Remdesivir vir staats- en private pasiënte
Henriette Lamprecht
Die deurbraakmedikasie vir baie ernstige siek Covid-19-pasiënte is vir beide staats- en private pasiënte in Namibië beskikbaar.
Remdesivir verkort dié pasiënte se hersteltydperk.
Volgens die Namibiese pulmonoloog dr. Willie Bruwer word dit nie gebruik vir Covid-19-pasiënte met ligte of matige simptome nie en geld dit nie vir pediatriese pasiënte nie. Die behandeling geld in baie ernstige gevalle vir pasiënte wat onder meer in asemnood verkeer, intensiewe sorg vereis en waar die asemhalingstempo meer as 30 is. Volgens Bruwer is die normale asemhaling vir volwassenes ongeveer 14.
Bruwer verwys ook na die suurstofsaturasiekoers van 90 of 91 wat gebruik word om te bepaal of die pasiënt remdesivir-behandeling ontvang.
Suurstofversadiging meet die persentasie oksiehemoglobien (suurstofgebonde hemoglobien) in die bloed en is 'n belangrike parameter om die inhoud van suurstof in die bloed en die aflewering van suurstof te bepaal.
Bruwer het gesê hy werk nou saam met die staat en behandelingsprotokol is hier “baie dieselfde” as wat in private hospitale gebruik word.
Volgens hom het die Amerikaanse biofarmaseutiese maatskappy Gilead Sciences, Inc. die patent vir remdesivir aan generiese maatskappye weggegee om die produk te vervaardig.
Gilead Sciences, Inc. doen navorsing en ontwikkel en kommersialiseer medisyne en fokus hoofsaaklik op antivirale medikasie wat in die behandeling van MIV, hepatitis B en C, asook griep gebruik word.
Dit is volgens hom “bietjie vroeg” om die presiese sukseskoers van remdesivir vir ernstige gevalle in Namibië te bepaal.
“Dit word gebruik vir pasiënte wat klaar baie siek is en hulle doen redelik goed daarmee. Die voordele is dit kan tot 'n 30% afname in mortaliteit en ook 'n verkorte hospitaalverblyf lei,” het hy gesê.
Die behandeling behels twee ampules remdesivir op dag een, gevolg deur een elk op dag 2, 3, 4 en 5.
“As die persoon baie siek is, strek die behandeling tot dag 10, jy gebruik dus ongeveer ses tot 11 ampules.”
Volgens die adjunk- uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, me. Petronella Masabane, koop die ministerie die generiese weergawe van remdesivir van die Indiese farmaseutiese maatskappy, Jubilant Life Sciences Limited wat 'n lisensie van Gilead Services, Inc. het om die generiese weergawe vir 'n spesifieke sone te vervaardig.
Gilead Services, Inc. verkoop volgens Masabane net die handelsmerkmedikasie aan ontwikkelde lande teen US$390.
Vir ontwikkelende lande is lisensies aan vyf maatskappye toegestaan om die generiese weergawe te vervaardig.
“Ons het sowat N$1 000 per ampule betaal en 'n pasiënt sal tipies ses ampules nodig hê. Vir baie ernstige gevalle skuif dit op na 12 ampules oor 'n tydperk van tien dae,” het sy gesê.
Met verwysing na die koste vir staatspasiënte het Masabane gesê dié pasiënte betaal 'n enkelbedrag van N$4 by 'n kliniek, N$8 by 'n gesondheidsentrum en N$15 by 'n hospitaal. Na-ure by laasgenoemde is die bedrag N$30.
“As 'n pasiënt onder meer by 'n kliniek vir hulp aanklop en N$4 betaal, maar per ambulans verwys word na 'n hospitaal waar die pasiënt gestabiliseer en oorgeplaas word per lug of per pad na die Windhoek Sentrale Hospitaal vir hartchirugie, ontvang hy steeds al hierdie inklusiewe behandeling vir N$4.”
Masabane het beklemtoon geen dienste mag aan die pasiënt geweier word sou hy of sy nie kan betaal nie of later wil betaal.
Die uitslae van 'n studie deur die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Allergie en Aansteeklike Siektes (NIAID) het bevind remdesivir hou die meeste voordeel in vir gehospitaliseerde pasiënte wat baie ernstig siek is en aanvullende suurstof vereis.
Die studie het 1 063 deelnemers in 10 lande oor 'n tydperk van 58 dae betrek. Pasiënte het remdesivir of 'n plasebo as deel van hul behandeling ontvang. Pasiënte wat remdesivir ontvang het, het 'n korter hersteltydperk gehad. Laasgenoemde beskryf herstel om uit die hospitaal ontslaan te word. Die gemiddelde hersteltydperk was 11 dae vir remdesivir-pasiënte in vergeleke met die 15 dae vir pasiënte wat 'n plasebo ontvang het.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie