Remgro halt vir eers verkrygings
Volg konserwatiewe benadering
Francois Williams
Die beleggingsgroep Remgro hou te midde van onstuimige marktoestande sy kruit nou eers droog voordat hy groot aankope gaan doen.
Jannie Durand, uitvoerende hoof, sê dit was ’n besige jaar met die oorsese notering van Mediclinic, waarin Remgro ’n 44%-belang het, en die groep het vir die eerste keer in ’n lang tyd skuld aangegaan, so hulle is tans eers konserwatief wat verkrygings betref.
Remgro se wesensverdienste het in die boekjaar tot einde Junie met 26,4% tot R5,887 miljard gekrimp, maar dis grootliks weens eenmalige koste wat deels verband hou met die transaksie van Mediclinic om die Al Noor-hospitaalgroep oor te neem en die notering in Londen. Daar was ook aanpassings op billike waarde wat die verdienste geraak het.
As al die eenmalige en buitengewone items uitgesluit word, het Remgro se vergelykbare wesensverdienste met 2,6% tot R7,529 miljard gegroei danksy beter bedryfsprestasies by sy beleggings in die bankwese, versekering, gesondheidsorg en nywerhede.
Maar sy beleggings in RCL Foods en die vervoergroep Grindrod het swakker gevaar.
Durand sê wat RCL Foods betref, is die hoenderbedryf in ’n krisis, want dit kry geen beskerming nie. By Grindrod is die probleem bloot die skerp val in kommoditeitspryse wat die skeeps- en logistieke bedryf negatief geraak het.
Durand wou nie sê of en wanneer Remgro ’n nuwe regte-uitgifte gaan doen nie. Dit kom nadat aandeelhouers in Augustus goedkeuring gegee het vir die moontlikheid van ’n regte-uitgifte. Durand sê die struktuur is nou reg ingeval die groep wel die een of ander tyd ’n regte-uitgifte wil doen.
Oor die voorkoopreg wat Remgro het op die 26%-belang in Distell waarvan SABMiller ontslae moet raak as deel van sy samesmelting met AB Inbev, is Durand ook suinig met sy inligting. Hy sê hulle sal graag koop as die prys reg is.
’n Slotdividend van R2,75 per aandeel is verklaar, teenoor die vorige jaar se R2,59. Die dividend is betaalbaar op 21 November. Die totale dividend van die jaar is R4,60, wat 7,5% meer is as die vorige jaar.
Remgro het R1,618 miljard se verdienste gekry uit sy kos- en drankbeleggings. Terwyl RCL Foods gesukkel het met ’n val van 12,8% in verdienste, het Unilever se bydrae met 39% tot R461 miljoen gegroei. Distell se bydrae het ook verbeter tot R499 miljoen.
Sy bankbeleggings se verdienste het met 5,1% verbeter.
Mediclinic se bydrae sou met 36% gestyg het as al die eenmalige items wat met die Al Noor-transaksie verband hou, uitgelaat sou word.
Die oliemaatskappy Total se bydrae tot Remgro se verdienste het van R133 miljoen verlede jaar tot R291 miljoen gegroei. Maar as herwaardasies van voorraad uitgesny word, het die bydrae met 9,5% gekrimp, hoofsaaklik omdat die Natref-raffinadery in die vorige boekjaar so goed presteer het, maar dit nie in die afgelope boekjaar kon herhaal nie.
Remgro se intrinsieke netto batewaarde per aandeel was teen die jaareinde op R306,44, wat 6,1% meer is as ’n jaar gelede.
Die aandeelprys teen die jaareinde was R254,66, wat dui op ’n afslag van 16,9% op die netto batewaarde. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie