marizanne Kok – Een van sport se mees gebruikte spreekwoorde lui: Vorm is tydelik, maar klas is vir ewig. As iemand ooit ’n boek van sportwyshede uitgee, hoef hulle nie verder te soek nie as ’n foto van Roger Federer om bogenoemde mee te illustreer.
Die 39-jarige Switser is Donderdag ’n ordentlike toets gegee deur die Kroaat Marin Cilic, maar het dit met vlieënde vaandels geslaag om hul tenniswedstryd in die tweede ronde van die Franse Ope met 6-2, 2-6, 7-6(4), 6-2 te wen.
Soos die telbord aandui, het Federer wel in die middel van die wedstryd aan die agterspeen gesuig, terwyl Cilic hom met ritse kraghoue van oral op die baan gepeper het. Boonop het daar in die tweede stel iets gebeur wat die wêreld in die twee dekades van Federer se beroepsloopbaan nog maar min gesien het: ’n relletjie tussen dié Switser en die skeidsregter.
Federer was met 1-3 agter ná Cilic vroeg in die tweede stel deurgebreek het, maar het op 40-40 ’n gulde geleentheid gehad om terug te breek.
Sy planne is egter onderbreek toe die skeidsregter hom gewaarsku het dat hy tyd verspeel, omdat hy tussen punte te stadig na en van sy handdoek aan die kant van die baan geloop het.
Weens die Covid-19-pandemie word handdoeke nie meer deur die baljoggies aan spelers gegee nie en moet hulle dus self een gaan haal om sweet af te vee.
Federer, wat net enkele weke gelede teruggekeer het ná ’n lang herstel van ’n knieoperasie in 2020, raak nog gewoond aan die reëling, maar die slakkepas waarmee hy dié taak behartig het, het die skeidsregter beduiwel.
Die Switser het in reaksie op die waarskuwing by die skeidsregter se stoel gaan staan en in Frans met hom geredekawel.
Daar het nie harde woorde geval nie – dit was nog nooit Federer se styl nie – maar hy het dit met die ondersteuning van die skare duidelik gemaak dat hy nie tevrede is met die man in die stoel se kommunikasie nie, en selfs vir Cilic gevra of hy dink hy speel te stadig.
Cilic het wyslik besluit om nie betrokke te raak nie.
Ofskoon Federer onmiddellik ná die drama ’n breekpunt afgedwing het, het Cilic tog die pot (én vier van die volgende vyf) gewen.
Sy onenigheid met die skeidsregter het gelukkig nie lank in Federer se agterkop vasgehaak nie en hy het in die derde pot van die derde stel deurgebreek.
Cilic het sake drie potte later gelyk gemaak met ’n deurbraak van sy eie en albei het daarna vasgebyt tot in die valbylpot. ï
Hier het Federer maklik beheer van sake geneem om die gety heeltemal in sy guns te laat swaai en met genoeg momentum die vierde stel begin sonder om weer terug te kyk nie.
Die 20-malige Grand Slam-kampioen was duidelik in die wolke ná die sege en het in sy TV-onderhoud te kenne gegee hy het nie verwag om so goed te speel nie.
“Ek is verras deur die hoë vlak van tennis wat ek vandag opgedis het, want ek het natuurlik nie die laaste tyd baie gespeel nie,” het hy gesê.
“Veral die manier waarop ek in die valbylpot van die derde stel afgeslaan het, maak my baie gelukkig,” het hy gesê.
Die Switser se sukses in die tweede ronde het gevolg kort ná die wêreld se voorste speler, Novak Djokovic, ook sy plek in die derde ronde bespreek het.
Hy het ’n makliker roete as Federer gehad in sy wedstryd teen Uruguay se Pablo Cuevas.
Hoewel Cuevas met meer ywer en veggees in die derde stel gespeel het, het Djokovic nooit onseker van homself gelyk nie en binne 126 minute met 6-3, 6-2, 6-4 geseëvier.
As alles volgens plan verloop, sal Djokovic en Federer mekaar in die kwarteindronde ontmoet, hoewel daar natuurlik nog baie water in die see moet loop.
In die stadium lyk albei baie goed, met nie een wat tot dusver ’n vraag gekry het wat hulle nie kon beantwoord nie.
Die hele tenniswêreld sal styf duim vas hou dat dit ook in die duo se volgende twee wedstryde die geval is. Vir ’n tweestryd tussen dié legendes trek niemand immers ooit neus op nie.
• Dit was ’n dag om te vergeet vir Franse tennisliefhebbers, met beide hul verteenwoordigers in die mansenkelspel wat Donderdag uitgeskakel is.
Die 14de gekeurde Gael Monfils het ’n skok-nederlaag teen die Sweed Mikael Ymer (105de op die wêreldranglys) gely.
Die 22-jarige Ymer het Monfils uit die staanspoor laat klippe kou en uiteindelik relatief maklik met 6-0, 2-6, 6-4, 6-3 gewen.
In die aandsessie moes Richard Gasquet die knie buig voor die koning van klei, toe die derde gekeurde Spanjaard Rafael Nadal met 6-0, 7-6, 6-2 geseëvier het.
– Netwerk24


FOTO
Oog op die bal . . . Roger Federer het Donderdag net meer as twee en ’n half ure nodig gehad om sy plek in die derde ronde van die Franse Ope te bespreek. Foto Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-09-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Manchester City 2 vs 2 Arsenal | Brighton 2 vs 2 Nottingham Forest LaLiga: Real Madrid 3 vs 2 Deportivo Alaves | Valencia 0 vs 0 Osasuna | Sevilla 2 vs 1 Real Valladolid | Real Betis 1 vs 2 Mallorca | Rayo Vallecano 1 vs 1 Atletico Madrid | Villarreal 1 vs 5 Barcelona | Athletic Club 3 vs 1 Celta Vigo | Getafe 1 vs 1 Leganés SerieA: Atalanta 2 vs 3 Como | Inter Milan 1 vs 2 AC Milan | AS Roma 3 vs 0 Udinese | Monza 1 vs 2 Bologna | Fiorentina 2 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Preston North End 0 vs 0 Blackburn Rovers English Championship: Preston North End 0 vs 0 Blackburn Rovers #N/A Currency: GBP to NAD 22.87 | EUR to NAD 19.17 | CNY to NAD 2.44 | USD to NAD 17.16 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.26 | EGP to NAD 0.34 | KES to NAD 0.13 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.64 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.14 | RUB to NAD 0.18 | INR to NAD 0.21 | USD to DZD 131.64 | USD to AOA 933.05 | USD to BWP 13.12 | USD to EGP 48.49 | USD to KES 128.48 | USD to NGN 1596.98 | USD to ZAR 17.16 | USD to ZMW 26.3 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1845.32 Up +0.73% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 14193.3 Down -0.53% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 30871.1 Down -0.49% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI 9651.25 Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 660.15/OZ UP +0.07% | Copper US$ 4.46/lb DOWN -0.009 | Zinc US$ 3 012.80/T DOWN -0.12% | Brent Crude Oil US$ 73.99/BBP DOWN -0.0163 | Platinum US$ 989.11/OZ UP +0.08% #N/A